Dit is lank reeds algemeen bekend dat Mahindra gereed staan om ‘n nuwe model by sy reeks sportnuts voertuie te voeg, en dié nuweling kan reeds by handelaars bestel word.

Die XUV 300 het reeds groot belangstelling uitgelok en nou het Mahindra voornemende kopers die kans gegee om die motor vooraf te bestel en hul name op die waglyste te kry. Volgens Rajesh Gupta, die uitvoerende hoof van Mahindra Suid-Afrika is handelaars en voornemende kopers baie opgewonde oor die XUV 300. Die laaste datum waarop vooraf bestellings geplaas kan word, is op 20 Mei.

Voornemende kopers sal versoek word om aansoek om finansiering te doen om ‘n vooraf bestelling te registreer. Dit is egter nie bindend nie. Die enigste voorwaarde is dat die naam van die persoon wat die bestelling plaas en wat die motor koop, dieselfde moet wees. Sodra die eerste motors teen die einde Mei aankom, kan dié wat die motor bestel het, die turbo-petrol model van 1,2 liter of die turbo-diesel model van 1,5 liter toets-bestuur waarna hulle die kans gegee sal word om die motor te koop. Hulle sal ook die kleur en afwerking van hul motors kan kies. Die eerste honderd mense wie se naam op die bestellingslys is, sal brandstof ter waarde van R 1 000 ontvang wanneer hulle hul motors koop en die eerste honderd mense wat ‘n totsrit bespreek, sal ‘n brandstof-kaart ter waarde van R 2 000 ontvang wanneer hulle hul motors koop. Daar is ook ‘n reis na Indië ter waarde van R 100 000 op die spel vir een gelukkige koper.

Die vooraf bestelling volg op ‘n uiters geslaagde bekendstelling in Indië, waar daar ‘n baie groter vraag na die motor was as wat aanvanklik verwag is. Binne twee maande het die XUV 300 die gewildste kompakte sportnuts voertuig op die Indiese mark geword.

Die XUV 300 stel nuwe standaarde vir weelde en veiligheid in sy marksegment. Onder die standaard kenmerke waarmee sommige modelle toegerus sal word, is sewe lugsakke, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, parkeer-sensors, ‘n trukamera, ‘n seweduim-raakskerm met Apple Car Play en Android Auto, dubbelsone klimaatbeheer en spoed beheer.

Meer besonderhede, onder meer tegniese spesifikasies, model-samestelling en pryse sal later bekend gemaak word.

%d bloggers like this: