Net 1000 van Rolls-Royce se 1/18 skaal van die Cullinan

0 Comments

Rolls-Royce bied ook uitnemendheid in klein skaal.

As jy nie kan ry nie, kan jy darem speel. Met die COVID 19-pandemie kan mense dalk nie hul motors ten volle benut of geniet nie, maar Rolls-Royce het pas vorendag gekom met iets wat selfs in die gemak van ‘n sitkamer geniet kan word.

Dié maatskappy het sopas 1:8-skaal replikas van sy Cullinan-sportnutsvoertuig bekendgestel, met elke kenmerk wat tot in die fynste detail weergegee word.

Sir Henry Royce, die medestigter van Rolls-Royce, het blykbaar gesê klein dingetjies sorg vir volmaaktheid, maar volmaaktheid is niks kleins nie.

Hierdie replikas is baie meer as net modelle: elke Cullinan-replika word uit meer as ‘n duisend individuele komponente volgens klante se presiese behoeftes met die hand gebou. Hierdie proses kan tot 450 ure duur; meer as die helfte van die tyd wat dit neem om ‘n volgrootte- Cullinan by Rolls-Royce se tuiste in Goodwood in die weste van Sussex te vervaardig.

Die replikas word met die hand geverf  deur middel van Rolls-Royce se kleurgepaste verf, waarna dit met die hand volgens die maatskappy se uiters streng standaarde gepoleer word. Die kantstrepe word met ‘n fyn kwas aangebring, soos wat met die volgrootte- Cullinan die geval is. Voornemende klante kan een van 40 000 kleure, of hul eie afwerking, kies. Die buitenste ligte is ten volle funksioneel en werk met ‘n afstandbeheer, terwyl ‘n perfekte replika van die Cullinan se 6,75 liter V 12-enjin met twee turbo-aanjaers onder die enjinkap te sien is.

Wanneer die deure oopgemaak word, is daar verligte skermplate, terwyl die binnekant met dieselfde materiaal, vakmanskap en aandag as die volgrootte-Cullinan gehanteer word. Hierdie replikas stel kopers in staat om presiese weergawes van hul motors te herskep of om motors wat hulle dalk in die toekoms by hul versamelings wil voeg, te skep.

Die motors word in ‘n vertoonkassie van ‘n meter lank ten toon gestel op ‘n staander, wat sorg dat die motor vanuit alle hoeke besigtig kan word.

 

Die volgrootte Rolls-Royce Cullinan.

Die uitvoerende hoof van Rolls-Royce Motor Cars, Torsten Müller Otvös, sê hierdie skaalmodel bring ‘n nuwe dimensie na die Cullinan se “Effortless Everywhere”-filosofie.  Volgens hom is die Cullinan nou net soveel op sy gemak in die eienaar se huis as in die mees uitdagende terrein op aarde.  Dit herinner die maatskappy ook daaraan dat grootheid op elke skaal moontlik is; dit gaan nie net oor die groot dinge in die lewe nie, maar ook om selfs in die kleinste dinge, na uitnemendheid te streef.

 

Lees meer oor die ware Jacob hier.

Categories:
%d bloggers like this: