Breaking News

Nuwe Lexus IS byna hier

Die jongste Lexus IS sal van die eerste week in April in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Vir die eerste keer sal die IS net met ‘n hibriede-kragbron beskikbaar wees, aangesien die mark vir hierdie tipe enjin die afgelope vyf jaar geweldige groei getoon het en  die skuif van diesel na hibriede-enjins teen ‘n vinnige pas sal aanhou groei.  Lexus is van plan om sy oorheersing in hierdie mark te benut om sy aandeel nog verder te vergroot.

Die hele reeks word aangedryf deur dieselfde 2,5 liter hibriede-enjin met vier silinders wat 133 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 221 Nm teen tussen 4 200 en 5 400 opm lewer en gekoppel word aan ‘n palwissel (CVT)-ratkas. Volgens die vervaardiger kan die IS binne 8,7 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en ‘n top-snelheid van 200 km/h bereik, terwyl sy gemiddelde brandstof-verbruik 5,2 liter per 100 km is. 

Benewens die hibriede-enjin is daar ook ‘n paar ander kenmerke wat vir die eerste keer vir die IS beskikbaar sal wees. Die vorige parkeerrem wat met die voet geaktiveer is, word met ‘n elektriese een vervang  en daar is ‘n nuwe 10,3 duim raakskerm met Android Auto en Apple Car Play. 

Drie spesifikasie-vlakke is beskikbaar, naamlik die IS 300h EX, die IS 300h SE en die IS 300h F-Sport. Die EX is die intreemodel van die reeks en word toegerus met onder meer sleutellose toegang met ‘n aansit-knoppie, 18 duim allooiwiele, tweesone-klimaat-beheer, ‘n klankstelsel met tien luidsprekers, elektries verstelbare en verhitbare voorsitplekke, ‘n elektrochromatiese truspieël binne, sewe lugsakke, vastrapbeheer en wegtrekhulp.

Die middelste model in die reeks is die SE wat onder meer die volgende kenmerke byvoeg: ‘n blindekolmonitor met agterste dwarsverkeer-waarskuwing, baanhou-hulp, ‘n kantel- en-skuifsondak, aanpasbare spoedbeheer, ‘n Mark Levinson-klankstelsel met 17 luidsprekers en gladde- eerder as sintetiese leerbekleedsel. Verder beskik die SE oor die Lexus Safety System +- stelsel wat bestaan uit ‘n voorbots-waarskuwing tussen 10 km/h en 180 km/h, voorbots-remhulp met voetganger- of fietsryer-bespeuring, asook bespeuring van ‘n voertuig wat stilstaan of stadig beweeg. Hierdie stelsel kan voetgangers bedags en snags, asook fietsryers in daglig bespeur. Dit is ook die eerste Lexus-model wat noodstuurhulp bied; dit is ontwerp om outomaties bykomende stuurkrag toe te pas om in sy of haar baan rondom byvoorbeeld ‘n voetganger wat vooruit stap, uit te swaai. 

Vir die eerste keer sal ‘n F Sport-model met die hibriede-enjin beskikbaar wees, en soos gewoonlik beskik hierdie model oor ‘n aantal sitleringskenmerke wat hom van sy stalmaats onderskei. Die F Sport spog onder meer met 19-duim allooiwiele, F Sport-lugskorte, drumpelplate vir die deure, en outomatiese hoëstraal-kopligte. Die F Sport spog verder met die gaas-sierrooster met klavierswart afwerking  wat kenmerkend van Lexus se F Sport-modelle is; die onderste deel het luguitlate wat deur die RC F-koepee geïnspireer is. Die Drive Select-stelsel stel die bestuurder in staat om vyf bestuus-modusse te ken, naamlik Eco, Normal, Sport S, Sport S+ en Custom. Aan die binnekant is daar allooipedale  en sitplekke met F Sport-leerbekleedsel en geheue-instellings vir die bestuurder. 

Die pryse van die IS-reeks, wat ‘n waarborg en volle instand-houdingsplan van sewe jaar of 105 000 km insluit, lyk só

IS 300h EX: R 841 300

IS 300h SE: R 899 800

IS 300h F Sport: R 916 100

%d bloggers like this: