Breaking News

Nóg ‘n spesiale Ranger op pad

Die Ford-motormaatskappy van Suid-Afrika (FMCSA) het aangekondig dat nóg ‘n spesiale weergawe van die Ranger binnekort in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Die Ranger Strormtrak sal die gaping tussen die Wildtrak en die Raptor vul en voornemende kopers sal tussen ‘n 4×2 en ‘n 4×4 kan kies. Die bekendstelling van die Stomtrak volg op die sukses wat die beperkte Thunder-model behaal het toe dit verlede jaar op die mark gekom het. 

Verskeie unieke stileringskenmerke sal die Stormtrak van die res van die reeks onderskei, onder meer ‘n nuwe skakering van rooi, wat saam met grys, wit en blou beskikbaar sal wees. Die sierrooster spog met ‘n gaaspatroon en rooi insetsels, en daar is swart strepe op die enjinkap, onder aan die deure asook swart dakspore en swart 18 duim-allooiwiele.

Aan die binnekant  word die Stormtrak onderskei deur middel van verligte skermplate in die deure, leersitplekke met rooi stikwerk en die Stormtrak-kenteken in die voorste kopstutte, asook rooi stikwerk op die paneelbord, die ratkieser en die stuurwiel. Soos met die Wildtrak, spog die Stormtrak met Ford se Sync 3-inligting-en-vermaakstelsel, met satelliet-navigasie en Apple Car Play- en Android Auto-verbinding.  Die Ford Pass-stelsel wat die bestuurder in staat stel om deur middel van ‘n slimfoon-toepassing met die voertuig kontak te maak, is standaard toerusting. 

Die Stormtrak beskik oor ‘n aantal praktiese kenmerke wat sy veelsydigheid verder beklemtoon, soos ‘n kragbeheerde deur vir die laaibak wat soos ‘n garagedeur oprol, rubbervboering, ‘n 12 volt-kragpunt en ‘n verdeler vir die laaibak wat die eienaar in staat stel om verskillende goedere wat vervoer word in kompartemente te verdeel en te keer dat dit rondrol wanneer daar bestuur word. Die sportiewe voorkoms word met ‘n swart sportstaaf agter die kajuit afgerond.

Dieselfde veiligheidskenmerke wat in die Wildtrak  gebruik word, is standaard toerusting vir die Stormtrak, onder meer voorbots-waarskuwing, aanpasbare spoedbeheer, outonome noodremhulp, baanhouhulp, paralle-lparkeerhulp en ‘n waarskuwing as die bestuurder nie sy of haar volle aandag op die pad gee nie.

Aangesien die Stormtrak op die Wildtrak gebaseer is, is dieselfde enjin en ratkas standaard toerusting. Dit beteken dat die tweeliter-diesel enjin met twee turboaanjaers wat aan ‘n outomatiese ratkas met tien gange gekoppel word, ook vir die Stormtrak gebruik word. Hierdie enjin lewer 157 kW teen 3 750 opm en wringkrag van 500 Nm teen tussen 1 500 en 2 000 opm. 

Die pryse van die twee Stormtrak-modelle, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van ses jaar  of 90 000 km insluit, is R 790 300 vir die Hi-Rider 4×2 en R 846 900 vir die 4×4.

%d bloggers like this: