Nuwe Lexus RX luukse SNV

0 Comments

 

  • Nuwe voorkoms
  • Opgradering vir konnektiwiteit en veiligheidstoerusting
  • Verfynings onder die dop om rit en hantering te verbeter
  • Tievoeging van F Sport-model

Die nuutste weergawe van die  Lexus RX-reeks, Lexus se luukse sportnuts-reeks voeg opvallende stilerings-opgraderings sowel as ’n string kommunikasie- en veiligheidstegnologiese eienskappe by sy lang lys toerusting.

Lexus het ook die onderstel-instelling van die nuwe RX  hersien om vibrasies te onderdruk en gladder, meer gelykwaardige ritbeheer te lewer en romprol te verminder.

Die RX-reeks kry ook nou ‘n nuwe F Sport-model: Die RX 350.

Die RX, wat sy vierde geslag beleef, het ’n trotse geskiedenis van vernuwing, veral omdat dit die eerste voertuig in die luukse segment was wat die keuse van selflaai-hibriedaandrywing (die RX 400h van 2005) gebied het. Die nuweling bou voort op hierdie reputasie deur ’n uitstekend vervaardigde luukse sportnutsreeks te bied met hantering van die boonste rak en propvol hipermoderne tegnologie . Diehibried-aangedrewe RX 450h is voortaan die vlagskipmodel in die reeks.

Stilering

Wat ontwerp betref, is daar nou ’n nuwe sierrooster voor met ’n gaaspatroon wat driedimensionele “L”-vorms weerspieël (effens anders vir die F Sport); slanker, skerper kopligte; meer afgeronde rande aan die hervormde voorbuffer; en ’n verlengde lyn van die skroefpaneel (geleë aan die sykante van die voertuig tussen die voor- en agterwielopeninge) wat met die onderkant van die sierrooster verbind word, en sterkte en stabiliteit beklemtoon.

’n Hersiene karakterlyn aan die kant vloei van die drywende dak na die agterkant af, om die algehele agterste voorkoms dunner te laat lyk en ’n koepelagtige silhoeët te skep.

Kyk ’n mens verder agtertoe, is ’n samehangende en kragtige voorkoms geskep met ’n herontwerpte onderste buffer wat glad by die agterste wielnisse inskakel. Elemente soos die ligte, rigtingwysers, skermstroke onder en die uitlaatpyppunte is op ’n sterk horisontale as gerangskik om die wydte en doel van die voertuig te beklemtoon, terwyl nuwe ligdiode-stertligsamestelle met ’n nuwe omgekeerde L-motief die fabrikaat makliker herkenbaar maak.

Al die modelle het 20”-allooisierwiele (’n nuwe ontwerp vir die EX- en F Sport-variante) en ’n elektries beheerde sondak as deel van hul standaard-toerusting.

Binne

Die mens-masjien-koppelvlak in die kajuit is aansienlik verbeter danksy ’n nuwe sentrale raakskerm van 12,3”. Om hierdie nuwe funksie te akkommodeer, is die skerm verder vorentoe op die middelkonsole geskuif, wat ’n groter kykhoek bied en dit binne maklike bereik van die bestuurder en voorste passasier plaas. Die multimedia-funksies kan natuurlik ook bestuur word met behulp van ’n nuwe tabletweergawe van Lexus se Remote Touch-koppelvlak, of met stembeheer, wat die ou knoppie-geaktiveerde stelsel vervang.

Die nuwe RX bied ook naatlose slimfoonkommunikasie via Apple CarPlay™ en Android Auto™. Stembeheer kan via Apple se Siri of Google Assistant geaktiveer word as jy ’n Android-toestel gebruik. Dit word met nog vier USB-poorte aangevul.

MyLexus (identiese funksies as MyToyota) gee toegang tot gekoppelde dienste via ’n toegewyde toepassing, terwyl die RX standaard toegerus is met ’n ingeboude WiFi-punt met ’n aanvanklike gratis 15 GB-dataplan (met die opsie om te eniger tyd ekstra data aan te koop).

Die derde ry sitplekke van die RX L het nou twee verskillende sitposisies; hulle het selfs nog meer beenruimte (+ 94 mm) wanneer die situasie dit vereis; en die tweede ry sitplekke is nou ook elektries verstelbaar – selfs vir passasierstoegang.

Wanneer dit by alledaagse gemak, gerief en tegniese kenmerke kom, bied die nuwe Lexus RX ’n ware fees. Dit wissel van stuurwiel-ratwisselpedale, ’n omgewingsbeligtingspakket en kabellose laaier tot ’n Mark Levinson-klankstelsel met 15 luidsprekers (F Sport en hibriedmodel) en windskerm-weerkaatsstelsel (in die hibriedmodel). Raadpleeg die spesifikasielys vir ’n volledige lys standaardtoerusting.

Beligting

Hoewel al die modelle in die reeks met ’n ligdiode- aanpasbare hoëstraalstelsel (AHS) pronk, het die hibried-weergawe van die nuwe RX ’n toonaangewende wêreld-eerste – AHS met BladeScan-tegnologie.

In vergelyking met bestaande tegnologie wat ligdiode-kopligte direk op die pad skyn, rig die nuwe tegnologie die lig terug na ’n lemspieël wat teen 12 000 r/min draai. Blade-scan-tegnologie maak gebruik van die weerkaatsing van lig van die spieël af om die helderheid van die straal te verhoog en die reikafstand verder in die pad te verleng. Dit beheer ook die ligverspreiding fyner om die akkuraatste “skadu” te verkry om nie aankomende bestuurders te verblind nie.

Tipiese hoëstraaltegnologie gebruik ligdiodeligte wat op die pad gerig is en aan- en afskakel as individuele skyfies wat bepaalde gedeeltes van die pad kan verskadu.

Met lemskandeertegnologie skakel ligdiodeligte binne 50 mikrosekondes aan en af, terwyl dit met die lemspieël sinchroniseer, wat teen ’n hoë spoed draai om onmiddellike reaksie te lewer, die breedte van die skaduryke deel verminder en ’n groter verspreiding van verligting bied.

Dele wat verlig en in skadu is, word in stappe van 0,1 grade (voorheen 1,0 grade) beheer, wat die wydte van die skaduryke gebied amper tot net 3,5 meter op ’n afstand van 50 meter (van 6,3 meter af) halveer.

In vergelyking met konvensionele AHS in die RX is lemskandeertegnologie meer as 10 persent helderder en brei dit die reikwydte uit na voetgangers in die omgewing van 32 meter tot 56 meter voor die motor – nog ’n bykomende 24 meter vorentoe.

Benewens dat bestuurders voetgangers veel vroeër sal kan sien, maak helderder en meer gefokusde ligverspreiding dit makliker om padskouers en padtekens wat moeilik is om te sien, te herken.

Lexus RX 350 (F SPORT)

Die RX-reeks sluit nou die eerste keer in Suid-Afrika ook die doelontwerpte F Sport-weergawe in die vorm van die RX 350 F Sport in.

Hierdie atletiese RX het ’n meer aggressiewe buitestyl met ’n F Sport-eksklusiewe vooraansig, gaas-insetsel, voorste lugskort en agterskerm. Die sport-RX het ook buitespieëls met gepoleerde swart en 20”-tienspeek-allooisierwele met gesplete speke wat in donker graniet afgewerk is.

Die fris F Sport-perspektief is ook duidelik in die bestuurdersentriese binneruim te bespeur. Benewens die eksklusiewe rengeïnspireerde instrumentasie en aluminiumhoogtepunte, sal jy verrigtingsopgraderings, waaronder versterkte sportsitplekke, ’n swart dak, ’n geperforeerde leer-beklede stuurwiel en ratwisselknop plus aluminiumpedale en meer aantref.

Kenmerkende rengeïnspireerde versterkte F Sport-sitplekke bied die ideale houding, beheer en sig vir verbeterde ryverrigting. Die sitplek, wat ’n unieke konstruksie het wat met skuim ingespuit en ontwerp is om aan die kontoervereistes van die bestuurder te voldoen, se lae posisie plaas die bestuurder se heuppunt so naby as moontlik aan die swaartepunt van die motor om ’n meer dinamiese ryervaring te bied. Die LFA-geïnspireerde digitale meters bied intydse inligting soos G-kragmetriek en kragverspreiding.

Die F Sport-stel is egter meer as net veldiep. Buiten dat hy die nuwe Lexus Safety System+ erf en dit nou met die vlagskip-hibriedmodel deel, pronk die F Sport ook met dieselfde aanpasbare veranderlike vering wat in die hoëverriging- Lexus LC aangetref word, wat die bestuurder in staat stel om die skokbreker-verstellings aan te pas vir verbeterde ritgerief of verminderde romprol wanneer jy in en uit deur draaie ry. Die F Sport bied eksklusiewe rymodusse vir die beste reaksie: Sport S+ -modus verbeter stuurwerk en pas die aanpasbare veranderlike veerstelsel aan terwyl die Custom-modus jou alles van padgevoel tot responsiwiteit tot jou persoonlike smaak kan laat aanpas.

Die  nuwe RX se voertuigstabiliteitsbeheer kry aktiewe draaibeheer (Active Cornering Assist), wat stuurtraagheid outomaties onderdruk as die bestuurder halfpad deur die draai begin versnel. Die elektriese kragstuur is heringestel vir ’n meer lineêre stuurgevoel en ’n beter lynspoor wat die motor getrou aan die bestuurder se bedoeling hou.

Ritgehalte, wat reeds die beste in sy klas was, is nog verder verbeter danksy die nuutontwerpte skokbrekers wat nou toegerus is met ’n wrywingbeheertoestel wat die hoëfrekwensievibrasies wat veroorsaak word deur klein ongelykhede op die padoppervlak, verder verminder. Dié stelsel gebruik ’n rubberlip wat in die skokdemper-silinder geïnstalleer is om bogenoemde hoëfrekwensievibrasie te versag wat nie alleen met hidrouliese druk beheer kan word nie en  ritgemak verbeter.

Daarbenewens is dinamiese dempers in die voorste vering aangebring, wat bydra tot die isolering van die kajuit teen trillings op die padoppervlak, terwyl dit draaiwerk verbeter en uitsonderlike reaksie in die hand werk.

Die grootste verandering van die nuwe F Sport-weergawe is ’n verdere verfyning van die AVS-stelsel – dit werk nou oor ’n groter reeks om gemak en beheer verder te verbeter. Dit is aanvanklik in die Lexus LC-vlagskip-koepee ontplooi en bied byna konstant veranderlike dempingsbeheer by elke wiel en pas outomaties deur 650 verskillende instellings aan.

Die F Sport-weergawes word verder onderskei deur ’n nog meer dinamiese karakter, met inagneming van nuwe voorste en agterste verrigtingstutte tussen die voorste verkoelersteunpunte, die voorveringstutte en tussen die agterste hake.

Twee enjinkeuses:

Die petrolweergawes is toegerus met die magtige Lexus-V6-enjin van 3,5-liter met direkte inspuiting en poortbrandstofinspuiting vir ’n groot hoeveelheid krag en doeltreffende brandstofverbruik. Die enjins, wat aan ’n vinnig wisselende agtgangtransmissie gekoppel is, lewer 221 kW en 370 Nm teen 4 600 opm (RX 350) of 216 kW en 358 Nm teen 4 600 opm (RX 350 L), gee al twee modelle dinamiese werkverrigting reg deur.

Vir nog groter beheer bied die vernuwende dubbele veranderlike kleptydreëling met intelligensie (VVT-i) akkurate enjinverrigting, aangesien dit uitlaatgasse verminder en brandstofdoeltreffendheid verhoog. VVT-i monitor die snelheid en las van die enjin, verhoog die wringkrag teen laer snelhede vir verbeterde versnelling en verhoog die verrigting teen hoër snelhede deur die tydreëling van die inlaat- en die uitlaatklep aan te pas.

Neem nou alles waarvan jy in die RX hou, en gee dit meer verrigting  en groter doeltreffendheid. Dit is die filosofie agter die RX450h wat met die kragtige V6-enjin van 3,5 liter kombineer met kragtige elektriese motors en ’n elektronies beheerde en deurlopend veranderlike transmissie vir ’n gekombineerde stelsel wat 230 kW bied. Dit kan jou ‘n versnelling van 0-100 km/u in 7,7 sekondes bied.

Veiligheid

Behalwe die volledige reeks passiewe en aktiewe veiligheidstelsels, wat wissel van 10 lugsakke tot die nuutste VSC-stelsel met Active Cornering Assist, het alle RX-modelle nou ’n blindekol-monitor met dwarsverkeers-waarskuwing agter. Met verwysing na laasgenoemde, gebruik die nuwe RX ’n nuwe parker-ondersteuningstelsel, intelligente opruimingsonar en agterste dwarsverkeersensors om botsings wat gereeld in parkering voorkom, te vermy of te verminder. Benewens ’n hoorbare waarskuwing, kan die stelsel die dryfkrag verminder en die remme toepas om die moontlikheid van kontak met statiese voorwerpe in die rigting waarin die motor ry, of statiese voorwerpe en bewegende voertuie, verminder wanneer die bestuurder agteruit ry.

Die grootste nuus is egter dat Lexus se Safety System+ (botsvoorkomingveiligheidstelsel en outonome noodrem) nou vir die F Sport en hibried-modelle gestandaardiseer is. Die nuutste weergawe kry opsporing van voetgangers snags en fietsryers bedags met soortgelyke noodwerking. Daarbenewens word die spoedaktiewe spoedbeheer nou aan nuwe baanspoorhulp gekoppel.

Kostes

Die Lexus RX 350-modelle kos R1 012 000 vir die EX en R1 087 000 vir die EX L.

Die RX 350 F Sport-model kos R1 132 200, terwyl die vlagskip in die reeks, die RX 450h SE, R1 315 800 kos. Die hele RX-reeks het Lexus se waarborg en volle instandhoudingsplan van 7 jaar/105 000 km. Die waarborg op die hibriedbattery is 7 jaar/ 195 000 km.) Die versieningstussenposes is elke 15 000 km, alternatiewelik een keer per jaar.

Categories:
%d bloggers like this: