Deur Neels Rabe.

MotoGP

Sondag 2 Junie 2019. Die Italiaanse GP vind plaas op Mugello waar dit ‘n see van geel is om plaaslike held, Valentino Rossi, te ondersteun. Ongelukkig sukkel die Yamahas vanjaar met te min krag, terwyl Honda en tradisioneel Ducati se krag toeneem. Andrea Dovizioso demonstreer dit deur ‘n nuwe topsnelheidsrekord op te stel van 356.7km/h! Rossi kwalifiseer dus slegs agtiende, ‘n baie swak vertoning vir MotoGP se bekendste superstar. In die wedren val hy en maak nie klaar nie. Marc Marquez (Honda) kwalifiseer in die eerste posisie, met Dovizioso, sy grootste teenstander in die kampioenskap, slegs negende. Dovizioso trek egter briljant weg en in die eerste draai is hy reeds derde. ‘n Fantastiese wedren volg met Suzuki se Alex Rins wat vanaf die dertiende posisie homself opwerk tot in die voorste groep van vier motorfietse. Vir die eerste keer vanjaar sien ons Marc Marquez wat verskeie kere verby gesteek word deur die Ducatis en selfs Rins se Suzuki. Aan die begin van die laaste ronde gaan hy Dovizioso op die pylvak verby, maar hy rem effens laat. Dovizio probeer verbyglip, maar dis Ducati spanmaat Danilo Petrucci wat aan die binnekant van beide Marquez en Dovi verby wurm om sy eerste MotoGP oorwinning ooit te behaal. Wat volg is tipiese Italiaanse emosionele tonele van vreugde en trane! Marquez behou tweede posisie. Dovizioso moet hard veg in die laaste draai om die Suzuki van Alex Rins agter hom te hou. Hy verloor egter ‘n paar punte in die kampioenskap ten opsigte van Marquez.

In Moto2 het Suid-Afrika se Brad Binder ‘n moeilike wedren. Die voormalige Moto3 wêreldkampioen eindig vyftiende, met sy broer Darren tiende in die Moto3 klas.

Tydrenne

In Portugal behaal Toyota se Ott Tanak sy derde oorwinning van die seisoen. Spanmaat Kris Meeke is slegs 4.3 sekondes agter Tanak aan die begin van die laaste sneldeel. Ongelukkig doen Meeke sy reputasie as ongeluksvoël gestand deur ‘n voorwerp te tref en ‘n wiel af te breek. Hy maak dus nie klaar nie. Indien hy sy posisie behou het, sou spanmaat Tanak nou voor in die kampioenskap gewees het. Tanak is slegs twee punte agter die man wat tydrenne die afgelope 6 jaar oorheers, Citroën se Sébastien Ogier. Ogier eindig derde, net agter Thierry Neuville in sy Hyundai.

Suid-Afrikaners Internasionaal

Jordan Pepper, tesame met die Brit Steven Kane en Fransman Jules Gounon wen die Blancpain GT Uithoubeker Paul Ricard 1000 wedren in Frankryk. Pepper is deel van die Bentley span. Kelvin van der Linde (Audi) eindig agste en David Perel (Ferrari) sestiende. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Jordan Grogor (Porsche) eindig een-en-twintigste in sy debuutwedren.

Suid-Afrika se enduro ster, Wade Young op ‘n Sherco motorfiets, eindig vyfde in een van die wêreld se moeilikste enduro wedrenne, die beroemde Erzbeg Enduro in Oostenryk, met Travis Teasdale op ‘n KTM tiende. Hierdie wedren het die eerste keer in 1995 plaasgevind, en die eerste wenner was niemand anders as ons eie Alfie Cox op ‘n KTM.

%d bloggers like this: