Naamsa-verkoopsyfers Februarie 2019

0 Comments

Verkope daal

Gemeet teenoor Februarie 2018 se totale voertuigverkope van 46 267 eenhede is pessimisme aan die toeneem soos weerspieël in Februarie 2019 se totale voertuigverkope van 43 251 eenhede.

Passasiersmotors het slegs 27 000 verkope behaal wat 4 139 eenhede oftewel 13.3 persent minder was as ‘n jaar gelede. Dink ook daaraan dat die verhuringsbedryf se aankopebydrae 14.3 persent van die totaal was – wat ‘n verdere aanduiding is dat gewone Suid-Afrikaanse verbruikers begin wurg.

Een ligpuntjie was darem ligte handelsvoertuie (bakkies en paneelwaens) met verkope van 14 123 wat 7.1 persent beter was as ‘n jaar gelede.

Onder die gebruiklike Top Tien-markleiers was Toyota oudergewoonte die voorloper met 10 412 verkope was sowat 800 minder was as in Januarie. Weer eens was Hilux (3 504) die topverkoper met goeie resultate deur Fortuner (950) en Etios op 660. In die verlede is Corolla/Auris/Quest saamgevoeg, maar hierdie modelle word nou afsonderlik aangedui met Quest op 715 aan die bopunt. Toyota sal ook verheug wees dat sy Lexus-reeks uiteindelik met 121 verkope Jaguar se 80 verkope oortref het. Die Lexus UX (46) het ‘n groot rol gespeel in hierdie ommeswaai.

Volkswagen (7 475) beklee steeds die tweede plek en die onderskeiding dat sy Polo Vivo (2 692) die topverkoper passasiersmotor is, gevolg deur Polo op 1 605. Die Tiguan, met 516 verkope het ook aansienlik beter gevaar as Toyota se RAV (332). Die groep se Audi-divisie het ook gemaklik die 500-kerf gehaal.

Dis egter in die gestoei om derde plek waar Nissan (4 715) sy neus voor Ford (4 487) gekry het – om die Januarie-rangorde op sy kop te laat beland.

Nissan se presteerders was die intreevlak Datsun GO (529), die puik nuwe Micra – wat beter behoort te doen as sy redelik beskeie 182 verkope, en sy topverkoper sub-eentonner NP200 wat ‘n skitterende 1 999 verkope behaal het. Die NP300 se 833 verkope was self redelik, maar die Mercedes-Benz X-klas se nefie, die Navara, kon net 111 kopers se harte verbly.

Ford klou krampagtig vas aan sy Ranger om goeie verkopesyfers te behaal – en die 2 578 totaal is die bewys. Ander Ford-produkte wat harte in Silverton verbly is Figo (493), en EcoSport (456). Die Kuga karring maar aan met 83 verkope, en die Mustang (18) doen darem elke maand dubbelsyfers.

Hierna volg daar ‘n redelike sprong onder die Top Tien met Hyundai (2 809) wat ook goed vaar met sy goedkoper produkte soos Grand i10 (901), i20 op 542 verkope en Creta met 275 verkope. Duurder modelle soos Santa Fe (31) sukkel om indruk te maak, maar H1 se 88 verkope is aansienlik beter as Volkswagen se Caravelle/Kombi wat saam maar 62 verkope kon aanteken.

In die sesde plek stu Renault sterk vooruit met 1 986 verkope – weer eens gedra deur die intreevlak Kwid met ‘n uitstekende 1 069. Sandero II (332) kon darem ook ‘n handjie bysit, terwyl Clio IV se 194 verkope die opposisie op hulle plek gehou het.

In die sewende plek algeheel het Isuzu (1 489) sterk gesteun op die ou KB (195), D-MAX (991), en MU-X met 31 verkope.

Mercedes-Benz het homself van die grond af opgetel en sy tiende plek algeheel verbeter tot agtste met 1 295 verkope – sonder om te laat blyk wie wat gekoop het.

BMW is kort op Mercedes-Benz se hake met 1 193 verkope – gerugsteun deur die plaaslik vervaardigde X3 (156), 3-Reeks op 297 verkope, en 130 nuwe eienaars wat vir die X5 gestem het. Hierdie vertoning is veral merkwaardig wanneer in gedagte gehou word dat BMW in Januarie nie die Top Tien-lys kon haal nie.

In die laaste plek – en twee plekke swakker as in Januarie – bly Mazda steeds redelik stewig staan met 1 169 verkope. Mazda se presteerders is CX-5 (401), CX-3 (309) en Mazda2 met 222 verkope.

Die groot verloorder onder die Top Tien is KIA wat nie die Februarielys kon haal nie, ondanks 1 082 verkope. Dis slegs ‘n kortkop voor Suzuki se 1 039.

Van laasgenoemde gepraat: Daar word gesê die uiters gewilde nuwe Jimny het verlede maand net 16 verkope aangeteken. Dit verteenwoordig een uur se produksie in die Japanse aanlegte wat volstoom werk om aan die vraag te voldoen! Die afleiding? Suid-Afrika word afgeskeep wat verskaffing betref, al is daar glo ‘n waglys wat tot in April aanstaande jaar strek. Hoe lank kopersgeduld gaan hou bly ‘n ope vraag.

Onder die “buitestaander” invoerders wat veral op ryk kopers ingestel is, het Bentley goed presteer met 8 verkope, Maserati met 5, Lamborghini met 10 verkope, en Audi R8 met drie trotse nuwe eienaars. Niemand wou klaarblyklik ‘n Ferrari koop in Februarie nie.

Na ‘n redelike stil Januarie vir Porsche (97) het hierdie premium ververvaardiger ‘n uitstekende 130 verkope in Februarie aangeteken, terwyl Jaguar/Land Rover sal wil verbeter op 342 verkope. Volvo sal ook beter wil doen as die beskeie

82 verkope, terwyl dit sokkies optrek-tyd is vir Subaru (91) en Peugeot/Citroën (62).

Benewens die feit dat Februarie ‘n kort sakemaand is, is die tendens duidelik: Mense koop goedkoper motors. Daar is ‘n verkiesing op hande en wilde beloftes wat die ekonomie kan skaad, is aan die orde. Sterk uitvoere sal die bedryf bystaan in hierdie moeilike tyd.

 

 

TOP TIEN PASSASIERSMOTORS

1. Volkswagen Polo Vivo 2 692

2. Volkswagen Polo 1 605

3. Renault Kwid 1 069

4. Hyundai Grand i10 901

5. Toyota Quest 715

6. Toyota Etios 660

7. Hyundai i20 542

8. Datsun GO 529

9. Ford Figo 493

10. Suzuki Swift 480

 

TOP TIEN LIGTE HANDELSVOERTUIE

1. Toyota Hilux 3 504

2. Ford Ranger 2 578

3. Nissan NP200 1 999

4. Toyota Quantum 1 478

5. Isuzu D-MAX 991

6. Nissan NP300 833

7. Volkswagen Amarok 495

8. Hyundai H100 297

9. Mahindra Scorpio PU 226

10. Toyota Land Cruiser PU 224

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: