Deur Daantjie Badenhorst

In 2014 het Nissan die derde geslag van sy gewilde X-Trail-sportnutsvoertuig in Suid-Afrika bekendgestel.

Dié modelreeks het nou ‘n aantal veranderinge ondergaan en MotorPlus het die nuwe topmodel in die reeks, die 2,5 Tekna 4WD CVT vir ‘n paar dae onder hande gehad.

Die veranderinge aan die X-Trail-reeks is nie besonders dramaties nie, en dit is veral stilering wat aandag gekry het. Daar is ‘n nuwe stel LED-dagryligte en misligte asook ‘n nuwe sierrooster aan die voorkant terwyl die agterligte ook nuut ontwerp is. Die Tekna het 19 duim swart allooiwiele wat die voertuig ‘n besonderse stewige stans gee.

Binne

Aan die binnekant is daar meer veranderinge asook ‘n paar veiligheidskenmerke wat bygevoeg is.

Die voertuig waarsku jou byvoorbeeld wanneer jy per abuis uit jou baan op die oop pad beweeg en aan die dinnekant van die voorste truspieëls is daar liggies wat aangaan wanneer ‘n motor in die bestuurder se blinde kol is. Behalwe die trukamera is daar ook kameras wat die voorkant en die kant van die motor dophou. Daar is ‘n remstelsel wat in ‘n noodgeval ingryp, asook kopligte wat vanself sal outomaties aanskakel wanneer dit nodig is. Die voertuig waarsku jou ook as daar ‘n obstruksie agter die voertuig is, wanneer  jy agteruit wil ry.  Die satellietnavigasie werk baie goed en is ‘n welkome kenmerk van hierdie model.

Nog ‘n kenmerk wat baie mense sal waardeer, is die panoramiese sondak waarmee dié model toegerus is. Die 2,5 Tekna het sewe sitplekke, en ander vervaardigers kan by Nissan leer hoe om die derde ry sitplekke weg te vou en steeds uitsig na agter en bagasieruimte te behou omdat ‘n mens nie agterkom dat die derde ry sitplekke daar is as dit nie gebruik word nie.

Een van die beste nuwe kenmerke is ‘n veelfunksie stuurwiel waarvan die boog ‘n plat onderkant het. Die stuurwiel is kompak genoeg om nie tussen jou bene te sit as die stuurkolom op sy laagste verstelling is nie, maar nie té klein dat dit ongemaklik is om te gebruik nie.

Enjin

Onder die enjinkap is alles nog soos dit was. Die viersilinder enjin, met ‘n verplasingsinhoud van 2 488 cc, lewer 126 Kw teen 6 000 opm en 233 Nm teen 4 000 opm. Die 2,5 Tekna-model is ook die enigste model in die reeks wat die outomatiese CVT-ratkas het.

Daar is nie spane agter die stuurwiel vir dieCVT se handratfunksie nie. Dit is egter nie ‘n groot probleem nie. Die ratwisseling in die outomatiese funksie is besonder glad en maak die Tekna ‘n plesier om in verkeer te bestuur. Daar is sewe gange in die handratfunksie.

Die motor se brandstofverbruik in die tydperk wat dit getoets is, het gewissel van 8,5 kilometer per liter in die stad tot ongeveer 11,5 kilometer per liter op die oop pad, wat eintlik glad nie sleg is vir ‘n petrolaangedrewe voertuig in hierdie marksegment nie.

Die ritgehalte is baie goed, en die veerstelsel is uiters gemaklik. Die bestuurder kan self kies of hy of sy twee of vierwielaandrywingstelsel wil aktiveer. Vir normale gebruik is tweewielaandrywing voldoende, maar daar is ‘n keuse om die voertuig in vierwielaandrywing te sluit vir grondpaaie wat dit vereis of om ‘n outomatiese funksie te gebruik vir wanneer daar op teer- en grondpaaie bestuur word. Daar is egter nie ‘n lae-strekfunksie nie, maar die koper op die die X-Trail gemik is, sal dit nie noodwendig as ‘n voorvereiste beskou nie.

Prys

Om mededingers wat presies dit wat die X-Trail bied, te kry, is maar moeilik, veral teen die prys van R 469 900. Daar is wel sportnutsvoertuie met soortgelyke enjins, maar dan is hulle net 4,×2’s; anders is daar voertuie met kleiner petrol- of dieselenjins wat ook nie heeltemal kan meeding nie. Die Mazda CX-5 2,5 Individual het ‘n soortgelyke enjin, maar is net voorwielaangedrewe en het net vyf sitplekke. Die Kia Sportage 2,4 GDI SX AWD is R 80 000 duurder, en weer eens het hy net vyf sitplekke. Die Hyundai Tucson 1,6 Elite 4WD is ook heelwat duurder, teen R 534 900. Die vraag is, wat van motors soos die Ford Everest en die Toyota Fortuner? Die Everest is glad nie met ‘n petrolenjin beskikbaar nie, en die 2,2 TDCI XLS, wat teen R 477 900 verkoop is net tweeewielaangedrewe. Toyota het die Fortuner-reeks pas uitgebrei en onder meer ‘n 2,4 GD-6 4×4 met ‘n outomatiese ratkas bekendgestel teen ‘n prys van R 506 000. Hierdie model se spesifikasievlak kan hoegenaamd nie met dié van die X-Trail vergelyk nie.

Die X-Trail het nie verniet een van Suid-Afrika se gewildste sportnutsvoertuie geword nie, en selfs hierdie model, wat die duurste in die plaaslike reeks is, is uitstekende waarde vir geld. Dis net ‘n jammerte dat die Tekna-afwerking met die CVT-ratkas nie ook met die dieselenjin beskikbaar is nie en ‘n mens hoop dat Nissan hierdie gaping in die reeks mettertyd sal vul. Voordat jy ‘n Everest of ‘n Fortuner met ‘n vergelykbare spesifikasievlak teen meer as R 100 000 ekstra koop, maak eers doodseker of die X-Trail nie aan jou behoeftes voldoen nie.

Die Nissan X-Trail word gerugsteun deur ‘n waarborg van ses jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 90 000 km, asook padbystand van 24 uur.

Die toetsvoertuig is goedgunstelik deur BB Nissan Sinoville beskikbaar gestel.