Nuwe Audi A7 Sportback is hier

0 Comments

Die tweede geslag van Audi se A7 Sportback is pas in Suid-Afrika bekendgestel en kombineer dinamiese stilering, ‘n sportiewe bestuurs-ervaring, digitale tegnologie en veelsydigheid.

Die buitestilering weerspieël Audi se hedendaagse ontwerprigting met atletiese lyne wat dinamika en progressiwiteit van alle hoeke af weerspieël.  Aan die voorkant is daar smal kopligte met HD Matrix-ligdiode-tegnologie as standaardtoerusting en dinamiese rigtingwysers, wat ‘n Audi-kenmerk geword het. Die groot seshoekige sierrooster oorheers die vooraansig .

Die lang enjinkap en asafstand tesame met die kort oorhange is kenmerke van die kantaansig en die silhoeët word deur die daklyn, wat skerp na ondertoe loop, gedefinieer. Daar is wiele van verskillende ontwerpe en groottes, tot 21 duim, beskikbaar. Die groot luikdeur bevat ‘n drukvlerk wat teen snelhede hoër as 120 km/h uitkom, en teen laer snelhede in die bakwerk weggesteek word. Een nuwe kenmerk wat die A7 Sportback met die Q8 deel, is ‘n breë ligstrook tussen die agterlig-samestellings; al Audi se topmodelle sal voortaan hiermee toegerus word. Daar is byna heeltemal met chroom weggedoen en onder die vyftien beskikbare bakkleure is daar agt wat splinternuut is. 

Die binnekant is vol tegnologiese kenmerke en ‘n groot panoramiese sondak is standaard toerusting.  Aan die bokant is daar ‘n 10, 1 duim-skerm wat na die bestuurder toe gedraai is. Die belangrikste funksies word deur middel van die skerm of ‘n MMI-beheerknop in die middelkonsole beheer en stembeheer is opsioneel beskikbaar. Nog ‘n opsionele ekstra is ‘n vertoonpaneel tussen die vooruit en die instrumente-paneel wat die belangrikste inligting weergee.  Die A7 Sportback het ‘n viersone-klimaat beheerstelsel as standaard toerusting. 

Daar is op hierdie stadium nog net een model beskikbaar, naamlik die A7 Sportback 55 T FSI quattro S-Tronic, wat toegerus word met ‘n turbo-aangejaagde drie-liter enjin met ses silinders wat 250 kW teen 5 000 opm en 500 Nm teen tussen 1 370 en 4 500 opm  lewer en aan ‘n S-Tronic-ratkas met agt gange gekoppel word. Die reeks sal deur die loop van 2020 uitgebrei word met die toevoeging van die S7 Sportback en die RS 7 Sportback.

Die prys van die A7 Sportback 55 T FSI quattro S-Tronic, wat ‘n volledige onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, is R 1 250 000. Voornemende kopers van die onderhoudsplan  teen ekstra koste tot ‘n maksimum tydperk van tien jaar of 300 000 km verleng.

 

Categories:
%d bloggers like this: