Breaking News

Net 90 Ford Mustang Mach 1’s op pad na Suid-Afrika

In Augustus 1968 het Ford ‘n nuwe model vir die 1969-modeljaar by die Mustang-reeks gevoeg.

Die Mustang Mach 1 het aanvanklik ‘n seweliter Cobra Jet V8-enjin gehad wat hom van sy mindere stalmaats onderskei het, en omdat GT, volgens die vervaardiger nie die boodskap van verbeterde werkverrigting goed genoeg oorgedra het nie, is die Mach 1-modelbenaming gekies. Die Mach 1 was so suksesvol dat die GT-model aan die mark onttrek is en bykomende enjin keuses, onder meer die 5,7 liter V8-enjin wat in die Suid-Afrikaanse Fairmont GT gebruik is, asook ‘n 6,4 liter V8-enjin ook later beskikbaar was. Toe die tweede geslag Mustang, die minder suksesvolle Mustang II, in 1973 bekendgestel is, was ‘n Mach 1 weer deel van die reeks, maar hierdie keer was daar net ‘n keuse tussen ‘n 2,8 liter V6 – en ‘n vyfliter V8-enjin. 

Met die derde geslag se bekendstelling in 1978 is die Mach 1 aan die reeks onttrek, maar in 2003 het die Mach 1-modelnaam herleef met ‘n nuwe model met ‘n V8-enjin van 4,6 liter. In 2004 het hierdie model geringe veranderinge ondergaan, maar dit was die laaste Mach 1 totdat die huidige model vroeër in 2021 sy debut gemaak het.

Ford Suid-Afrika het aangekondig dat 90 eenhede van die nuwe Mustang Mach 1, wat die gaping tussen die gewone 5,0 GT en die meer gespesialiseerde Shelby-modelle vul, na Suid-Afrika sal kom. Volgens die maatskappy het die groot belangstelling in die onlangse Mustang Bullitt gewys dat Suid-Afrikaanse motoriste van eksklusiewe, beperkte Mustang-modelle hou, en die Mach 1 beloof om op hierdie sukses voort te bou.

Die nuwe Mach 1 spog met ‘n nuwe vooraansig en verrigtingsonderdele uit die Shelby-modelle; dit maak hom meer geskik op die renbaan as die 5,0 GT, wat nou die standaard model in Suid-Afrika is nadat die 2,3 Eco Boost aan die mark onttrek is. Die Mach 1 -sierrooster bring hulde aan die oorspronklike model, en daar word ruim gebruik gemaak van donkergrys en swart afwerking. Aan die agterkant is daar ‘n drukvlerk en ‘n lugverdeler soos die een waarmee die Shelby GT 500 toegerus word. Nuwe 19 duim-allooiwiele met vyf speke word vir die nuwe Mach 1 gebruik; dit is ‘n moderne weergawe van die oorspronklike Mach 1 se Magnum 500-wiele.  Die Mach 1’s wat na Suid-Afrika kom, word almal afgewerk in Fighter Jet Grey, met die Mach 1 op die voorste modderskerms, asook swart en oranje strepe op die enjinkap en die bakwerk en oranje remknypers. 

Soos die 5,0 GT, word die Mach 1 deur ‘n vyfliter V8-enjin aangedryf, maar sy kraglewering is 338 kW teen 7 000 opm en sy wringkrag 529 Nm teen 4 600 opm en volgens die vervaardiger is sy werkverrigting vergelykbaar met dié van die Bullitt. Daar is ‘n keuse tussen ‘n handratkas met ses gange uit die Shelby GT 350 of ‘n outomatiese tiengangratkas. Albei ratkaste is effens vir die Mach 1 aangepas. 

Aan die binnekant is daar nuwe skemplate vir die deure met die Mach 1-embleem, oranje afwerking op die sitplekke se rugleunings en ‘n kenteken op die instrumentepaneel wat die motor se onderstel-nommer aandui en sy status as beperkte model weerspieël. Daar is ook klein veranderinge aan  die 12,3 duim instrumentepaneel. 

Die Suid-Afrikaanse prys en presiese bekendstellings datum van die Mach 1 sal later bekendgemaak word.

 

%d bloggers like this: