Die nuwe weergawe van die Sorento word by die Frankfurt-motorskou van 12 tot 16 September ten toon gestel. Die nuwe model sal nie net van buite af opgeknap word nie, maar ook oor ‘n aantal nuwe kenmerke beskik wat  hom veiliger en meer tegnologies gevorderd as voorheen gaan maak.

Volgens mnr. Michael Cole, die operasionele hoof van Kia Motors in Europa, is daar in 2016 meer as 15 000 eenhede van die Sorento dwarsdeur Europa verkoop en hierdie modelreeks vervul ‘n belangrike rol in die volgehoue toename in verkope. Hoewel die huidige Sorento by ‘n groot teikenmark aanklank vind weens hoogstaande bougehalte, veelsydigheid en waarde vir geld, glo Cole dat die nuwe model se nuwe buitestilering, binneontwerp en veiligheidskenmerke hom nog gewilder as voorheen sal maak.

Die ontwerpers het met ‘n aantal nuwighede aan die buitekant vorendag gekom, onder meer herontwerpte stampers voor en agter, nuwe LED-kop-en agterligte en ‘n nuwe afwerking vir die sierrooster in donker metaalverf. Daar is ook twee nuwe verfkleure en die allooiwiele, wat in grootte wissel tussen 17 en 19 duim, is nuut ontwerp.  Aan die binnekant is daar ‘n nuwe stuurwiel, en ‘n vloeikristal-beheerpaneel vir die klimaatbeheer, terwyl die paneelbord oor ‘n nuwe oudiovisuele navigasiestelsel beskik.  Voornemende kopers kan kies tussen swart of swart en beige bekleedsel in materiaal of leer, maar bruin of liggrys bekleedsel is ook beskikbaar. Die voorste sitplekke is toegerus met leundesteun met twee of vier verstellings vir die voorste passasier en die bestuurder onderskeidelik.

Die belangrikste nuwe kenmerk aan die tegniese kant is ‘n nuwe outomatiese ratkas met agt gange; die Sorento is die eerste sportnutsvoertuig wat hiermee toegerus word. Hierdie ratkas vervang die vorige een wat net ses gange gehad het,  maar ‘n handratkas met ses gange is ook steeds beskikbaar. Daar is minder beheerkleppe, wat ‘n meer regstreekse skakel na die enjin tot gevolg het, en gladder ratwisseling moontlik maak.  Daarby is versnelling ook baie beter en uitlaatgasse word teen 159 g/km uitgeskei. Daar is vier bestuursmodusse, naamlik Eco, Comfort, Sport en Smart. Die Smart-modus pas outomaties aan by die bestuurder se voorkeure, snelhede en bestuursomgewings. Hierdie ratkas is beskikbaar vir modelle wat met die turboaangejaagde dieselenjin van 2,2 liter toegerus is.

Bo-aan die nuwe Sorento-reeks is ‘n nuwe vlagskip, bekend as die GT-Line. Hierdie model kan uitgeken word aan ‘n paar unieke stileringskenmerke, soos vier LED-misligte links en regs voor, rooi remknypers en subtiele GT Line-kentekens. Aan die binnekant is daar swart leerbekleedsel met die GT Line-kenteken ingeborduur en kontrasterende grys stikwerk. Daar is ook unieke ratspane agter die stuurwiel en santynchroom afwerking.

Die nuwe Sorento is veiliger as sy voorganger danksy ‘n aantal nuwe kenmerke soos gevorderde bestuurshulpstelsels wat daarop gemik is om ongelukke te voorkom of die erns daarvan te verminder. Daarby is daar ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku wanneer hy of sy moeg word of besig is om konsentrasie te verloor. Wannewer dit gebeur, is daar ‘n hoorbare alarm en ‘n grafiese waarskuwing kom op die instrumentepaneel voor.  Daar is ook ‘n stelsel wat jou waarsku as jy onbewustelik op die oop pad van baan verwissel, asook LED-kopligte.

Aan die binnekant is die Sorento beskikbaar met ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n skerm van agt duim. Dit sluit ‘n navigasiestelsel in, en dit is versoenbaar met Android Auto en Apple Car Play.  Daar is ook ‘n koordlose laaier waarmee eienaars hul selfone kan laai terwyl hulle bestuur.

Die nuwe Sorento sal in die laaste kwartaal van 2017 in Europa op die mark kom, maar dit is nog te vroeg om te sê wanneer hy in Suid-Afrika bekendgestel sal word.

@KIAMotorsSA

%d bloggers like this: