Mustang Mach 1 is terug!

0 Comments

Na ‘n afwesigheid van sewentien jaar is daar weer ‘n Mach 1-model in Ford se Mustang-reeks.

Ford se operasionele hoof, Jim Farley, lê veral klem op die Mach 1 se opvallende stilering, vinnige versnelling en hoë topsnelheid; volgens hom was die vorige modelle nog altyd dié wat glimlagte op die gesigte van motor-liefhebbers soos hy self geplaas het en hy glo die tyd was nou reg om die Mach 1 te laat herleef en in markte oral in die wêreld bekend te stel.

Die eerste Mach 1 is in 1969 bekendgestel en hierdie model het 295 snelheids- en uithourekords by die Bonneville-soutpanne opgestel. Sy verbeterde hantering in vergelyking met die gewone modelle het gemaak dat spanne wat met die Mach 1 deelgeneem het, in 1969 en 1970 agtereenvolgende SCCA vervaardigers-tydren kampioenskappe gewen het.

Soos met die oorspronklike model vul die Mach 1 die gaping tussen die Mustang GT en die Shelby-modelle; hy lewer V8-krag en werkverrigting, unieke aërodinamiese hulpmiddels, verbeteringe aan die veerstelsel wat hom meer geskik maak vir motorsport en ‘n paneelbord wat op die bestuurder fokus.

Die nuwe Mach 1 sal die model wees wat die mees geskikte vir ‘n renbaan tot nog toe was; as gevolg van ‘n nuut ontwerpte vooraansig, werkverrigtings-onderdele wat uit die Shelby GT 350 en 500 kom, en ‘n hanterings-pakket wat padhouvermoë onder uiterste omstandighede verder verbeter, as ‘n opsionele ekstra.  Die V8-enjin van vyf liter is spesiaal vir die Mach 1 aangepas, hierdie enjin lewer 358 kW teen 7 000 opm en wringkrag van 570 Nm teen 4 600 opm.  Onder die onderdele wat van die Shelby GT 350 afkomstig is, is dieselfde inlaat-spruitstuk en ‘n enjin-olieverkoeler wat verkoeling met tot 50% verbeter. Die Mach 1 het ‘n sesgang-handratkas as standaard toerusting, met die Mustang GT se dubbelskyf- koppelaar en ‘n kort rathefboom met ‘n knop wat aan ‘n snoekerbal herinner. Die ander keuse is ‘n outomatiese ratkas met tien gange; vir die Mach 1 is die koppelomsetter aangepas en die ratkas is ingestel om optimale wringkrag te verseker en werkverrigting te verbeter. Daar is ook ‘n tweede verkoeler wat die verkoelings-kapasiteit met tot 75% verbeter.

Aan die buitekant is daar ‘n sierrooster wat baie aan dié van die oorspronklike Mach 1 herinner; met ‘n diep 3 D-gaasontwerp en voorste luguitlate in die hoeke; onder die rigtingwysers en onder die sierrooster. Daar is ‘n keuse van 19-duim allooiwiele wat 9,5 of 10 duim breed is en motors met die hanterings-pakket, wat net met die handratkas beskikbaar is, toegerus word, kry unieke 19 duim-allooiwiele wat voor 10,5 en agter 11 duim breed is.  Satynswart strepe op die enjinkap en aan die kante is in rooi, wit of oranje beskikbaar vir motors wat met die voorkomspakket toegerus is. Benewens die grys kleur wat net vir hierdie pakket beskikbaar is, kan kopers ook kies tussen kleure soos silwer, swart, wit, blou, oranje, rooi en geel.

Binne is daar ‘n donkergrys paneelbord met aluminium-aksente, swart sitplekke met ‘n aksentstreep, nuwe skermplate aan die binnekant van die deure en ‘n gegraveerde kenteken wat die motor se onderstel-nommer aantoon.

Die ontwerpers en ingenieurs het saamgewerk om ‘n nuwe vooraansig wat eie aan die Mach 1 is, te skep; nie net om die Mach 1 ‘n eiesoortige persoonlikheid te gee nie, maar ook  aan hoër vereistes vir die enjin, ratkas en remstelsel te voldoen. Daar is ‘n nuwe sierrooster in twee dele, ‘n onderste rooster en onderste luguitlate wat die motor van sy stalmaats onderskei. Daar is ook ‘n voorste drukvin en ‘n bypassende agterste drukvlerk wat werkverrigting op die renbaan verbeter. 

Verdere besonderhede oor die moontlike bekendstelling van die Mach 1 in Suid-Afrika sal later bekendgemaak word.

Categories:
%d bloggers like this: