Breaking News

Nóg ‘n nuwe Vier op pad na Suid-Afrika

In 2014 het BMW sy eerste 4-reeks Gran Coupé bekendgestel.

Hierdie model het die sportiewe voorkoms van ‘n koepee met die praktiese eienskappe van ‘n luikrug gekombineer en het ‘n alternatief gebied vir diegene wat ‘n sportiewe gesinsmotor wou gehad het. Die tweede geslag is pas internasionaal bekendgestel en hy sal teen die einde van vanjaar in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Die Gran Coupé sluit hom by die 4-reeks koepee en afslaankap aan, en sal in München op dieselfde produksielyn as die elektriese i4, wat vroeg aanstaande jaar na Suid-Afrika kom, vervaardig word. Die nuwe model se asafstand is 46 langer as dié van sy voorganger en die motor self is altesaam 143 mm langer as voorheen. Die bagasieruim hou 470 liter, of 1 290 liter wanneer die agtersitplekke platgevou word. Die voorkant van die Gran Coupé beskik oor dieselfde sierrooster wat vir die koepee en afslaankap gebruik word, met slanke ligdiode-kopligte, luguitlate met ‘n gaasontwerp en dagryligte. Aanpasbare ligdiode-kopligte asook BMW se Laserlight-tegnologie is opsioneel beskikbaar. Die vorige model se raamlose deure word behou , en aan die agterkant is daar ligdiode-agterligte wat om die hoeke krul asook ‘n geïntegtreerde drukvlerk. Die sleurkoëffisiënt van 0,26 is 0,02 laer as dié van sy voorganger.  Die M 440i xDrive Gran Coupé beskik oor modelspesifieke stileringskenmerke soos ‘n grys rand vir die sierrooster, en grys afwerking vir die spieëls, modelkentekens en uitlaatpype terwyl die afwerking vir die stroke aan die kant en die onderste deel van die agterstamper in glansswart afgewerk word. Die agterste stilering word met ‘n model-spesifieke drukvlerk afgerond.  Die res van die reeks is ook met ‘n M Sport-stileringspakket beskikbaar, terwyl ‘n koolvesel-stileringspakket saam met die M Sport-pakket bestel kan word. Dit bestaan onder meer uit buitespieëls en ‘n agterste lugverdeler met ‘n koolvesel-afwerking, asook ‘n spesiale agterste drukvlerk in koolvesel. 

Aan die binnekant is daar ‘n hoë middelkonsole wat die beheerknop vir die inligting-en-vermaakstelsel bevat, tesame met die elektroniese parkeerrem, die aansitknoppie en die ratkieser. Sportsitplekke en ‘n leeroorgetrekte sportstuurwiel is standaard toerusting vir al die modelle terwyl opsionele ekstras soos ‘n Harman Kardon-klankstelsel, ‘n panoramiese sondak en atmosfeer-beligting teen ekstra koste beskikbaar is. Die BMW operating System 7 is gebruikers-vriendelik vir die bestuurder en die passasiers, en gebruikers kan van die raakskerm, die beheerknop op die middelkonsole, die knoppies op die stuurwiel, stemopdragte of die opsionele handgebaarfunksie gebruik maak. Die digitale instrumentepaneel uit die res van die 4-reeks is standaardtoerusting, saam met ‘n 8,8 duim raakskerm, maar ‘n 12,3 duim skerm is opsioneel beskikbaar as deel van die  BMW Live Cockpit Professional. Daarby is ‘n M Sport-pakket ook vir die binnekant beskikbaar; dit bestaan uit sportsitplekke met spesifieke bekleedsel, ‘n M-leerstuurwiel, skermplate in die deure met die M-kenteken en ‘n antrasiet-kleurige afwerking vir die dak asook aluminium-stroke vir die paneelbord en deure. 

Die internasionale reeks bestaan uit die 420i Gran Coupé, die 420d Gran Coupé, die 430i Gran Coupé, die M 440i xDrive Gran Coupé en die 420d xDrive Gran Coupé. Die M440i en die dieselmodelle sal toegerus word met ligte hibriede-tegnologie met ‘n  48 Volt-battery wat ‘n bykomende 8 kW beskikbaar stel wanneer daar versnel word.  Al die modelle voldoen aan die huidige Euro 6d-standaarde vir besoedeling. Die hele reeks word met ‘n Steptronic-ratkas toegerus, maar die M440i xDrive se Sport-ratkas beskik oor ratspane agter die stuurwiel.  Hierdie ratkas is ook opsioneel vir die ander modelle beskikbaar. Die M 440i xDrive is een van twee vierwielaangedrewe modelle in die reeks. Die xDrive stelsel verdeel wringkrag tussen die voor- en agterwiele  en stuur die maksimum wringkrag na die wiele wat die meeste vastrapvermoë in enige moontlike situasie nodig het. 

Die meeste modelle in die reeks word met 17 duim allooiwiele toegerus , maar die 440i xDrive spog met 18 duim M-allooiwiele,asook ‘n M Sport-ewenaar met ‘n agterste ewenaarslot. Laasgenoemde kenmerk is ook vir die 430i beskikbaar indien die M-sportvering of die aanpasbare M-veerstelsel gekies word. Die aanpasbare veerstelsel stel  die bestuurder in staat om verskillende bestuursmodusse te kies, onder meer die Adaptive-modus, wat die stuurstelsel, die ratwisseling en reaksie van die versneller outomaties by die bestuurder se bestuurstyl aanpas. Benewens die allooiwiele van 17 of 18 duim is daar ook ontwerpe van tot 20 duim beskikbaarmet hoëverrigtingsbande as die eienaar dit sou verkies. 

Altesaam veertig bestuurshulpmiddels is standaardtoerusting of teen ekstra koste beskikbaar. Onder die standaard kenmerke is aanpasbare spoedbeheer met snelheidsperkhulp, voorbots-waarskuwing, baandwaal-waarskuwing, parkeersensors met ‘n trukamera en inligting oor spoedbeperkings. Daarby kan ‘n meer gevorderde parkeerhulpstelsel met kameras reg rondom die voertuig ook bestel word. 

Die pryse, asook besonderhede en spesifikasies van die Suid-Afrikaanse reeks sal met die plaaslike bekendstelling bekendgemaak word.

%d bloggers like this: