Deur Neels Rabe.

 

Kruisrenne is op 4 Februarie 1967 op die Lydden Hill wedrenbaan in Engeland gebore. Die huidige Wêreld Kruisrenkampioenskap, wat maar in slegs sy vyfde seisoen is, het dus ook die afgelope vier jaar Lydden Hill besoek tydens die Britse rondte van die kampioenskap. In 2018 word Lydden Hill egter verruil vir ‘n splinternuwe baan – Silverstone. Wedrenne word gekombineer met uitstallings, musiekkonserte en talle ander vorme van vermaak.

Soos gewoonlik stel die hoof rolspelers, die wêreld kruis-renjaers, nie teleur nie. Die grootste besprekingspunt is die botsing tussen PSRX Racing VW Polo spanmaats, Johan Kristoffersson en Petter Solberg tydens die eerste semi-finaal. Kristoffersson trek aan die binnekant weg, maar Solberg is ‘n halwe motorlengte voor in die eerste draai. Solberg neem aan hy is ver genoeg voor om eerste in te draai terwyl Kristoffersson glo dat hy nog ‘n kans het om later as Solberg te rem. Die resultaat is ‘n sekonde of twee se hewige aksie met motors en bande wat in alle rigtings spat. Die rooivlag dui aan dat die spul stout seuns weer sal moet begin.

‘n Duidelik ongelukkige Solberg se motor word in die toegelate 2 minute voldoende herstel, terwyl Kristoffersson ook slaggereed is om vir die finaal te probeer kwalifiseer. Hierdie keer gedra almal hulleself, maar op rondte twee is dit Solberg wat aftrek met ‘n siek motor. Wonder bo wonder wen Kristoffersson die semi-finaal. Die tweede semi-finaal is dit Loeb wat oorheers en sorg dat hy weereens vir die finaal kwalifiseer. Gaan hy sy Portugese oorwinning herhaal?

Ongelukkig los hy die koppelaar bietjie te vinnig tydens die wegtrek en kom sesde en laaste by die eerste draai aan. Tog jaag hy meesterlik en op die voorlaaste rondte steek hy ook Mattias Ekström in sy Audi verby om sy vierde agtereenvolgende podium te behaal. Dit gaan heelwat beter met Ekström se nuwe spanmaat vir 2018, Andreas Bakkerud, wat sy eerste podium met die Audi behaal. Dis egter Johan Kristoffersson wat sy derde oorwinning in vier byeenkomste behaal om sy voorsprong in die kampioenskap te vergroot. Dit kon egter net sowel Loeb in sy Peugeot gewees het. Dit beloof om ‘n baie opwindende seisoen te wees.

  1. Johan Kristoffersson (Volkswagen Polo R)
  2. Andreas Bakkerud (Audi S1)
  3. Sébastien Loeb (Peugeot 208)
  4. Mattias Ekström (Audi S1)
  5. Niclas Grönholm (Hyundai 120 R)
  6. Kevin Hansen (Peugeot 208)

 

2018 Kampioenskap na afloop van 27 Mei:

  1. Johan Kristoffersson (Volkswagen Polo R)  –  105
  2. Sébastien Loeb (Peugeot 208)  –  91
  3. Andreas Bakkerud (Audi S1)  –  83
  4. Mattias Ekström (Audi S1)  –  80
  5. Petter Solberg (Volkswagen Polo R)-  80
  6. Timmy Hansen (Peugeot 208)  –  71

Die volgende rondte is 9-10 Junie in Norweë.

%d bloggers like this: