Breaking News

Nuwe Defender spog steeds met unieke kenmerke

Een van die nuwe voertuie wat in 2020 in Suid-Afrika op die mark kom, en waarna baie mense uitsien, is die nuwe Land Rover Defender.

Hoewel die Defender dieselfde naam as sy legendariese voorganger dra, is hy splinternuut en geen meganiese kenmerke van die vorige model word na sy opvolger oorgedra nie. Daar is egter vyf kenmerke wat die vorige Defender so besonders gemaak het en wat steeds deel van die nuwe model se ontwerp is.

“Alpine”-vensters

Dit was nog al die jare ‘n uitstaande Land Rover-kenmerk. Dié vensters, aan die bokant van die agterste deel van die bakwerk, is aanvanklik in die ontwerp ingesluit om lig in die kajuit in te bring. Die ander voordeel is dat dit ‘n plek is waardeur ‘n mens kan uitkyk  wanneer daar deur bergreekse gery word of wanneer wild besigtig word.

Agterklap wat aan die kant geskarnier is

Hier is nog ‘n jarelange Land Rover-kenmerk. Dit is só ontwerp om plek vir die noodwiel te maak en die nuwe model se agterklap is 30 000 keer in toetse oop- en toegemaak in temperature wat gewissel het van -30 tot 80 grade Celsius.

Buite-gemonteerde noodwiel

Die noodwiel was nog altyd buite gemonteer om so toeganklik moontlik te wees. Vroeër jare was dit op die enjinkap, maar dit het later na die agterklap op die stasiewaens en die laaibak op die bakkies verskuif. Nie net word toegang daartoe vergemaklik nie; dit verbeter ook die voertuig se vertrekhoek. Die noodwiel word met swaardiens-wielmoere vasgemaak.

Geharde staalwiele

Hoewel die nuwe reeks allooi-wiele as standaard toerusting kry, is geharde staalwiele van 18 duim met veldrybande opsioneel beskikbaar. Dit het ‘n buitekantste deursnee van 815mm; die grootste in die hele Land Rover-reeks

Dowwe groen verfkleur

Toe die eerste Land Rover in 1948 bekendgestel is, is die kleurkeuse deur oortollige vliegtuigverf bepaal; gevolglik is die eerste Land Rover in ‘n dowwe groen kleur geverf.  Die verfkleur van die laaste oorspronklike Defender, wat as die Heritage Edition bekendgestaan het, was Grasmere-groen, wat baie dieselfde gelyk het. Die nuwe model is in ‘n nuwe weergawe, bekend as Pangea-groen, beskikbaar.

 

Volgens Gerry Mc Govern, die ontwerphoof van Land Rover, is die nuwe Defender deur sy voorganger geïnspireer maar nie daardeur beperk nie. Hy beskou die nuwe model as ‘n Defender vir die nuwe geslag met ‘n kenmerkende voorkoms wat hom uiters begreerlik maak, maar terselfdetyd oor die integriteit beskik om nog steeds ‘n uitsonderlike veldryer te wees.

Die Defender 110 sal in die eerste helfte van 2020 in Suid-Afrika bekendgestel word terwyl die kortbak-model, bekend as die Defender 90, later in 2020 sal volg.

%d bloggers like this: