Nissan het pas ‘n nuwe proto-tipe voertuig gebaseer op die elektries-aangedrewe Nissan eNV200, bekendgestel om te wys hoe ‘n handelsvoertuig, gelaai met tegnologie, tot almal se voordeel aangewend kan word. Hierdie proto-tipe roomyswa, wat in samewerking met die Skotse suiwelplaas Mackie’s ontwikkel is, is beide natuur- en handels-vriendelik. Meer as ‘n dekade se ondervinding met elektriese voertuie is deur Nissan toegepas op maniere wat kopers dalk nie sou verwag nie.

Die elektries-aangedrewe Nissan eNV200, waarop die roomys-wa gebaseer is.

Hierdie paneelwa se enjin word aangedryf deur ‘n 40 kWh-battery, en die roomystoerusting, wat ‘n masjien vir horinkies, ‘n vrieskaslaai en ‘n yskas insluit, word deur die nuut vrygestelde Nissan Energy ROAM, wat later vanjaar beskikbaar sal wees, aangedryf. Die ROAM is ‘n draagbare litium-ioon-batterye kragbron, wat basies die raserige brandstof-aangedrewe kragopwekkers vervang. Met die ROAM kan jy byvoorbeeld jou yskas in die paneelwa aandryf.

Nissan Energy ROAM

Die Nissan Energy ROAM is ‘n kragtige draagbare battery-aangedrewe kragbron.

 

“Hoewel roomys oral geniet word, is moontlike klante toenemend bewus van die uitwerking wat die lewering daarvan op die omgewing het, “sê Kalyana Sivagnanam, die besturende direkteur van Nissan in Groot-Brittanje.  Volgens Sivagnanam is hierdie projek ‘n perfekte demonstrasie van Nissan se Intelligent Mobility-strategie.

Die roomys word bedien vanuit ‘n luik aan die kant van die voertuig en die verkoper lewer die roomys buite die voertuig.  Klante kan kontant betaal, of deur middel van ‘n kontaklose bankkaart of ‘n slimfoon; deur die “tap to pay”-paneel aan die kant van die voertuig, betaal. Die kenmerkende deuntjie wat nie altyd so gewild onder ouers is nie, word vervang met ‘n knoppie wat die voertuig se ligging twiet deur die adresdiens “What3Words” te gebruik. Dit verdeel die wêreld in 3mx3m-liggings, elkeen met ‘n unieke adres met drie woorde. Die voertuig kan maklik  in ‘n park of op ‘n strandfront opgespoor word. Danksy die voertuig se tweerigting-laaivermoë kan dit selfs in die winter, wanneer dit minder gereeld gebruik word, gelaai word. Die battery kan gebruik word om surplusenergie voort te bring.

Die Sky to Scoop-benadering word gevolg vir die aflewering van roomys en anders as die gewone roomyskarre wat diesel-enjins gebruik, maak hierdie nuwe konsep staat op elektriese krag. Daar word op hierdie manier weggedoen met die diesel-enjins wat die verkoelingstoerusting aan die gang hou en gevaarlike uitlaatgasse , onder andere swart koolstof, voortbring wanneer die enjin luier. Sommige dorpe en stede in die Verenigde Koninkryk wil hierdie tipe dieselvoertuie beboet of verbied. Nissan se nuwe konsep bied ‘n moontlike oplossing vir roomysverkopers wat hul koolstof-voetspoor wil verklein en op soek is na ‘n meer werkbare oplossing.

Die prototipe is gebaseer op Nissan se eNV 200-paneelwa, wat 100% op elektriese krag staatmaak. Die konsep is ‘n werkende demonstrasie van die Nissan Electric Ecosystem wat ‘n kragbron sonder besoedeling, bergplek vir batterye en herwinbare sonkrag kombineer.

Karen Hayhow, die bemarkingsbestuurder van Mackie’s of Scotland, is verheug oor die geleentheid om saam met Nissan te werk want die nuwe konsep pas in by hul strewe om self-volhoubaar met herwinbare energie te wees en koolstof heeltemal uit te skakel.

Die Nissan eNV 200 se reikafstand wanneer die battery vol gelaai is, is omgeveer 190 km en die twee Nissan Enerry ROAM-eenhede het ‘n gesamentlike bergkapasiteit van 1,4 kWh en kan elk tot 1 kW lewer. Die battery kan deur ‘n 230V-kragpunt of deur ‘n sonpaneel op die voertuig se dak gelaai word. Dit duur onderskeidelik omtrent een uur en tussen twee en vier ure.

Die eNV 200 is ‘n kostedoeltreffende handelsvoertuig wat net met elektriese krag werk en oor ‘n 40 kWh-battery beskik.  Die Britse regering bied ook sekere aansporingsmaatreëls, onder meer kwytskelding van padbelasting. Dit is ‘n kompakte voertuig wat nogtans genoeg ruimte bied en geskik is vir stedelike aflewerings. Nissan Energy ROAM is die jongste voorbeeld van Nissan se leiersposisie in volhoubare energie-tegnologie en bestaan uit batterye wat uit die eerste geslag Nissan Leaf kom.

Op hierdie stadium is daar nog geen aanduiding of, en indien wel wanneer, die eNV 200 of Nissan se Energy ROAM in Suid-Afrika beskikbaar gestel sal word nie.

%d bloggers like this: