Deur Neels Rabe.

 

Wêrelduithou-reeks: Le Mans 15–16 Junie 2019

Die 2018/2019 Wêreld-uithoureeks se “super-seisoen” loop ten einde met die klassieke Le Mans 24-uur as finale wedren. Hierdie super-seisoen het ook laasjaar se Le Mans ingesluit.

Fernando Alonso (Spanje) is die “le man” van vanjaar se Le Mans.

Soos in 2018, is dit die LMP1 Toyota van Spanjaard Fernando Alonso, Switserland se Sébastien Buemi, en Japan se Kazuki Nakajima wat wen, en daarmee ook die wêreldkampioenskap inpalm. Alonso voeg dus nog ‘n titel by sy 2005 en 2006 Formule 1 titels.

Dis egter ‘n hartverskeurende wedren vir Toyota spanmaats Mike Conway, Kamui Kobayashi en José María López. Vir 23 van die 24 ure loop hulle gemaklik voor, maar ‘n papwiel dwing hulle om ‘n onbeplande kuipestop te maak. Hul verloor egter nie hul eerste posisie nie, maar kort nadat die motor die kuipe verlaat, kom hulle agter dat die sensor wat aangedui het dat daar ‘n papwiel is, die verkeerde band uitgewys het. Dus moet die motor die lang 13.6 km Le Mans ronde stadig voltooi en weer die kuipe besoek. José López vertel dat hy al die pad terug kuipe toe gehuil het van teleurstelling.

Die grootste glimlagte op die podium was SMP Racing se Vitaly Petrov, Mikhail Aleshin, en voormalige F1 jaer Stoffel Vandoorne. Hul derde plek was soos ‘n oorwinning vir hierdie privaat jaers aangesien niemand ‘n kans gestaan het teen die Toyota fabriekinskrywing in die LMP1 klas nie.

Alonso en sy spanmaats word die eerste deelnemers sedert 1939 om ‘n 100% wen-rekord te hê vir jaers wat aan meer as een Le Mans deelgeneem het.

 

MotoGP 16 Junie 

Marc Marquez domineer ‘n dramatiese Catalunya MotoGP GP. Die groot nuus was spanmaat Jorge Lorenzo se baie groot fout tydens die tweede ronde.

Lorenzo rem effens te laat en tref Andrea Dovizioso se Ducati. Die glyende Ducati tref die Yamaha van Maverick Vinales, terwyl Lorenzo se Honda veroorsaak dat die ander Yamaha van Valentino Rossi ook val. Vir Divizioso is dit ‘n baie groot terugslag wat die kampioenskap betref omdat hy die enigste een is wat moontlik vir Marquez kan klop.

Nuweling Fabio Quartararo behaal sy eerste podium posisie in tweede na ‘n groot geveg met die Ducati van Danilo Petrucci en die Suzuki van Alex Rins.

Wat ons Suid-Afrikaners in die Moto2 klas betref, is dit ‘n moeilike wedren vir Brad Binder wat elfde eindig op sy KTM, met Steven Odendaal twee-en-twintigste op ‘n NTS.

 

Wêreld-tydrenkampioenskap (WRC) Sardinië Italië 15 en 16 Junie

Dis ‘n emosionele Dani Sordo wat sy tweede Wêreld-tydrenkampioenskap oorwinning behaal, deur die Italiaanse been van die kampioenskap in sy Hyundai i20-tydrenmotor te wen. Dit is nou die 3de oorwinning in hierdie jaar se Tydrenreeks wat die Hyundai Motorsportspan wen. Soos in die Le Mans wedren, is dit ook ‘n Toyota-span wat so amper die oorwinning behaal, maar dan probleme optel. Ott Tanak was op pad om sy derde agtereenvolgende oorwinning te behaal toe sy Toyota se kragstuur ingee tydens die laaste sneldeel van die tydren. Hy eindig slegs vyfde.

%d bloggers like this: