Nissan wys sy Z-konsep

0 Comments

Nissan het pas ‘n nuwe konsep gewys wat dalk die weg baan vir die opvolger van die 370 Z.

Die voorskou is, weens die inperking, na die hele wêreld vanuit die Nissan Pavilion in die Japanse stad Yokohama gestroom. Die prototipe, wat as die Z Proto bekendstaan, is ‘n splinternuwe ontwerp met ‘n V6-enjin met twee turbo-aanjaers en ‘n sesgang-handratkas.

Die eerste tekens van die Z Proto is reeds in Mei vanjaar in ‘n video getiteld Nissan A to Z gegee, en hoewel die Z Proto op verskeie maniere hulde aan vorige Z-modelle bring, is dit deur en deur ‘n moderne sportmotor. 

Die silhoeët van die nuwe model bring hulde aan die oorspronklike 240 Z, wat in 1969 bekendgestel is en die helder geel verfwerk was baie gewild op die 240 Z en die 300 ZX van die vroeë 1990’s.  Die dak is in swart afgewerk. Nissan se ontwerphoof, Alfonso Albaisa, erken dat dit ‘n uitdaging was om ‘n moderne motor met ‘n klassieke tema wat hulde aan vorige modelle bring, te skep. Volgens hom het die ontwerpers baie navorsing oor die geskiedenis van die Z-reeks gedoen en vasgestel wat hulle suksesvol gemaak het; die Z Proto bring die verlede en die toekoms bymekaar. 

Die vorm van die enjinkap en die traandruppel-vormige kopligte heriner sterk aan dié van die 240 Z en die reghoekige sierrooster is so groot soos dié van die 370 Z.  Die ligdiode-kopligte bevat twee halwe sirkels soos die 240 ZG, ‘n model wat in die 1970’s net in Japan beskikbaar was.  Die profiel is die sterkste skakel tussen die verlede en die toekoms, aangesien dit baie aan dié van die 240 Z herinner. Die daklyn vloei van die neus tot by die agterkant , terwyl sy agterkant wat laer as sy voorste modderskerm is, die Z Proto sy unieke voorkoms gee. Die ligdiode-agterligte herinner aan dié van die 300 ZX van 1990, gemonteer binne ‘n swart, reghoekige strook wat aan die kante omkrul. Die allooiwiele van 19 duim en die dubbele uitlaatpype dra by tot sy sportiewe voorkoms.

Die binnekant, wat ontwerp is om so gerieflik moontlik vir die bestuurder en die passasier te wees, en kombineer klassieke kenmerke met moderne tegnologie. Die ontwerpspan het die raad van professionele renjaers aangevra om die Z Proto die ideale binnekant vir gebruik op die pad en die renbaan te gee. Dit is duidelik in die instrumente-paneel sigbaar. Die belangrikste inligting word op die 12,3 duim digitale instrumente-paneel vertoon, en dis só gerangskik dat die bestuurder maklik toegang daartoe kan kry. Die nuwe stuurwiel het ‘n klassieke voorkoms maar maak dit maklik om die inligting op die instrumente-paneel te sien. Soos wat al tradisie vir die Z-reeks is, is daar drie bykomende meters in die middel van die paneelbord. Daar is geel aksente oral aan die binnekant, onder meer geel stikwerk op die sitplekke en die paneelbord.

Aangesien dit ‘n prototipe is, is daar nog nie te veel inligting oor die enjin bekendgemaak nie, behalwe dat dit ‘n V6 met twee turboaanjaers en ‘n sesgang-handratkas is. Daar lê nog baie werk voor om te verseker dat die nuwe model, waarvan die Z Proto ‘n voorsmaak is, so opwindend om te bestuur soos sy voorgangers sal wees. Die oogmerk met die nuwe model sal, anders as met sekere elektriese voertuie wat Nissan besig is om te ontwikkel, ‘n motor op die mark te bring wat vir loutere bestuursgenot sal sorg.

Volgens Nissan is die Z Proto egter ‘n prototipe en nie ‘n weerspieëling of bevestiging van die volgende Z se spesifikasies of werkverrigting nie.

Categories:
%d bloggers like this: