Nuwe Jeep Wrangler nou beskikbaar

Die nuwe Jeep Wrangler met ‘n geskiedenis van meer as sewe dekades, is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe Wrangler behou sy klassieke voorkoms, maar in elke ander opsig is die nuwe model ‘n groot stap vooruit in vergelyking met sy voorgangers. Die nuwe model word toegerus met een van twee aandrywing-stelsels na gelang van die spesifikasievlak; die gevorderde stelsels staan bekend as Command-Trac en Rock Trac. Die voor- en agterasse kan elektronies gesluit word, terwyl ‘n Track-Lok vastrapewenaar ook beskikbaar is. Die Comand Trac- en Rock Trac-stelsels is standaard toerusting op die Sahara- en Rubicon-modelle onderskeidelik. Die Rubison se stelsel verbeter sy veldryvermoë aansienlik, maar albei stelsels beskik oor die tweegang- Selec Trac-voltydse oordraratkas wat die verspeiding van wringkrag tussen die voor- en agterwiele deurentyd dophou en bestuur.

Die Command-Trac-stelsel beskik oor vier bestuurs-modusse, naamlik 2H (tweewiel-aandrywing; hoëstrek), 4 H Auto (voltydse aktiewe hoëstrek-vierwiel-aandrywing wanneer nodig), 4 H Part-Time (deeltydse vierwiel-aandrywing: hoëstrek) en 4 L (vierwiel-aandrywing: laestrek). Die verskillende modusse kan deur middel van ‘n skakelaar gekies word teen ‘n snelheid van tot en met 72 km/h. Onder normale omstandighede werk die Command-Trac-stelsel met tweewiel-aandrywing en word die wringkrag voltyds na die agterwiele gevoer, maar die bestuurder kan moeilike omstandighede soos sand, modder, sneeu, ys of harde reën baasraak deur die 4 H-verstelling te kies. Vir selfs moeiliker terrein, soos 4×4-roetes of uitdagende veldrytoestande is die 4L-modus beskikbaar. Die Trac Loc-vastrapewenaar wat vir die Sahara beskikbaar is, bied bykomende wringkrag en vastrapvermoë vir moeilike toestande.

Die Roc Trac-stelsel waarmee die Rubicon-modelle toegerus is, bied selfs beter veldryvermoë vir hardebaard-veldryers.  Hierdie stelsel bevat ‘n tweegang-oordraratkas met ‘n 4,0:1-laestrek-ratverhouding, nuut ontwikkelde swaardiens-Dana 44-aste en Tru-Lok elektriese slotte vir die voor- en agteraste wat die voertuig in staat stel om selfs die mees veeleisende veldry-toestande aan te durf. Elke Wrangler word toegerus met Jeep se Trail Rated-kenteken, wat net op ware veldrymodelle met laestrek aangebring word.  Dit is die gevolg van veeleisende toetse wat op die nuwe modelle uitgevoer is; die voertuie se hanteer-baarheid, vermoë om deur water te ry en vastrap-vermoë is kenmerke wat tot die uiterste beproef is. Die voertuie se sleepvermoë is 1 500 kg en 2 500 kg vir die twee- en vier-deurmodelle onderskeidelik. 

Hoewel die Wrangler splinternuut is, kan hy vir niks anders as ‘n Jeep aangesien word nie; die sierrooster met sewe gate, die ronde kopligte, die voorruit wat platgevou kan word, die deure wat afgehaal kan word, die trapesium-vormige modderskerms en sigbare skarniere vir die deure is alles uitstaande kenmerke wat die Wrangler van feitlik elke ander voertuig onderskei.  Die groter kantruite verbeter sigbaarheid, veral in moeilike veldry toestande. Die kopligte en ligdiode-misligte dra by tot die Wragler se eiesoortige voorkoms en daar is dagryligte aan die voorkant van die modder-skerms aangebring. Hoewel die agterligte hul kenmerkende vierkantige voorkoms behou, word ligdiode-tegnologie gebruik. Die voorruit kan maklik platgevou word maar daar is ‘n staaf wat die A-pilare met mekaar verbind en sorg dat die trusipeël sy plek behou selfs wanneer die voorruit platgevou word. Die Sahara-modelle se modderskerms is dieselfde kleur as die bakwerk, maar daar is swart insetsels aan die onderkant. 

Die Wrangler is die enigste oopdak-4×4 op die Suid-Afrikaanse mark en daar is twee dak-keuses beskikbaar, naamlik ‘n harde dak met drie panele en ‘n verbeterde sagte dak. Die harde dak is in swart of dieselfde kleur as die bakwerk beskikbaar. Die noodwiel is steeds op die agterklap gemonteer, maar laer as voorheen om sigbaarheid te verbeter. Die Rubicon en Sahara word onderskeidelik met 17 – of 18-duim allooi-wiele toegerus. Daar is altesaam tien verskillende kleure beskikbaar, onder meer skakerings van wit,  swart, rooi, blou, silwer, geel en grys. 

Die binneruim van die Wrangler is aansienlik opgeknap en materiale van ‘n hoër gehalte word gebruik. Die middelkonsole bevat klimaat-beheer, ronde luguitlate, ‘n raakskerm van 8,4 duim met die mees gevorderde vertoon-paneel wat nog ooit vir ‘n Wrangler gebruik is. Dit bevat Android Auto en Apple Car Play, asook die vierde geslag Uconnect-inligting en-vermaak-stelsel, wat onder meer oor satellietnavigasie beskik.  Onder die raakskerm is die kontroles vir die klimaatbeheer, volume-beheer vir die klankstelsel en twee USB-kragpunte. Daar is ook twee vir die agterste insittendes. Daar is ook 12 volt-kragpunte oral in die kajuit. Daar is ook verskeie bêreplekke vir los goedere, soos deursakke met ‘n gaas-voorkoms, bekerhouers en oorgenoeg plek vir slimfone. Die paneelkissies tussen die sitplekke en in die paneelbord kan gesluit word om goerede veilig te hou wanneer die voorruit platgeslaan word. Agter die agtersitplek is daar onder die vloer  ook ‘n plek waar klein items veilig gebêre kan word. Daar is ‘n nuwe stelsel vir die bagasieruim beskikbaar wat dit maklik maak om die vrag te organiseer en toegang daartoe vergemaklik. Aan die onderkant van die bagasieruim is daar plek om boute en moere te bêre, veral vir die dak, voorruit en deure wanneer daar in die veld gery word en al hierdie items verwyder of platgeslaan word. Dit beklemtoon die feit dat die Wrangler ontwikkel is om so prakties en veelsydig as moontlik te wees. Die binneruim van die Wrangler is ook ten volle wasbaar; daar is rubberbeskerming vir die inligting-en-vermaakstelsel om sake verder te vergemaklik.

Die Wrangler-reeks word aangedryf deur die jongste weergawe van die Pentastar V6-enjin van 3,6 liter wat aan ‘n splinternuwe outomatiese ratkas met agt gange gekoppel word. Hierdie enjin lewer 212 kW teen 6 400 opm en wringkrag van 347 Nm teen 4 100 opm en ‘n stop-en-rystelsel is standaardtoerusting. Die enjin is ontwikkel om soveel wringkrag teen lae toere, wat noodsaaklik vir veldrytoestande is, te verseker en is net vir spesifieke markte buite Europa, soos die Midde-Ooste en natuurlik ook Suid-Afrika, beskikbaar. 

Die Wrangler beskik oor verskeie veilgheids-kenmerke as standaard toerusting, waaronder parkeer-sensors voor en agter, ‘n trukamera, vier lugsakke, stabiliteitsbeheer en  bakrolbeheer.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n onderhoudsplan van drie jaar of 100 000km insluit, lyk as volg:

 

Wrangler 3,6 Sahara 2-deur: R 860 000

Wrangler 3,6 Rubicon 2-deur: R 900 000

Wrangler 3,6 Sahara 4-deur: R 890 000

Wrangler 3,6 Rubicon 4-deur: R 915 000

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: