Nuwe Lexus ES is groter

0 Comments

Die splinternuwe sewende geslag- Lexus ES is sopas in Suid-Afrika bekendgestel. Die Lexus ES is bekend vir sy gerief, verfyning en luukshede as standaard en die nuwe ES bou voort hierdie sterk punte met nou nog meer binneruimte danksy die nuwe onderstel wat ’n meer dinamiese buite-ontwerp en selfs beter ryverrigting in tot gevolg het. Die langer asafstand (+50 mm) het die ontwerpers in staat gestel om die wiele nader aan die verste hoeke van die motor te plaas, wat tot ’n groter spoor voor en agter (+10 en +37 mm) gelei het.  Die nuwe ES is ruimer, stiller en veiliger as te vore. Die reeks sluit in die ES 250-petrolenjinmodel sowel as die ES 300h, wat al twee van Oktober 2018 af te koop sal wees. Die ES 300h word deur ’n nuwe selflaai-hibriedstelsel aangedryf.

Die sewende geslag ES volg die nuwe Lexus LS-vlagskipsedan en LC koepee se nuwe Lexus stileringspatroon. Die nuwe ontwerp breek weg van dié van vorige geslagte en bestaan ’n daklyn wat na agter afloop en die voertuig se laer houding en soepel lugdinamika beklemtoon. Die agterkant is skoon en skerp uitgebeitel, met ligdiode-ligte wat om die kwartpanele vou om ’n deurlopende stilleringslyn te skep wanneer dit uit enige hoek gesien word. Twee verskillende 17- en 18”-wielontwerpe is vir die ES-modelle beskikbaar. Die ES 250 EX is toegerus met 17”-multispeek-allooiwiele en die ES 300h SE het 18”-wiele (Hyper Chrome Cast) wat geraas verminder en ’n turbine-ontwerp het. Die hibriedmodel het ook ’n drukvlek agter wat deel van die standaardtoerusting is.

Ligdiode-kopligte is deel van die ES 250 EX-model se standaardtoerustig. Die slanke, kompakte koplig  het ’n tweeling-ligdiode-eenheid met geïntegreerde ligdiode-dagryligte in die klassieke Lexus L-motief. Die ligdiode-kopligte maak voorsiening vir ’n kompakte ontwerp en benodig minder energie, wat ’n bydrae tot verbeterde brandstofverbruik lewer.

Driestraal-ligdiode-kopligtegnologie word vir die SE-hibriedmodel gebruik wat drie kompakte dubbele ligdiode-eenhede behels. Die rigtingwysers en kantligte, wat net uit ligdiodes bestaan, is ook ingesluit en sy aanpasbare hoëligstraal-stelsel (AHS) is ontwerp om beter sigbaarheid met behulp van die hoëstraal-kopligte te bied.

Die Lexus ES-reeks bestaan ​​uit nege kleure wat wit kwarts, platinumsilwer, kwikgrys, siersteenblou, swart en morello rooi insluit. ’n Splinternuwe kleur vir die Lexus ES sluit soniese titaan in en nuwe eksklusiewe kleure word ook aangebied, waaronder ys-ekroe (ongeblykte linne of sy) en olyfgroen.

Ter opsomming sluit ander eienskappe in die ES-modelle ’n glasdak wat kan kantel en oopskuif vir al twee modelle in. Die bagasieruimvermoë vir die EX 250 is met 70ℓ verminder, terwyl die hibried-model vyf liter meer het. Die hibried-model se bagasieruim het ook ’n drukknoppie waarmee dit maklik toegemaak kan word.

 

Binneruim

Die bestuurder se fokus word op die pad vorentoe gehou deur die middelste vertoonskerm, instrumentepaneel en weerkaatsskerm (in die SE 300h) in ’n stywe groepering binne die bestuurder se gesigspunt te plaas. Lexus noem hierdie konsep “Seat in Control”, ’n eenvoudige idee wat verseker dat al die kontroles wat jy nodig het, binne bereik is en al die inligting wat jy gebruik, maklik sigbaar is. Die armleuning gly gemaklik onder jou elmboë en die knoppies kan gedruk word sonder om jou hande van die stuurwiel af te haal, met inbegrip van die hefbome wat soos ’n bul se horings uitsteek en waarmee die bestuurder die rymodusse en kloubeheerskakelaars wat in die instrumentepaneel gehuisves word, kan verstel.

Die nuwe ES bied ’n bestuurdersitplek wat moegheid teenwerk en ’n uitstekende omvougevoel bied terwyl die korrekte bestuurshouding ondersteun word. Die vorm van die voorste sitplekke is ontwerp met inagneming van die gebruik van die stuurwiel asook in- en uitklim wat toegang vir die bestuurder vergemaklik. Verder het ​​dit tweerigting-laerugondersteuning in die ES 250 en ’n vierrigting-laerugsteunstelsel vir die hibriedmodel.

Nog ’n manier om te voorkom dat die bestuurder se aandag afgelei word, is die weerkaatsvertoning (standaard beskikbaar in die hibriedmodel) wat verwante voertuiginligting op die windskerm weerkaats. Die kleurvertoonskerm, wat ten volle verstelbaar is om by die bestuurder se voorkeur te pas, is die grootste in die luuksemotorklas. Buiten praktiese werking, soos spoed, brandstofvlak en ratposisie, bied die skerm ook spoedbeperkings, baandwaalwaarskuwing en navigasie-aanwysings.

Wat die bestuurder sien, word ook verbeter deur wat hy voel. Die bestuursposisie in die ES is verfyn met ’n natuurlike stuurwielhoek en hersiene voetposisies.

Die stuurwiel self word direk van die LS af oorgedra en pronk met ’n ergonomies gevormde rand. Die ES 300h se stuurwiel het houtversiering sowel as ingeboude verhitting.

In die ES 250 sowel as die ES 300h beheer die Lexus se sogenaamde Climate Concierge ook lugversorging, sitplekverhitting en ventilasie asook die stuurwielverwarming alles outomaties om elke insittende vinnig van ’n gemaklike omgewing te voorsien.

Verhitte sitplekke is ook beskikbaar vir die bestuurder en voorste passasier in die ES 250. Sitplekverwarmers is in die hibriedmodel ook vir die agterste insittendes beskikbaar.

Die kajuit is ook ’n gekoppelde ruimte met die beskikbaarheid van ’n navigasiestelsel in die hibriedmodel wat ’n verskeidenheid gekoppelde (aanlyn-) dienste insluit. Die navigasiestelsel het ’n multimediaskerm van 12” en tweedegenerasie-afstandraakvlakbeheer. Die stemherkenningsvermoë strek tot in ’n mobiele assistent, wat kontaklose slimfoonbeheer moontlik maak.

Die gewone kombinasiemeter het ’n TFT-loodkristalskerm van 7” met ’n vertoonskerm wat op die heersende rymodus geskoei is. ’n Optitron-tipe meter word gebruik vir die watertemperatuur en brandstofmeters. Laastens word aanskakelgrafika oor die kombinasiemeter, multimediaskerm en weerkaatsskerm vertoon, wat ’n visuele verwelkoming in die Lexus ES skep.

Die gemak van die agterste passasiers is lank reeds ’n kenmerk van die ES en die nuwe model handhaaf hierdie gehalte ten spyte van die slanke daklyn. ’n Laer heuppunt en versigtig gevormde plafon behou kopruimte, terwyl die langer asafstand sorgvuldige beenruimte verseker. Daarbenewens is elektries beheerde sitplekke in die hibriedmodel beskikbaar, wat insittendes uitstekende ontspanning en beheer bied. Alles kan van die agterste paneel af beheer word. Die beheerpaneel bied maklike toegang, terwyl die sigbaarheid vir die agterste insittendes verbeter word. Die lugversorger, die agterste sitplekverwarmer, die agterste sitplekverstellings (tot 8 grade agteroor vir beter ontspanning) asook sonskermfunksies kan van die agtersitplekpaneel af beheer word.

Die binneruim-kleuropsies sluit ’n nuwe kombinasie in wat die “uitdagende elegansie” van die ontwerptema weerspieël. Die standaardbinneruim-beslagkleure bestaan ​​uit swart, chateau (rooiwynkleur) en topaasbruin. ’n Ryk room-opsie is eksklusief vir die hibriedmodel en het bypassende room en bruin stoffering. Die binneruimbeslag vir die Lexus ES 250 EX is Nulux, wat nagemaakte leer is, terwyl die beslag vir die ES 300h SE ​​uit egte half-anilienleer bestaan.

Verder maak die ES 300h-model gebruik van tradisionele materiale soos hout, wat die ES die soort handgemaakte voorkoms gee wat klante van luuksemotors verwag en waardeer.

 

Werkverrigting

Die is ES gebou om ’n hoër verrigtingsvlak as enige van sy voorgangers te lewer. Die beginpunt was die nuweplatform. Dit is ’n buitengewoon sterk, voorwielaangedrewe onderstel wat dié van die GA-L-agterwielaandrywingsplatform vir die LC-koepee en LS-sedan met betrekking tot wringstewigheid kan ewenaar. Verskeie grade hoë sterkte staal verminder gewig in vergelyking met vorige platforms, terwyl verbeterings soos ’n splinternuwe multiskakel-agterveringontwerp, elektriese kragstuur met tandstang-montering en ’n V-stut agter die agterste sitplek die ingenieurs die veelsydigheid gegee het om die ES met nuutgevonde presisie in te stel. Die ES se veerstelsel brstaan uit MacPherson-stutte aan die voorkant en ’n sleeparm, multi-skakelvering aan die agterkant en rolstawe voor en agter in.

Hoewel die ontwerp van die voorvering soortgelyk is aan dié van die vorige ES, is verskeie veranderings aangebring om die algehele reaksie te verbeter. Die hoek van die stut self is hersien om dit beter by die ladingspoor van die wiel te laat pas ten einde ritgehalte te verbeter, terwyl ’n groter naspoorhoek (+2 grade) en toespooor (+8 mm) help om reguitlynstabilliteit te verbeter.

Die nuwe dinamiesebeheer-skokbrekers kan selfs op die kleinste bewegings reageer danksy ’n nie-oorvleuelende klep wat die demper-olie in enige rigting kan laat vloei voordat dit die hoofklep bereik.

Die ontwerp van die agtervering behels ’n sleeparm-en multiskakel-uitleg wat ook voordeel trek uit die reaksie van die nuwe dinamiesebeheer-skokbrekers. Hoër posisionering van die sleeparm se monteerpunt en ’n groter busgrootte lei tot verbeterde beheer oor ongelykhede in die padoppervlak. Wyer spasiëring van die rolstaafbusmonterings dra ook tot die algehele rolvermindering by.

Meer akkurate stuurinsette word gelewer deur die nuwe tandstangtipe elektriese kragstuur (EPS). In teenstelling met die vorige ES wat ’n hulpmotor gebruik het wat op die stuurkolom gemonteer was, plaas die nuwe EPS-stelsel die hulpmotor direk op die stuurtandstang, wat meer presiese terugvoer deur die stuurwiel gee. Die nuwe uitleg maak ook voorsiening vir bykomende stuurwielverstelbaarheid met 30 mm meer kantel- en 40 mm meer teleskopiese verstelling.

 

Kragbron

Die nuwe ES is net met een kragbron beskikbaar. Die ES 250 het ’n splinternuwe, hoëdoeltreffendheidsviersilinder-petrolenjin van 2,5 liter en ’n nuwe outomatiese agtgang-transmissie met direkte wisseling. Die enjin, wat van ligte aluminium gemaak is, het ’n langwerpige ontwerp, laserbedekte inlaatklepbeddings en gevorderde intelligente veranderlike kleptydreëling (VVT-i) vir hoëspoedontsteking. Die enjin het ’n hoë algehele termiese doeltreffendheid van 38 persent. Die brandstofverbruik vir die ES 250 is 6,6 liter / 100 km en die motor versnel van 0 – 100 km/h in 9,1 sekondes. Sy topspoed is 210 km/h.

Die Direct-4S-inspuitingstelsel van die 2,5ℓ-enjin word gebruik om direkte hoëdrukbrandstofinspuiting en laedrukpoortinspuiting vir die laelading-Atkinson-siklus te verskaf. Bykomende doeltreffendheid word bewerkstellig deur ’n palwissel-oliepomp en veranderlike verkoelingstelsel, wat net inskop wanneer dit noodsaaklik is. Byvoorbeeld, wanneer die enjin koud is, word die oliespuiters vir die suierverkoeling ontkoppel om die enjin vinniger te laat warm word en uitlaatgasse te verminder. In dieselfde toestande verminder die elektriese waterpomp die algehele verkoelingsvloeitempo en herlei die verkoelingsvloeistof van die enjinblok na die verwarmerkern om die kajuit vinniger te verhit en die enjin vinniger te laat opwarm.

Die ES se 2ℓ-viersilinderenjin dryf die voorwiele aan deur ’n nuwe agtgangtranmissie met direkte ratwisseling vir die ES 250. Hierdie nuwe transmissie gebruik ’n uiters dun koppelomsitter en ’n multi-plaatkoppelaar om ’n direkte verbinding in byna alle situasies behalwe met die wegttrek te behou.

Die gevolg is ’n dubbelkoppelaar-tipe gevoel in die meeste situasies tesame met die gladde toepassing van die krag uit ’n stilstaande posisie net soos ’n gewone outomatiese ratkas.

In teenstelling met die vorige outomatiese sesgangtransmissie het die nuwe agtgangtransmissie ’n wyer reeks ratverhoudings wat ontwerp is om beter brandstofverbruik en lewendiger verrigting te bied. Byvoorbeeld, die vorige eersteratverhouding in die sesgangweergawe was 3.30:1, terwyl die nuwe agtgangratkas ’n 5.25:1-eersterat vir die viersilinder bied. Die nuwe transmissie laat die enjin tussen 250 en 300 r/min stadiger teen 100 km /h draai in vergelyking met die sesgangweergawe.

Die 2,5ℓ-enjin is splinternuut en behels vinnigverbrandingstegnologie wat dit een van die mees termies doeltreffende enjins in ’n produksiemotor maak. Die gevolg is meer krag sonder om uitlaatgasse of brandstofverbruik te verhoog. Eienskappe wat help om sulke indrukwekkende resultate te behaal, sluit in reguit inlaatpoorte, groter klephoeke en laserbedekte inlaatklepbeddings. ’n Oliepomp met veranderlike kapasiteit, inspuiters met veelvuldige gate, veranderlike kleptydreëling met intelligensie (VVT-iE) op die inlaatkleppe en ’n veranderlike verkoelingstelsel lewer ook ’n bydrae tot die indrukwekkende hitte- en ontbrandingsbeheer.

 

Hibriedstelsel

Die ES 300h het ’n nuwe, vierdegeslag-selflaai-hibriedstelsel wat uitsonderlike, brandstofdoeltreffende, lewendige verrigting en die minste moontlike uitlaatgas vir ’n middelgrootte-luuksesedan bied. Die enjin koppel ’n ultra-doeltreffende 2,5ℓAtkinson-siklus-viersilinderpetrolenjin met ’n ligter, meer kompakte en kragtiger elektriese motor. Die hele stelsel se krag kom op 160 kW te staan en sy brandstofekonomie in die gekombineerde siklus is vanaf 4,6ℓ/100 km. Die ES 300h kan in ’n billike 8,9 sekondes van 0 – 100 km/h versnel en ’n topspoed van 180 km/h haal.

Die nuwe dwarsas is spesifiek vir die 2,5ℓ-enjin ontwerp, en het ’n multi-as-uitleg van die elektriese motors in plaas van die vorige koaksiale uitleg, wat die algehele lengte van die verpakking met byna 30 mm verminder. Die tradisionele planeetratstelsel is deur ’n parallelle as-rat en ’n multi-funksionele rat vervang wat ’n elektries verdeelde planeetringrat, parkeerrat en trurat in een kompakte eenheid huisves.

Die nikkelmetaalhidriedbattery wat die elektriese motor aandryf, is van die bagasieruim na onder die agtersitplek verskuif. Dit is moontlik gemaak deurdat die battery 120 mm laer is en ’n meer kompakte verkoelingstelsel te gebruik. Die battery wat onder die sitplek ingeskuif is, stel nie net meer bagasieruimte beskikbaar nie, maar verbeter ook die voor-tot-agter-gewigverspreiding van die motor, wat tot beter hantering lei.

Verskeie nuwe eienskappe word in die ES 300h aangetref om algehele bestuurstevredenheid en bestuursgenot te verbeter. Die hibriedbeheerstelsel is nou ontwerp om ’n meer lineêre versnellingsgevoel te lewer deur die enjinspoed beter by die snelheid van die voertuig aan te pas en die rek-gevoel wat algemeen met hibriede stelsels geassosieer word, te verminder. Sport-modus vergemaklik versnelling verder deur die wringkrag teen laer snelhede aan te vul terwyl wisselpedale gebruik kan word om deur al agt die gesimuleerde ratte vir meer akkurate beheer te beweeg.

 

Verskillende ry-keuses

Die Lexus ES 250 sowel as die ES 300h is nou toegerus met Lexus Drive Mode Select, wat die bestuurder in staat stel om die ryervaring te verfyn deur enige van drie verskillende ry-keuseste kies.

Die gewone modus (normal) bied die volmaakte balans tussen ryverrigting en brandstofdoeltreffendheid; ECO-modus bevorder brandstofbesparing regdeur alle bestuurstoestande deur die versnellerreaksie te versag en lugreëling te modereer; Sport-modus bied vinniger versnellerreaksie en verhoogde kragstuurgevoel.

Veiligheid

Die sewendegeslag-ES beskik oor die gevorderde veiligheidstegnologie wat van ’n Lexus verwag word. Die ES-modelle is toegerus met tien lugsakke: lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier; twee knielugsakke elk vir die bestuurder en voorste passasier; twee sitplekgemonteerde kantlugsakke vir die bestuurder en voorste passasier en twee voor-tot-agterkant-gordynlugsakke.

Die ES is beskikbaar met van die belangrikste kenmerke van die nuutste Lexus-veiligeidstelsel (Safety System+). Vir Suid-Afrika is hierdie indrukwekkende veiligheidseienskappe slegs in die hibriedmodel beskikbaar.

Dit sluit in die botsvoorkomingstelsel (PCS) wat aankomende voertuie en voetgangers kan bespeur. PCS is ook verbeter om voetgangers snags op te spoor deur die radar se sensitiwiteit en dinamiese omvang te verhoog.

Nog ’n nuwe veiligheidsvoordeel wat in die ES 300h aangebied word, is die aanpasbare ligdiode-hoëstraalstelsel (AHS). Hierdie stelsel skakel nie net die kopligte se hoëstraalbeligting namens die bestuurer outomaties aan en af nie, maar sy 24 individuele ligdiode-rangskikking kan die ligpatroon aanpas om beterde verligting te bied terwyl die glans vir aankomende verkeer verminder word.

’n Waarskuwingstelsel wanneer die voertuig uit sy baan dwaal, gebruik nie net geel of wit baanstrepe  nie, maar kan ook die rande van die ryvlak bespeur.

Die ES het ook blindekolmonitering met die radarwaarneming wat tot 60m agtertoe in die bestuurder se blinde kol strek. Die agterkant-dwarsverkeerswaarskuwing en parkeerhulp met hoëdefinisiekameras help ook met ’n skerp, duidelike beeld. Die model het ook ’n panoramiese monitor wat ’n saamgestelde beeld van die kameras aan die voorkant, in die linker- en regter-buitespieëls sowel as aan die agterkant van die voertuig op die multimediaskerm vertoon. Dit wys die voertuig soos van bo gesien om die bestuurder te help wanneer hy stadig agteruit ry.

 

Klank

Die hibried-model is met die hoogstaande Mark Levinson-klankstelsel toegerus. Die luidsprekers is op skouervlak regdeur die kajuit geplaas, wat die akoestiek versterk en ’n tonale sinergie geskep. Hierdie perfekte toonskakeringliggings lewer ’n bestendige tonale balans tussen die middel- en hoëtoonluidsprekers, wat in wese twee identiese klanksones vir die voorste en agterste insittendes skep. As gevolg hiervan word elke individu in klank omhul, wat ’n luisterervaring skep wat in elke sitplek dieselfde is.

Die ES 250 EX-model het Lexus se Premium Audio-klankstelsel. Al twee dié klankstelsels het ’n digitale klanksender (DAB) wat die seine sonder onderbreking laat verander wanneer die sein oorgeskakel moet word.

Pryse

Die Lexus ES 250 EX kos R593 300 en die ES 300h SE R843 800. Lexus het ook die klantesorgervaring waarvoor die reeks bekend is, verleng met die klasbeste waarborg en volle instandhoudingsplan van 7 jaar / 105 000 km. Die versieningstussenposes is elke 15 000 km of een keer per jaar. Die nuwe en verlengde waarborg en instandhoudingsplan is ook beskikbaar vir die Lexus RX, NX, LC, LS en die LX-reeks.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: