Nissan gee Micra meer skop

0 Comments

In Junie 2018 het Nissan die nuwe geslag Micra in Suid-Afrika bekendgestel. Die reeks was tot dusver egter net met ‘n turbo-aangejaagde drie-silinderenjin van 900 cc beskikbaar.

Nou het Nissan ‘n bykomende enjinkeuse aangekondig, steeds met drie silinders maar effens groter en kragtiger. Die nuwe een liter enjin het ‘n kraglewering van 84 kW teen 5 150 opm (Die 900 cc-weergawe lewer 66 Kw) en ‘n wringkrag 180 Nm tussen 1 750 en 4 000 opm. Dit spog ook met ‘n delta-silinderkop; die eerste in sy klas. Die delta-silinderkop maak die enjin ligter en meer kompak en sorg dat daar meer plek onder die enjinkap is en beter beskerming vir insittendes moontlik is.

Daar is drie modelle met die nuwe enjin beskikbaar en al hierdie modelle se grondvryhoogte is laer terwyl die veerstelsel meer sportief ingestel is. Al drie modelle met hierdie enjin het ‘n handratkas met ses gange as standaard.

Soos in die meeste ander modelle in die reeks, word die nuwelinge met Android Auto en Apple Car Play toegerus, asook Nissan se gepatenteerde Nissan Intelligent Mobility. Daar is 360 grade-kameras, ‘n blindekolmonitor, ‘n sensor wat hindernisse agter die motor bespeur, wegtrekhulp en agterste parkeersensors.

Daar is drie modelle met die nuwe enjin beskikbaar, naamlik die Acenta Plus, die Tekna en die Tekna Plus. Benewens die standaardkenmerke wat reeds genoem is, spog die Acenta Plus ook met sewentienduim-allooiwiele, ‘n seweduim-raakskerm met ‘n radio, Bluetooth-verbinding, Android Auto en Apple Car Play, ligdiode-dagryligte en ‘n stuurwiel, rathefboomknop en handrem wat met leer oorgetrek is.

Die Tekna se Bosé Personal-klankstelsel het luidsprekers in die voorste insittendes se kopstutte, klimaatbeheer, outomatiese ruitveërs en ligdiode-kopligte. Die Tekna Plus, die nuwe vlagskip van die reeks, is net in swart beskikbaar en voeg ‘n binnekant met rooi afwerking, en leerbekleedsel vir die sitplekke, met die voorste sitplekke wat verhit kan word, by.

Die Visia, Acenta en Acenta Plus-modelle met die 900cc-enjin is steeds beskikbaar.

Die pryse van die hele reeks, wat ‘n waarborg van ses jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 90 000 km insluit, lyk só:
66 kW Visia: R 252 800
66 kW Acenta: R 279 400
66 kW Acenta Plus: R 295 400
84 kW Acenta Plus: R 305 900
84 kW Tekna: R 326 300
84 kW Tekna Plus: R 336 900

Categories:
%d bloggers like this: