Nadat Suid-Afrikaanse bakkie-liefhebbers lank moes wag, is Nissan se nuwe Navara uiteindelik bekendgestel.

Daar sal aanvanklik net drie vierwielaangedrewe dubbelkajuitmodelle beskikbaar wees, maar die res van die reeks behoort binne ses maande op die vertoonlokale te pronk..

Die Navara stel Nissan se nuwe ontwerp-rigting bekend; daar is ‘n rooster met ‘n V-patroon, en dié patroon is ook op die agterklap sigbaar. Daar is volle LED-kopligte en die hele reeks het ook dagryligte. Die LE-modelle, die hoogste spesifikasievlak het ook rigtingwysers, wat in die tru-spieëls ingebou is. Daar is ‘n swart B-pilaar en die dak is 20 mm laer om aërodinamiese doeltreffendheid te verseker. Daar is ook getinte glas, kanttrappe en allooiwiele van sestien of agttien duim, afhangende van die sepsifikasievlak.

Byna elke funksionele aspek van die Navara is verbeter. Die vragdra-kapasiteit is aansienlik verhoog en die nuwe model se sleepkapasiteit is 3,5 ton. Die leerraam-onderstel is versterk deur die gebruik van hoësterkte-staal, maar die gebruik van nuwe tipes staal en verbeteringe in die ontwerp en vervaardiging het gesorg vir ‘n massavermindering van 176 kg. Die meeste hiervan het onder die enjinkap en in die kajuit plaasgevind, maar die grootste vermindering het by die onderstel en die boonste gedeelte van die bakwerk voorgekom.

Die aanvanklike modelle in die Navara-reeks word almal toegerus met ‘n spinternuwe 2,3 liter vier-silinder dieselenjin wat met twee turbo-aanjaers toegerus is. Die eerste vanhierdie turbo’s werk teen laer enjinsnelhede om turbotraagheid uit te skakel. Die tweede turboaanjaer skop teen hoër enjinsnelhede in; hierdie kombinasie van turbo’s sorg vir meer krag teen alle enjinsnelhede en verhoogde brandstofverbruik. Dié enjin lewer 140 kW teen 3 750 omwentelinge en wringkrag van 450 Nm, wat tussen 1 500 en 2 500 omwentelinge beskikbaar is. Die gemiddelde brandstofverbruik is 6,5 liter per 100 km en dit maak ‘n tenkafstand van meer as 1000 km met die 80 liter-brandstoftenk moontlik.

Motorplus is beïndruk met die nuwe agterste kronkelveerstelsel met vyf skakels wat vir die eerste keer in ‘n bakkie in hierdie klas gebruik word. Hierdie stelsel kombineer die vragdra-vermoë wat ‘n mens van ‘n bakkie behoort te verwag met die rygerief wat met ‘n sportnutsvoertuig geassosieer word. Dit verseker verbeterde padgedrag, rygerief, selfs op grondpaaie en beter vastrap deur vinnige draaie.  Die vierwielaandrywingstelsel kombineer ‘n oordraratkas met verskeie elektroniese hulpmiddels, wat veldryvermoë aansienlik verbeter. Daar is ‘n draaiknop in die moddelste konsole waarmee daar van twee- na vierwielaandrywing oorgeskakel kan word; die bestuurder kan teen ‘n snelheid van tot 100 km/h tussen hoë- en laestrek skakel. In albei vierwielaandrywingsmodusse  word die nuwe vastrapewenaarstelsel in werking gestel. Hierdie stelsel bestuur kragverspreiding en wielremming tussen die voor- en agterasse en tussen die linker- en regterkant van die voertuig, afhangende van vastrap en snelheid.  Hierdie stelsel werk ook met die Vehicle Dynamic Control, die vastrapbeheer waarmee die Navara toegerus is, en daar is ook sluitweer-remme. Dit alles bewerkstellig vasvoetigheid op die pad en in die veld. Die luukser modelle het ook wegtrekhulp teen opdraendes en hulp om teen steil afdraendes te ry.  Dit alles word aan die vastrap-ewenaar gekoppel.

Daar is twee ratkaste beskikbaar, naamlik ‘n handratkas met ses gange en ‘n outomatiese een, met ratverhoudings wat gekies is om die wringkraglewering van die nuwe enjin optimaal te benut en ‘n handratfunksie bied.

Die Navara bied een van die bes toegeruste binnekante van enige bakkie op die mark. Hoewel die afmetings nie veel van sy voorganger verskil nie, maak die groter deure dit makliker om in en uit te klim.

Daar is ‘n nuwe instrumentepaneel en die hele reeks het ‘n raakskerm met satellietnavigasie as standaardtoerusting.  Die kaarte van hierdie stelsel is in 3D, en bevat verkeersverslae en ‘n radio wat op een van dertig stasies ingestel kan word. Daar kan ook na videomateriaal in verskeie formate, onder meer DVD, VCD, MP 3 en MPEG 4-formaat gekyk word; terwyl daar ook USB-poorte en Bluetooth-verbinding is. In die instrumentepaneel is daar ook ‘n uitleespaneel waartoe die bestuurder toegang kan kry deur middel van kontroles op die stuurwiel. Die voorsitplekke op die nuwe Navara is ‘n nuwe ontwerp wat liggaamsdruk op die sitplekoppervlakte versprei en moegheid oor lang afstande uitskakel.’Verhitbare leersitplekke met elektriese verstelling aan die bestuurderskant is teen ekstra koste op die luukse modelle beskikbaar.

Een van die voordele van ‘n omvattende plaaslike toetsprogram is die feit die grootste reeks bykomstighede tot nog toe vir ‘n nuwe Nissan saam met die nuwe Navara bekendgestel word en dat eienaars hul voertuie van die begin af daarmee kan laat toerus. Hierdie bykomstighede sal onmiddellik beskikbaar wees. Onder die bykomstighede is verskillende bosbrekers, onder meer dié wat die hele voorste stamper vervang en waaraan ‘n wenas gemonteer kan word, trekstange, seiltjies, sitplekoortreksels, Vir  dié wat ernstig is oor veldry kan ook ‘n swaardiens-opgradering vir die veerstelsel kies, asook pasgemaakte swart XD-wiele met veelterreinbande.

Die Navara kry die Nissan Assured-waarborg en diensplan as standaardtoerusting. Die waarborg is vir ses jaar of 150 000km  geldig en die diensplan vir drie jaar of 90 000km.  Die reeks bestaan uit die volgende modelle; die SE-dubbelkajuit teen R 514 900, die LE-dubbelkajuit teen R 565 900 en die LE-dubbelkajuit met die outomatiese ratkas teen R 597 700. Die LE-modelle ios ook beskikbaar met leerbekleedsel, teen R 13 000 ekstra.

Nissan sal die reeks later vanjaar  uitbrei met die bekendstelling van 4×2-dubbelkajuitmodelle, terwyl enkelkajuit- en King Cab-modelle ook later sal volg.