Sedert die heel eerste Nissan Patrol in 1951 op die mark gekom het, het dié Japanese veld-ryer ‘n reputasie vir betroubaarheid en uitsonderlike verldryvermoë opgebou, en nou is die jongste weergawe in Suid-Afrika beskikbaar.

Daar is net een model, naamlik die Patrol Premium met ‘n petrol-enjin, vir Suid-Afrika ge-oormerk en sy prys is R 1 299 000. Dit beteken net een ding. Hierdie Patrol word ingevoer vir die Sandton juppie. ‘n “Bling” nutsvoertuig, wat met die “bling” modelle van die Toyota Prado en Land Rover Range Rover sal meeding. Al die vier-by-vier trieks word letterlik op die blink Stefaanse gemors.

Die 5,6 liter petrol V8-enjin het ‘n outomatiese ratkas met sewe gange en werk met wisselende kleptyd-reëling. Hierdie enjin lewer 298 Kw teen 5 800 opm en het ‘n wringkrag van 560 Nm teen 4 000 opm. Die Patrol se brandstoftenk hou 140 liter en sy gemiddelde brandstofverbruik is 14,4 liter per 100 km.

Nadat die nuwe weergawe reeds groot sukses in oorsese markte behaal het, glo Nissan dat hy ook hier gewild sal wees, aangesien hy gerief, weelde en slim tegnologie met dieselfde kenmerkende veldryvermoë as sy voorgangers sal kombineer.

“Ons is ontsettend trots op die nuwe Patrol aangesien hy wys hoe gevorderd Nissan se Intelligent Mobility kan wees. Hierdie luukse sportnutsvoertuig het ‘n verstommende aantal tegnologiese kenmerke wat veiligheid en gemak verseker en dit ‘n plesier maak om te bestuur, “ sê Xavier Gobille, die besturende direkteur van bemarking en verkope van Nissan Groep Afrika.

Nissan  Intelligent Mobility bevat toonaangewende veiligheidskenmerke wat onder meer die volgende insluit: ‘n waarskuwing wanneer ‘n ander voertuig in die bestuurder se blinde kol is, spoedbeheer wat die bestuurder in staat stel om ‘n vasgestelde afstand agter die voorste voertuig te handhaaf, radarsensors wat die voertuig se snelheid by dié van die voertuig voor hom aanpas, ‘n stelsel wat vasstel as die bestuurder moeg is of konsentrasie verloor, noodremhulp wat die afstand tussen die bestuurder en die voertuig voor hom vasstel en rem om ‘n botsing te voorkom, ‘n kamera in die voorruit wat die bestuurder waarsku as daar per abuis van baan verwissel word, ‘n monitor in die binnetruspieël wat beelde van ‘n kamera agter in die voertuig wys en die beperkinge van ‘n gewone trusipeël uitskakel en kameras reg rondom die voertuig wat ‘n 360 grade-beeld wys van wat om die voertuig gebeur.

Die Patrol is ontwerp om soveel gemak as moon tlik vir sewe insittendes te skep en naangesien dit Nissan se vlagskip is,  beskik dit nie net oor krag nie, maar ook oor weelde en veiligheidskenmerke wat dié van sy regstreekse mededingers ver oorskry. Die buitestilering is aggressief maar ook verfynd, met ‘n kenmerkende sierrooster met ‘n V-motief asook xenon-kopligte. Daar is luguitlate in die voorste modderkskerms en die agterklap werk met kraghulp.  Ander uitstaande buitekenmerke is voorste en agterste stampers dieselfde kleur as die bakwerk, deurhandvatsels met chroomafwerking, treeplanke onder die deure wat toegang tot die binnekant vergemaklik, dakrelings en parkeersensors voor en agter.

Aan die binnekant is daar voorsitplekke wat verhit of verkoel kan word, outomatiese klimaatbeheer. Luguitlate in die tweede ry sitplekke wat lug na elke sitplek versprei, voorsitplekke wat op agt verskillende maniere met kraghulp verstel kan word, middelste en agterste rye sitplekke wat in ‘n 60: 40-verhouding verdeel is, met die derde ry sitplekke wat in die vloer weggevou kan word, ‘n Bose-klankstelsel met dertien luidsprekers. ‘n navigasiestelsel en ‘n DVD-speler met skerms in die kopstutte van die voorste sitplekke. |Daar is ‘n 12 volt-kragpunt in die groot middelkonsole, deure wat outomaties sluit as die voertuig wegtrek, nege bekerhouers en vier bottelhouers, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie  en Bluetooth-verbinding.

Die All Mode-vierwiel-aandrywingstelsel beskik oor ‘n elektronies-beheerde oordra-ratkas wat normaalweg in tweewiel-aandrywing funksioneer, maar krag na al vier wiele versprei wanneer nodig. Daar is ook ‘n lae-strekfunsie vir ernstige verldrytoestande. Die Patrol beskik oor sluitweerremme met elektroniese remverspreiding en noodremhulp.  Daar is driepuntsitplekgordels vir al die insittendes en ISOFIX-hegpunte vir die tweede ry sitpekke, asook ‘n banddrukmontior met ‘n waarsku-liggie in die instrumentepaneel en bykomende waarskuwing in die navigasiestelsel.

In die onwaarskynlike geval dat blink Stefaans sal wil sleep is ‘n trekstang as ‘n bykomstigheid beskikbaar.

Die Patrol kom met ‘n waarborg van ses jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 90 000 km.

%d bloggers like this: