Breaking News

Nissan se Patrol opgeknap

Nissan het vroeg September 2020 die  opgeknapte weergawe van sy vlagskip-sportnuts-voertuig, die Patrol, bekendgestel.

Die Patrol vier aanstaande jaar sy 70 ste bestaansjaar en die nuwe model is luukser en meer gesofistikeerd as tevore. Die nuwe model is met die beste wat Nissan Intelligent Mobility kan bied, toegerus en die voertuig spog met ‘n opvallende nuwe ontwerp. Al hierdie optoffery is gedoen, sonder dat die Patrol sy bobaas-veldryvermoë waarvoor hy deur die jare bekendheid verwerf het, van afstand gedoen het. Die nuwe Patrol is steeds een van die top veldryvoertuie wat vir enige padoppervlakte, selfs sneeu en klipbesaaide paaie kans sien.

Die uitstaande kenmerk aan die voorkant van die nuwe Patrol is ‘n nuwe weergawe van Nissan se kenmerkende sierrooster. Aan weerskante is nuwe boemerang-vormige ligdiode-kopligte. Daar is ook boemerang-vormige agterligte, met sekwensiele rigting-wysers, wat vir die eerste keer vir ‘n Nissan gebruik word. Daar is ‘n groot chroom-strook tussen die agterligte wat die Patrol-naam bevat. Nuwe 18 duim allooiwiele is standaard toerusting. Die deurhandvatsels is in chroom afgewerk en die buitespieëls is dieselfde kleur as die bakwerk. Die Patrol spog ook met ‘n sondak, wat elektries kan oopskuif en kantel. 

Aan die binnekant is die nuwe Patrol se afwerking selfs luukser as voorheen.  Die Bosé-klankstelsel met dertien luidsprekers is die beste in sy klas en bevat ‘n veelskerm DVD-speler. ‘n vermaakstelsel met ‘n agtduimskerm vir die agterste insittendes, onafkanklike koordlose oorfone en ‘n inligting-en-vermaakstelsel wat met ‘n afstandbeheer werk. Verder beskik die nuwe Patrol oor ‘n raakskerm van agt duim, Bluetooth-verbinding, Intelligent Key met ‘n aansit-knoppie en sleutelose toegang met afstandbeheer. Die dubbelsone-klimaat-beheer stel voorste en agterste insittendes in staat om die temperatuur volgens hulle eie behoeftes te verstel. Die sitplekke beskik oor nuwe diamant-gestikte en gekwilte leersitplekke tesame met ‘n handgestikte stuurwiel. Klimaatbeheer en lendesteun is beskikbaar vir die voorsitplekke. Die middelkonsole en deurpanele spog met egte houtafwerking. Daar is altesaam sewe sitplekke, en vir die voorste en middelste rye is daar ‘n koelhouer, wat groot genoeg is ses halfliter-bottels te kan neem 

Die Patrol spog met Nissan Intelligent Mobility, wat sorg dat die voertuig veiliger as ooit is en oor verskeie bestuurs-hulpmiddels beskik.  Dit sluit ‘n intelligente noodrem-stelsel met voorbots-waarskwing wat voetgangers bespeur en die bestuurder oor hindernisse wat nie gesien kan word nie, waarsku, in. Die gevorderde radarstelsel handhaaf ‘n veilige volgafstand tussen die voertuig en die voorste een, en bespeur ook die afstand tussen die voorste twee voertuie. 

Daarby is ‘n intelligente spoedbeheer standaardtoerusting asook ‘n stelsel wat moegheid of ‘n gebrek aan konsentrasie by die bestuurder bespeur en dan aanspreek. Die remstelsel beskik oor skyfremme op al vier wiele, ABS, elektroniese remkrag-verspreiding en noodremhulp, terwyl ‘n vierwiel-vastrapewenaar en ‘n Vehicle Dynamic Control-vastrape-heerstelsel keer dat die voertuig rol of gly in gladde padtoestande, wanneer daar van baan versissel word of wanneer daar deur ‘n draai gery word. Wegtrek- en afrdaandehulp is standaard toerusting, asook baandwaal-waarskuwing, baanhouhulp en dwarsverkeer-waarskuwing agter. Die 360 grade-kamera maak parkering makliker en help die bestuurder om in en uit moeilike plekke te beweeg. 

Deur die jare was die Patrol bekend as een van die mees bevoegde, mees gesofistikeerde en mees gevorderde voertuie in sy klas, en die nuwe model bou voort hierop. Die 5,6 liter V8-petrol-enjin waarmee die nuwe model toegerus word, lewer 298 kW teen 5 800 opm en het ‘n wringkrag van 560 Nm teen 4 000 opm. Krag n tegnologie ontmoet mekaar met die Intelligent 4×4-stelsel, wat die bestuurder in staat stel om een van vier bestuurs-modusse , naamlik “Sand”, “On-road”, “Snow” en “Rock”, te kies. Hierdie modusse kan met die druk van ‘n knoppie gekies word.  Die outomatiese ratkas met sewe gange beskik oor ‘n handrat-funksie. 

Die prys van die nuwe Patrol, wat ‘n waarborg van ses jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 90 000 km insluit, is R 1 515 700.

%d bloggers like this: