Nuwe JCW’s die kragtigste MINI’s nóg

0 Comments

Die nuwe MINI Clumban en Countryman John Cooper Works-modelle, die kragtigste MINI’s wat die afgelope sestig jaar bekendgestel is, is nou beskikbaar.

Die hart van dié twee nuwelinge is ‘n omvattend hersiene weergawe van die enjin waarmee die S-modelle toegerus word. Nie net is die krukas-aandrywing spesifiek vir dié modelle aangepas nie, die nuwe modelle trek ook voordeel uit John Cooper Works se kennis van motorsport, met die gevolg dat hulle met die jongste geslag van MINI se Twin Power-turbo tegnologie spog. Die turbo-aanjaer is groter as voorheen en die enjin se druk-verhouding is verminder om daarby aan te pas.  Die twee-liter enjin met vier silinders lewer 225 kW teen tussen 5 000 en 6 250 opm en wringkrag van 306 Nm teen tussen 1 750 en 4 500 opm; ‘n verbetering van 28% bo die vorige modelle. Die nuwe JCW-modelle se topsnelhede word, vir die eerste keer in ‘n MINI, tot 250 km/h beperk; die Countryman en Clubman kan binne 4,9 en 5,1 sekondes onderskeidelik van 0 tot 100 km/h versnel.

Die uitlaat-stelsel is ook spesifiek vir die nuwe modelle ontwikkel, en sorg vir ‘n enjinklank waaroor geesdriftiges gaande sal wees. Die kraglewering van die enjin kan intens gevoel word met ‘n emosie-belaaide akoestiese ontwerp wat die motor se karakter-eienskappe as verrigtings-motor onderstreep. Die dubbele uitlaatpype word aan ‘n besonder groot knaldemper gekoppel. Die pype van albei modelle is in die agterste hoeke aangebring; die deursnee van die Clubman se pype is 95 mm en dié van die Countryman 85 mm.

Die nuwe modelle het BMW se jongste Sport Steptronic-ratkas met agt gange as standaard toersting. Dié ratkas is intern meer doel-treffend en enjin-snelheid word beperk wanneer daar teen hoër snelhede bestuur word; dit maak die motor meer brandstof doeltreffend.  Ratwissel-dinamika en rugerief word deur ‘n nuwe ratkas beheer-stelsel verbeter. Ratspane op die stuurwiel is standaard toerusting en stel die bestuurder in staat om ratte vining te wissel sonder om ‘n koppelaar te gebruik. Daar is ook ‘n lanseerfunksie, wat versnelling vanuit ‘n stilstaande posisie verbeter deur vastrapvermoë te verhoog.

Die meganiese ewenaarslot word aan die dinamiese stabiliteits-beheer gekoppel; dit verhoog bestuursgenot om draaie maar verbeter ook vastrapvermoë in slegte weers-omstandighede of op los oppervlaktes.  Dit versprei die wringkrag na die ander wiel as die een voorwiel tol en voorkom ‘n gebrek aan vastrapvermoë. Daarby verbeter dit die motor se ratsheid wanneer daar vining van rigting verander word of uit ‘n draai versnel word.

Albei modelle word standard met die All 4-vierwiel aandrywing-stelsel toegerus; dié stelsel is omvattend vir albei modelle opgeknap. Dit word gekoppel aan die stabiliteits beheer en bereken gedurig die ideale krag-verspreidings verhouding tussen die voor- en agterwiele. Gevolglik word die uitstaande enjinkrag altyd gekanaliseer na die plek waar dit die doel-treffendste aangewend kan word om bestuursgenot te verhoog. Onder normale omstrandighede en met die stabiliteits-beheer aangeskakel, word krag na die woorwiele gestuur, maar wanneer toestande dit vereis, word dit binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde ook na die agterwiele gestuur.

 Hoewel sportvering standaard toerusting vir albei modelle is, is ‘n aanpasbare onderstel met verskillende bestuurs-modusse wat volgens behoefte gekies kan word om gerief of ‘n meer sportiewe bestuurs-ervaring te verseker, na aanleiding van die bestuurder se behoeftes. Albei modelle het 18-duim John Cooper Works-alloowiele met ‘n swart speekontwerp as standaard toerusting maar verskeie ander 18- en 19-duim ontwerpe is opsioneel beskikbaar.

Die buitestilering bevat kenmerke wat eie aan die John Cooper Works-modelle is, onder meer groot luguitlate aan die voorkant om die beste moontlike verkoeling vir die enjin en die remstelsel te verseker. Daarby is daar syskorte en ‘n groot agterste lugverdeler, asook spesifieke drukvlerke op die dak en aërodinamies doeltreffende buitespieëls. Die dope vir die buitespieëls en die dak is opsioneel met rooi afwerking beskikbaar en die luguitlate aan die kant van die motors is ook ‘n unieke ontwerp. Die middelste deel van albei modelle se sierroosters spog met ‘n heuningkoek-patroon en die agterligte van die Clubman weerspieël die ontwerp wat onlangs vir die res van die reeks bekendgestel is.

Die sportiewe binneruim bevat sportsitplekke met geïntegreerde kopstutte, ‘n sportstuurwiel met ratspane, ‘n antrasietswart da ken ‘n John Cooper Works-ratkieser. Onder die ander standaard kenmerke vir albei modelle is sleutellose toegang, LED-kopligte, asook ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n 6,5 duim raakskerm. Die Connected Media-toerusting gee toegang tot verskeie dienste, onder meer sommige wat opsioneel beskikbaar is, soos ‘n gebruikers-vriendelike navigasie-stelsel, werklike verkeersinligting, en versoenbaarheid met Apple Car Play.  Die mobiele netwerverbinding maak dit moontlik om die navigasiestelsel se landkaarte by te werk.

Die pryse van die nuwe modelle, wat ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, is R 623 716 vir die Clubman en R 689 172 vir die Countryman.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: