Deur Neels Rabe.

Robert Kubica, in sy rol as die Williamsspan se toetsbestuurder, maak vir die eerste keer sy verskyning tydens ‘n Grand Prix naweek sedert die 2010 Abu Dhabi Grand Prix. Hy het net aan die eerste oefensessie deelgeneem in Sergey Sirotkin se Williams. Tog is hy dadelik 1.2 sekondes vinniger as Lance Stroll in die ander Williams. Kubica se F1 loopbaan is kortgeknip as gevolg van ‘n tydrenongeluk op 6 Februarie 2011.

Op aanvraag van Mercedes, McLaren en Ferrari ontwikkel Pirelli nuwe bande waarvan die rubber dunner is as gewoonlik. Dit is bedoel vir bane soos Catalunya waar daar lang hoë-spoed draaie is. Tydens die winter toets op die Catalunya-renbaan het die Pirelli bande blasies gevorm. Die kombinasie van motor en bande speel ‘n kardinale rol in ‘n F1 motor se werkverrigting. Verdere faktore wat ‘n invloed het, is die temperatuur asook die toestand van die baan se oppervlakte.

Toestande pas Mercedes en Lewis Hamilton behaal voorste wegspringposisie nommer 74. Spanmaat Valterri Bottas sorg dat Mercedes die voorste ry domineer. Die tweede ry behoort aan die Ferraris.  Sebastian Vettel kan slegs die derde vinnigste tyd opstel nadat hy die afgelope paar wedrenne oorheers het. Die derde ry is Red Bull gebied met Verstappen twee duisendstes voor spanmaat Ricciardo.

Hamilton het die perfekte wegtrek om dadelik die voortou te neem. In die eerste draai keer Bottas dat Vettel hom aan die binnekant verby steek. Dit keer Vettel egter nie om aan die buitekant verby te steek nie! Hamilton slaag daarin om sy motor se bande sodoende te spaar dat hy net een keer hoef te stop vir nuwe bande. Vettel is nie so gelukkig nie, en sy tweede besoek aan die kuipe kos hom ‘n podium posisie.

Vir die huidige kampioen, Lewis Hamilton, is dit die dertigste agtereenvolgende wedren waarin hy punte aanteken. Dis ook die tweede jaar in ‘n ry wat hy die Spaanse GP wen. Fernando Alonso, Vettel en Hamilton is die enigste jaers wat nog in elke wedren in 2018 punte kon aanteken. Die eerste vyf jaers wat verby die geruite vlag gejaag het is:

  1. Lewis Hamilton  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport
  2. Valtteri Bottas  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport
  3. Max Verstappen  –  Aston Martin Red Bull Racing
  4. Sebastian Vettel  –  Scuderia Ferrari
  5. Daniel Ricciardo  –  Aston Martin Red Bull Racing

2018 F1 Kampioenskappunte na afloop van 13 Mei:

  1. Lewis Hamilton (Mercedes AMG Petronas)  –  95
  2. Sebastian Vettel (Scuderia Ferrari)  –  78
  3. Valtteri Bottas (Mercedes AMG Petronas)  –  58
  4. Kimi Raikkonen (Scuderia Ferrari)  –  48
  5. Daniel Ricciardo (Aston Martin Red Bull Racing)  –  47

Die volgende wedren is die Monaco GP op 27 Mei 2018

%d bloggers like this: