Niki Lauda, die Phoenix.

0 Comments

Deur Daantjie Badenhorst.

 

Niki Lauda, wat soos die mitologiese Phoenix uit die vuur herrys het, is nie meer met ons nie.

Die driemalige Formule 1-wêreldkampioen en sekerlik een van die top Formule 1-renjaers in die geskiedenis van motorsport,  is op die ouderdom van 70 jaar oorlede. Lauda het in Augustus 2018 ‘n long-oorplanting gehad wat aanvanklik suksesvol gelyk het, maar hy is op 20 Mei 2019 in sy slaap oorlede. Hy het 25 Grand Prix- wedrenne gewen, en was in 1975, 1977 en 1984 die Formule 1-wêreldkampioen.

Lauda se Formule 1-loopbaan het in 1971 begin toe hy by die March-span vir die Oostenrykse Grand Prix (sy tuiswerdren) ingesluit is. In 1973 het hy hom by BRM aangesluit met Clay Regazzoni as spanmaat.

Toe Regazzoni in 1974 teruggekeer het na Ferrari het hy voorgestel dat Lauda hom ook by dié legendariese Italiaanse span aansluit, en dit het nie lank geduur voordat Lauda se loopbaan in ‘n nuwe rigting beweeg het nie. Hy het sy eerste Grand Prix op ‘n sopnat Jarama-renbaan in Spanje gewen, en sy tweede een in Nederland. Dit het gemaak dat hy die vierde plek in daardie jaar se kampioenskap ingeneem het, terwyl Regazzoni tweede gekom het.

In 1975 het die wêreld vir die eerste keer werklik van Lauda kennis geneem. Hoewel hy in drie van die eerste vier wedrenne van die jaar nie punte kon aanteken nie en net vyfde in die Suid-Afrikanse Grand Prix op Kyalami gekom het, het hy sy eerste oorwinning van die jaar in Monaco behaal en daarna ook die Belgiese- en Sweedse Grand Prix-wedrenne gewen. Hy en James Hunt het ‘n naelbytstryd in Nederland gevoer, maar Hunt het sy eerste oorwinning, wat ook die Hesketh-span se enigste een was, behaal. Lauda het tweede gekom, en weer in Frankryk gewen. Hy kon nie punte in die chaotiese Britse Grand Prix aanteken nie, maar vir die res van die seisoen was hy met elke wedren in die punte. Sy derde plek tydens die Italiaanse Grand Prix, wat deur Regazzoni gewen is, was genoeg om te verseker dat hy sy eerste kampioenskap in 1975 gewen het.

1976

Die keerpunt in Lauda se loopbaan, en dalk ook sy lewe, het in 1976 gekom.  Dit het na ‘n uitgemaakte saak gelyk dat hy die eerste renjaer sedert Jack Brabham in 1960 sou wees wat sy titel suksesvol sou verdedig. Hy was vir die eerste ses wedrenne van die jaar op die podium, en het oorwinnings in Brasilië, Suid-Afrika, België en Monaco behaal, terwyl hy tweede in die straatwedren in Long Beach, Kalifornië en Spanje gekom het. In Frankryk het hy vir die eerste keer in die seisoen meganiese probleme ondervind en hy moes onttrek. Lauda se loopbaan en lewe het baie amper tydens die Duitse Grand Prix op die Nürnburgring-renbaan tot ‘n einde gekom. Tydens die tweede rondte het sy motor van die baan geloop het, teen ‘n muur gebots het en in vlamme uitgebars het. Twee renjaers wat agter in die wedren was, Guy Edwards en Harald Ertl, het hom uit sy motor se wrak gehelp. Hy kon staan en hy was by sy volle positiewe na afloop van die ongeluk, maar hy het later in ‘n koma verval. Dit het gelyk asof hy nie die ongeluk sou oorleef nie.  Hy het egter erge brandwonde aan sy gesig opgedoen, die helfte van sy regterkantste oor verloor asook die hare aan die regterkant van sy kop. Sy longe was ook beskadig.

Hy sou vir die res van sy lewe altyd ‘n pet dra, en hy het borge omgepraat om sy pet vir reklamedoel-eindes te gebruik. Lauda het eintlik net een wedren misgeloop, aangesien Ferrari die Oostenrykse Grand Prix geboikot het; dit was dié span se manier om beswaar te maak teen die feit dat James Hunt se punte in die Spaanse en Britse wedrenne aan hom teruggegee is nadat Hunt aanvanklik in albei wedrenne gediskwalifiseer is. Lauda het egter sy terugkeer met die Italiaanse Grand Prix gemaak, presies ses weke na sy ongeluk en die wedren in die vierde plek voltooi.

Hunt en Lauda in 1976 voor sy botsing.

Intussen het Hunt sy aanslag op die kampioenskap verstewig. Nadat Hunt die Kanadese- en Amerikaanse wedrenne gewen het, was daar net drie punte verskil tussen hulle toe die laaste wedren van die jaar, die eerste een in Japan, aangebreek het. Lauda het voorgeloop, maar dit het so erg tydens die wedren gereën dat toestande uiters gevaarlik was. Lauda kon niks voor hom sien nie, en het na twee rondtes besluit om aan die wedren te onttrek. Volgens hom was dit te gevaarlik om in hierdie toestande verder deel te neem en hy het gevoel dat sy lewe belangriker as ‘n kampioenskap was. In daardie jare was daar nog nie radio-verbinding tussen die renjaers en die kuipe nie en Hunt het aanvanklik nie geglo dat hy die kampioen was nie. Hunt het die kampioenskap met net een punt gewen. Hunt en Lauda was baie goeie vriende van die baan af, en hoewel hulle mekaar op die baan as teenstanders beskou het, was hul tweestryde altyd in ‘n goeie gees. Die 1976-seisoen is in die rolprent Rush uitgebeeld.

Hoewel 1977 vir Lauda ‘n suksesvolle seisoen was, was die verhouding tussen hom en Ferrari uiters spanningsvol. Nie net was die span kwaad vir hom omdat hy so vroeg in die Japanse Grand Prix die vorige jaar onttrek het nie, Lauda het ook nie gehou van die feit dat die Argentynse renjaer Carlos Reutemann, wat na Lauda se ongeluk deel van die Ferrari-span geword het, sy permanente spanmaat sou wees nie. Lauda en Reutemann het nie oor die weg gekom nie, soos Lauda in sy outobiografie , To hell and back, vertel het. Dit was ‘n uiters mededingende seisoen en geen renjaer kon meer as drie wedrenne wen nie. Lauda se oorwinnings het in Suid-Afrika, Duitsland en Nederland gekom, terwyl hy in nie minder nie as ses wedrenne tweede gekom het. Lauda het besluit om die Ferrari-span te verlaat nadat hy sy tweede kampioenskap gewen het. Hy het trouens nie aan die Kanadese- of Japanse Grand Prix-wedrenne deelgeneem nie.

Vir die 1978-seisoen het Lauda hom by die Brabham-span, wat deur Parmalat geborg is, aangesluit met die Ierse renjaer John Watson as spanmaat. Hoewel hy baie min sukses behaal het, sal een wedren in daardie jaar nooit vergeet word nie. Vir die Sweedse Grand Prix het Brabham se ontwerper, Gordon Murray, iets baie spesiaals ontwikkel. Die een uitstaande kenmerk van die Brabham BT 46 B was ‘n waaier wat dieselfde doel as die syskorte van mededingende motors gehad het, naamlik om die motor meer padvas te maak. Die waaier is agter die deksel van ‘n asblik weggesteek as dit nie op die renbaan was nie, om joernaliste en ander spanne te mislei.  Nadat Watson aan die wedren onttrek het, het Lauda gewen. Die beheer-liggaam van motorsport, die FIA, het egter bepaal dat die motor nie verder kon deelneem nie, maar Lauda se oorwinning het bly staan. Die Italiaanse Grand Prix was Lauda se enigste ander oorwinning daardie jaar, maar dit het eers plaasgevind nadat die Sweedse renjaer Ronnie Peterson in ‘n noodlottige ongeluk betrokke was en nadat Mario Andretti en Gilles Villeneuve gestraf is omdat hulle te vroeg weggespring het.  Vir die 1979-seisoen was Lauda se spanmaat die jong Brasiliaanse renjaer Nelson Piquet, wat self later drie wêreld titels gewen het.  Die “plat 12”-enjin van die BT 46 is beskou as te breed vir die “vlerkmotor”-ontwerp en Brabham se enjinverskaffer, Alfa Romeo, het ‘n V 12-enjin vir die nuwe motor, die BT 48, ontwikkel. Ironies genoeg het Jody Scheckter en Gilles Villeneuve daardie jaar se kampioenskap oorheers met die Ferrari 312 T4, wat self ‘n “plat 12”-enjin gehad het. Hoewel Piquet in 1979 nog nie ‘n wedren kon wen nie, het hy deurentyd beter as Lauda gevaar.  Tydens die oefen rondtes van die Kanadese Grand Prix het Lauda aan Brabham se spanbaas, Bernie Ecclestone, gesê dat hy onmiddellik wou uittree. Die rede daarvoor was dat hy “moeg daarvoor was om in sirkels rond te jaag.” Hy het voltyds na Oostenryk teruggekeer om sy lugredery, Lauda Air, te bestuur.

Nadat hy in 1980 heeltemal weggebly het, het gerugte in 1981 ontstaan dat hy dit oorweeg het om terug te keer. Hoewel joernaliste gesien het dat hy besig was om ‘n Mc Laren te toets, het hy enige sprake van ‘n terugkeer tot Formule 1 ten sterkste ontken. Hoewel die toetse vir Mc Laren suksesvol was, was dit moeilik om die span van sy vermoë om weer te wen, te oortuig, maar toe die 1982-seisoen by Kyalami begin het, was Lauda deel van Mc Laren-span, saam met sy eertydse Brabham-spanmaat John Watson. Hy het hom dadelik in ‘n staking vasgeloop; die FIA het bepaal dat ‘n renjaer nie in die middel van ‘n seisoen van span kon verwissel nie en die renjaers het hul misnoeë hiermee te kenne gegee.  Die wedren het wel plaasgevind, en Lauda het die vierde plek behaal. Dit het egter nie lank geduur voordat hy weer gewen het nie; sy eerste oorwinning sedert sy terugkeer het tydens die Grand Prix op die straatbaan in Long Beach, Kalifornië plaasgevind. Hy het dirt opgevolg met ‘n oorwinning in die Duitse Grand Prix. Dit was ‘n seisoen wat om die verkeerde redes nooit vergeet sal word nie; hoewel elf renajers wedrenne gewen het, is dit oorskadu deur die noodlottige ongeluk waarby Gilles Villeneuve in België betrokke was.

Die 1983-seisoen was glad nie suksesvol nie, en Lauda kon net twee wedrenne op die podium voltooi. Dit was ook die laaste jaar wat McLaren die Ford-enjin gebruik het. Met die Nederlandse Grand Prix is die nuwe TAG Porsche-enjin bekend gestel nadat Lauda die Mc Laren-ontwerper John Barnard onder druk geplaas het om ‘n tydelike plaas-vervanger vir dieMP 41/C te ontwerp.

In 1984 was die latere viermalige wêreld kampioen Alain Prost terug by Mc Laren as Lauda se spanmaat, en dié twee het so goed teen mekaar opgeweeg dat die punteverskil aan die einde van die seisoen ‘n halwe punt was. Die rede daarvoor was dat die Monaco Grand Prix in gietende reën plaasgevind het en halwe punte toegeken is omdat die wedren vroeg gestaak is. Lauda het vyf oorwinnings daardie jaar behaal, naamlik in Suid-Afrika, Frankryk, Brittanje, Oostenryk en Italië. Sy tweede plek agter Prost in die heel eerste Portuguese Grand Prix op die Estoril-renbaan was genoeg om vir hom die kampioenskap te verseker. Daar was teen die einde van daardie seisoen al sprake dat Keke Rosberg in Lauda se plek vir Mc Laren sou jaag, aangesien sys alaris verminder sou word. Lauda het egter besluit om voort te gaan maar behalwe vir ‘n oorwinning in die laaste Nerdelandse Grand Prix wat tot dusver gehou is, was dit ‘n onsuksesvolle seisoen. Lauda het sy uittrede met sy tuiswedren in Oostenryk aangekondig terwyl Prost sy eerste kampioenskap gewen het.

Nadat hy sy uittrede aangekondig het, het hy weer sy volle aandag aan Lauda Air gegee. Nogtans is hy in ‘n bestuurs-posisie by Ferrari aangestel om die span se vertoning te help verbeter. In 2001 en 2002 het hy Jaguar se onsuksesvolle Formule 1-span bestuur. In 1993 is hy by die Internasionale Heldesaal vir Motorsport ingesluit en sedert 1996 het hy kommentaar oor Grand Prix-wedrenne vir Duitse en Oostenrykse televisie gelewer. Hy moes egter kritiek verduur omdat hy neerhalende opmerkings teenoor die Poolse renjaer Robert Kubica gemaak het; dit het selfs tydens ‘n regstreekse uitsending van die Monaco Grand Prix in 2001 gebeur. In 2012 is hy as nie-uitvoerende voorsitter van die Mercedes-AMG Petronas-span aangestel; hy was betrokke by onderhandelinge wat daartoe gelei het dat Lewis Hamilton deel van die span geword het.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: