Deur Daantjie Badenhorst, Motorplus-korrespondent.

Sedert Toyota se gewilde Dyna-vragmotor in 1965 die eerste keer bekendgestel is, is dit as ‘n middelslag-handfelsvoertuig geklassifiseer en ‘n mens het ‘n rybewys vir daardie klas voertuig nodig gehad om hom te kon bestuur.

Nou het dit egter verander, danksy Toyota wat die onderstel sodanig herontwerp het en die Dyna ‘n drieliter-dieselenjin sonder ‘n turbo-aanjaer wat met ‘n sagteware-program toegerus is, wat die topsnelheid elektronies tot 100 km/h beperk, gegee het, sodat nie dat dit nou as ‘n ligte vragmotor geklassifiseer word. Daar kan nie met hierdie sagteware-program, waarmee die Hino 300, 500 en 700-reeks vragmotors volgens wet toegerus moet word, gepeuter word nie. Daarby is die nuwe onderstel 50 kg ligter en die bruto-voertuigmassa is 3,5 ton.

Die regering het regulasies in werking gestel ingevolge waarvan middelslag-, swaar- en ekstra swaar handelsvoertuie met snelheidsbeperkers toegerus moet word. Middelslag-handelsvoertuie se topsnelhede word beperk tot 100 km/h, en dié van swaarder handelsvoertuie tot 80 km/h.

Ernie Trautmann, die visepresident van Hino SA, Toyota se afdeling vir swaar handelsvoertuie, sê die Dyna moes geherklassifiseer word, anders sou hy aan die mark onttrek moes  word. Volgens hom wou die Toyota SA dit nie doen nie, omdat die Dyna ‘n gewilde model is wat vir verskeie doeleindes aangewend kan word.

“Ons het ook die geleentheid gebruik om die Dyna in verskeie opsigte te verbeter,” sê Trautmann.  “Die nuwe modelle word nou met sluitweerremme toegerus,  en kry die smal kajuit wat in sekere Hino 300-modelle gebruik word. Die voorste paneel bestaan nou uit een deel pleks van drie, en die rooster en stamper is herontwerp. Daarby is daar nuwe halogeenkopligte met veelvuldige weerkaatsers.”

“Die binnekant is ook herontwerp, met ‘n nuwe paneelbord, sitplekmateriaal van ‘n hoër gehalte en koppiehouers vir die bestuurder en die voorste passasier.”

Volgens Trautmann sal die herklassifikasie van die Dyna beteken dat ‘n kode B-rybewys voldoende sal wees om hom te kan bestuur.  Die feit dat dit nie nodig sal wees om elke jaar getoets hoef te word om geskik verklaar te word nie, sal ‘n verdere voordeel vir eienaars wees.

%d bloggers like this: