Breaking News

Spesiale Mustang kom na Suid-Afrika

Na die sukses van beperkte Mustang-modelle soos die Bullitt en die Mach 1 het Ford pas nóg ‘n spesiale Mustang in Suid-Afrika bekendgestel.

Die Mustang California Special is net as ‘n Fastback beskikbaar en die enigste beskikbare enjin is die vyfliter V8-enjin wat standaard toerusting vir die Mustang in Suid-Afrika is. Hierdie enjin, wat aan ‘n outomatiese tiengangratkas gekoppel word, lewer 330 kW teen 7 000 opm en wringkrag van 529 Nm teen 4 600 opm.

Toe die oorspronklike Mustang in 1964 bekendgestel is, het entoesiate klubs regoor die Verenigde State van Amerika gestig en baie streekshandelaars het hul eie spesiale weergawes ontwikkel. Een van hulle, wat deur die Shelby GT prototipe van 1967 geïnspireer is, was die California Special, wat in 1968 sy verskyning gemaak het. Die oorspronklike weergawe, met ‘n swart sierrooster, kantstrepe wat by die luguitlate agter die deure geëindig het en Shelby-geïnspireerde agterste drukvlerk, het die moedermaatskappy só beïnddruk dat ‘n beperkte getal landwyd beskikbaar gestel is. Die jongste model beskik oor ‘n swart sierrooster met ‘n heuningkoek-patroon en ‘n GT/CS kenteken asook strepe in swart, grys en rooi met die GT/CS kenteken en ‘n versteekte Calfornia Special-kenteken wat nie juis sigbaar is in lae ligtoestande nie maar maklik gesien kan word as die son skyn. Die nuwe model beskik oor aërodinamiese hulpmiddels soos  ‘n groter voorste lugverdeler, luguitlate agter die deure wat vir die eerste keer op ‘n Suid-Afrikaanse Mustang voorkom en ‘n drukvlerk wat uit die GT Performance-pakket kom. Aan die agterkant is daar vier uitlaatpype en die 19-duim allooiwiele is in donkergrys afgewerk. 

Die California Special se eksklusiewe status word verder aan die binnekant beklemtoon. Die voorsitplekke kan verhit en verkoel word en die bekleedsel is ‘n kombinasie van grys leer en suede met rooi stikwerk en die GT/CS-kenteken. Die instrumentepaneel is in Carbon Hex-aluminium afgewerk en bevat ‘n unieke Mustang California Special-kenteken.  Ford se Sync 3-inligting-en-vermaakstelsel is standaardtoerusting en beskik oor Android Auto, Apple Car Play, navigasie en ‘n agtduim-raakskerm. Die klimaatbeheer en navigasiestelsel kan met behulp van stemopdragte beheer word.

Veiligheidskenmerke soos aanpasbare spoeedbeheer, voorbotswaarskuwing, ‘n banddrukmonitor , wegtrekhulp en baanhouhulp is standaardtoerusting.

Die prys van R 1 154 900 sluit ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km in. Verskeie diens- of instandhoudingsplanne van tot agt jaar of 150 000 km is teen ekstra koste beskikbaar. 

%d bloggers like this: