Motorsportverslag

0 Comments

Deur Neels Rabe.

F1: Hongaarse Grand Prix – rondte 12 (29 Julie 2018)

Weereens is dit Lewis Hamilton wat ‘n perfekte naweek in Hongarye beleef. In moeilike omstandighede Saterdag behaal hy voorste wegspringposisie nommer 77 – die meeste deur enige renjaer ooit. Sondag sit hy nie ‘n voet/wiel verkeerd nie en oorwinning nommer 67 is die resultaat. Daarmee vergroot hy sy voorsprong oor Sebastian Vettel (Scuderia Ferrari) om die F1 somervakansie in die ideale posisie binne te gaan.

Vir Ferrari is dit aan die een kant nie ‘n sleg naweek nie. Vettel en Kimi Raikkonen neem die ander podium-posisies in, maar met die beter motor op hierdie stadium, moet hul sekerlik wonder wat hulle nog moet doen om Hamilton te klop.

Valtteri Bottas doen sy bes om die Ferraris agter hom te hou in die laaste deel van die wedren, maar sy ou bande maak dit bykans onmoontlik. Hy bots met beide Vettel en die Red Bull van Daniel Ricciardo in ‘n poging om voor te bly, maar moet op die ou einde tevrede wees met vyfde plek. Daniel Ricciardo se vierde plek is ‘n baie goeie resultaat nadat hy slegs twaalfde kwalifiseer.

1  Lewis Hamilton  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport

2 Sebastian Vettel –  Scuderia Ferrari

3  Kimi Raikkonen  –  Scuderia Ferrari

4  Daniel Ricciardo  –  Aston Martin Red Bull Racing

5  Valtteri Bottas  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport

 

2018 F1 Kampioenskap na afloop van 22 Julie 2018:

1  Lewis Hamilton (Mercedes AMG Petronas Motorsport)  –  214

2  Sebastian Vettel (Scuderia Ferrari)  –  189

3  Kimi Raikkonen (Scuderia Ferrari)  –  146

4  Valtteri Bottas (Mercedes AMG Petronas Motorsport)  –  132

5  Daniel Ricciardo (Aston Martin Red Bull Racing)  –  118

Die volgende wedren is die Belgiese GP op 26 Augustus 2018.

 

Wêreld Tydrenkampioenskap ronde 8 – Finland (26 – 29 Julie 2018)

Ott Tanak besorg aan Toyota Gazoo Racing die perfekte resultaat met ‘n dominerende vertoning in een van die klassieke tydrenne op die wêreldkalender. Hy eindig 32 sekonders voor die Citroen C3 van Mads Ostberg wat aanvanklik dinge moeilik gemaak het vir Tanak. Hy word egter ingehaal deur die Toyota van plaaslike held Jari-Matti Latvala, en slaag net-net daarin om tweede te eindig met Latvala slegs 2.8 sekondes agter hom in die finale podium-posisie.

Kampioenskapvoorloper Thierry Neuville sy tydren het reeds Vrydag skeef begin loop toe sy Hyundai i20 WRC en ‘n Finse boom mekaar verkeerd verstaan het. Weens die skade en tyd wat hy verloor het, eindig hy slegs negende. Hy behou egter sy voorsprong in die kampioenskap aangesien die Fransman Sebastien Ogier slegs vyfde in sy Ford eindig.

  1. Ott Tänak  –  Toyota Gazoo Racing
  2. Mads Ostberg  –  Citroen C3
  3. Jari-Matti Latvala  –  Toyota Gazoo Racing
  4. Hayden Paddon  –  Hyundai i20 Coupe
  5. Sebastien Ogier  –  M-Sport Ford

2018 Wêreld Tydrenkampioenskap na afloop van 29 Julie 2018

  1. Thierry Neuville (Hyundai Shell Mobis)  –  153
  2. Sebastien Ogier (M-Sport Ford)  –  132
  3. Ott Tänak (Toyota Gazoo Racing)  –  107
  4. Esapekka Lappi (Toyota Yaris Gazoo Racing)  –  70
  5. Danny Sordo Citroen (Hyundai Shell Mobis)  –  60

Volgende rondte is Duitsland 16 – 19 Augustus 2018.

Suid-Afrikaners op die wêreld motorsport-toneel

Die Blancpain GT reeks se Spa 24-uur uithouwedren is een van die ikoniese wedrenne vir uithouwedren geesdriftiges. Die Johannesburg-broers, Kelvin en Sheldon van der Linde, en hul Switserse spanmaat Jeffrey Schmidt, eindig derde algeheel in hul Land-Motorsport Audi R8 LMS. Hierdie twee se reputasie groei wedren na wedren, en ons kan verwag dat hul waarskynlik eendag die eerste Suid-Afrikaners in ‘n lang tyd gaan wees om Suid-Afrika tydens die Le Mans 24-uur wedren te verteenwoordig.

Maar dis nie al nie! Die man van Kaapstad, David Perel, wat met sy eie spaargeld die wêreldtoneel enkele jare gelede aangedurf het, en wat vanjaar in die Pro-Am kategorie deelneem, wen die klas tesame met spanmaats Alexander Mattschull, Rinat Salikhov en Daniel Keilwitz, in hul 333 Rinaldi Racing Ferrari 488 GT3.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: