Neels Rabe kyk na die motorsporthoogtepunte van die week wat op Sondag 7 Julie geëindig het.

 


Suid-Afrikaners oorsee – Norisring Duitsland

Deutsche Tourenwagen Masters (DTM) – ‘n Moeilike naweek vir Sheldon Van Der Linde en Jonathan Aberdein op die Norisring, ‘n straatbaan in Nuremberg. Aberdein eindig dertiende en veertiende, terwyl Van Der Linde nie een van die wedrenne  kon voltooi nie.

In die vroue W-reeks ondervind Tasmin Pepper remprobleme tydens kwalifisering. Sy trek in die elfde posisie weg en steek ‘n paar motors verby om agste te eindig. Sy behou dus ook die agste posisie in die kampioenskap.

 

MotoGP – Sachenring (Duitsland)

Sou Marc Marquez en sy Honda ‘n tiende agtereenvolgende oorwinning op die Sachenring in Duitsland behaal? Die enigste man wat ooit tien oorwinnings op dieselfde baan kon behaal, is Yamaha superster Valentino Rossi wat tien oorwinnings op Mugello agter sy naam kan skryf. Die antwoord op die vraag is ‘n onomwonde ja! Alhoewel Maverick Vinales gesorg het dat Marquez nie heeltemal kon ontspan nie, was dit nie te min ‘n maklike oorwinning vir Marc Marquez. Vinales se tweede posisie is deels te danke aan ‘n fout van Suzuki jaer Alex Rins.  Hy val vir die tweede wedren in ‘n ry terwyl hy aan die voorpunt jaag. Die gewilde Cal Crutchlow, met ‘n erg beseerde been, slaag daarin om die podium te haal in die derde posisie. Nog ‘n man wat op die podium behoort te gewees het te oordeel aan sy spoed tydens kwalifisering, is die Fransman Fabio Quartararo op die Petronas Yamaha. Die nuweling maak egter sy heel eerste fout in MotoGP in sy negende Grand Prix, nie ‘n sleg rekord nie. ‘n Mens begin wonder of Ducati se Andrea Dovizioso nie begin spyt raak dat hy spanmaat Danilo Petrucci so baie gehelp het vanjaar met sy voorbereiding nie. Alhoewel Dovi tweede in die kampioenskap lê, veg Petrucci met hom vir die vierde posisie, en vir die tweede keer vanjaar, klop hy hom. Dit beteken dat Marquez nou ‘n volle 58 punte voor Dovi in die kampioenskap is.

In Moto2 is dit Brad Binder, wat na sy tweede plek in Nederland, baie vinnig lyk. Hy val egter tydens kwalifisering, en moet ver agter in posisie nommer 17 wegtrek. Hy veg briljant terug en eindig soos in Nederland in die tweede posisie. Die res van die seisoen behoort baie interessant te wees aangesien die KTM uiteindelik kompeterend is.

Rallycross – Swede

Weereens is daar ‘n nuwe gesig op die boonste trappie van die podium. Dis ‘n verrassende oorwinning vir Sweed Sebastian Eriksson in ‘n Ford Fiesta. Eriksson jaag nie gereeld nie, maar het dit oorweeg om vir ‘n slag aan sy tuisbyeenkoms deel te naam. Eriksson het die Maandag voor die byeenkoms sy motor gaan toets om finaal te besluit of hy vinnig genoeg gaan wees om deel te neem. Wat ‘n goeie besluit!

In die tweede posisie, en daarmee saam ook weer terug aan die voorpunt van die kampioenskap, is die jong Kevin Hansen in sy Peugeot. Derde plek word ingeneem deur nog ‘n deelnemer wat nie gewoonweg aan die wêreldkampioenskap deelneem nie, Europese kampioen Reinis Nitiss (Hyundai)

Kevin Hansen is nou ses punte voor sy broer Timmy, met Andreas Bakkerud steeds derde. Bakkerud (Audi) het ongelukkig in die semi-finaal uitgeval het weens meganiese probleme.

WSB – Donington Park (England)

Kawasaki wêreldkampioen Jonathan Rea begin die naweek 16 punte agter Ducati se nuwe ster, Alvaro Bautista. Bautista oorheers die eerste deel van die seisoen, en vir ‘n ruk lyk dit of hy die kampioenskap met die grootste gemak gaan wen na 11 agtereenvolgende oorwinnings. Hy vaar egter nie so goed in nat wedrenne nie, en dis hier waar Rea begin inhaal het. Op Donington Park wen Rea egter al drie wedrenne, en sluit die naweek vir die eerste keer in 2019 af as kampioenskapvoorloper.

 

ReplyForward
%d bloggers like this: