Deur Neels Rabe.

Thierry Neuville is die man wat in 2017 soveel belofte getoon het in sy Hyundai, maar het op meer as een geleentheid oorwinnings weggegooi deur onnodige foute. In 2018 toon hy egter dat hy uit sy foute geleer het. ‘n Welverdiende oorwinning in Portugal, sy tweede vir die seisoen, besorg aan hom die voortou in die 2018 kampioenskap. Sneldeel 7 was egter die laagtepunt vir sy Hyundai spanmaats. Die voorloper op daardie stadium,Hayden Paddon, maak ‘n groot ongeluk en beland in die hospitaal as voorsorg. Andreas Mikkelsen val ook uit weens meganiese probleme.

Vir M-Sport is dit ‘n tydren met gemengde resultate. Hul stêr renjaer, vyf keer wêreldkampioen Sebastien Ogier maak ‘n ongeluk in sneldeel 5.  Spanmaat Elfyn Evans eindig egter in ‘n uitstekende tweede plek, terwyl die 24-jarige Fin Teemu Suninen sy debuut podium behaal in sy M-Sport Ford Fiesta.

Toyota se wenner in Argentinië, Ott Tanak, begin goed deur voor te loop, maar tel reeds in sneldeel twee ‘n tegniese probleem op. In die volgende sneldeel breek spanmaat Jari-Matti Latvala sy suspensie toe hy ‘n groot klip tref. Die oorblywende Toyota van Esapekka Lappi  krap die spreekwoordelike kastaïngs uit die vuur deur vierde te eindig.

In sneldeel 12 eindig Citroen se Kris Meeke ook in die hospitaal nadat hy die Citroen se bou-kwaliteit tussen bome langs die roete “toets”, gelukkig sonder werklike beserings.

Portugal 2018 uitslag:

  1. Thierry Neuville  –  Hyundai i20 Coupe WRC
  2. Elfyn Evans  –  M-Sport Ford Fiesta
  3. Teemu Suninen  –  M-Sport Ford Fiesta
  4. Esapekka Lappi  –  Toyota Yaris Gazoo Racing
  5. Dani Sordo  –  Hyundai i20 Coupe WRC

2018 Kampioenskap na afloop van 20 Mei

  1. Thierry Neuville (Hyundai Shell Mobis)  –  119
  2. Sebastien Ogier (M-Sport Ford)  –  100
  3. Ott Tanak (Toyota Gazoo Racing)  –  72
  4. Danny Sordo Citroen (Hyundai Shell Mobis)  –  58
  5. Esapekka Lappi (Toyota Yaris Gazoo Racing)  –  57

Volgende rondte is Sardinië 7 – 10 Junie 2018.

%d bloggers like this: