Die nuwe Mitsubishi Triton is toegerus met onder andere ’n nuwe liggewig-dieselenjin en ‘n verbeterde veerstelsel vir ‘n rit met minder geraas en meer padhouvermoë.

Deur Gerrie Smit.

Met die splinternuwe Mitsubishi Triton bakkie-reeks, wat in Januarie in Suid-Afrika vrygestel is, brul die Triton nou weer onder die grotes. Tot ‘n paar jaar gelede as ‘n mens verwys na die “groot vyf” onder bakkies in Suid-Afrika, dan het mens vanselfsprekend aan Mitsubishi se Triton, die Toyota Hilux, die Nissan Navara, die Ford Ranger en die Isuzu KB-reeks, gedink. Veral met die koms van die nuwe geslag Ranger en Hilux-bakkies het die Triton wat vanaf 2007 kom, met tyd so agter geraak dat ‘n mens so half begin vergeet het dat hierdie eens bobaas-bakkie nog bestaan.

Die nuwe Triton-reeks is reeds in 2016 internasionaal geloods, maar as gevolg van die swak Rand en ook omdat Mitsubishi SA gewag het vir die nuwe Mitsubishi diesel-enjin, is die reeks eers in die begin van 2017 ter plaatse bekendgestel. Die nuwe Triton-reeks is die vyfde geslag van die Colt/Triton-bakkies wat in 1995 vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel is.

Die wag vir die nuwe Tritons was die moeite werd, want die nuwe Mitsubishi 16-klep turbo-aangejaagde 2,4 liter dieselenjin se drukverhouding en kraglewering is beter as enige ander soortgelyke grootte enjin beskikbaar in Suid-Afrika. Hierdie nuwe enjin word toegerus met ‘n silinderkop van aluminium om gewig lag te hou.

Hierdie splinternuwe enjin het ‘n drukverhouding van 15,5 tot 1; die beste in sy klas. Die enjin se maksimum-kraglewering en wringkrag is beter as ander van dieselfde grootte: Dit het ‘n kraglewering van 133 kW teen 3 500 omwentelinge en ‘n wringkrag van 430 Nm, wat reeds vanaf 1500 omwentelinge beskikbaar is. Dit is ‘n verbetering van meer as 25% vergeleke met die enjin wat in die vorige reeks gebruik is. Volgens Mitsubishi SA is die gemiddelde brandstofverbruik 7,6 liter per 100 km.

Vir die voornemende koper is daar ‘n keuse tussen ‘n vyfgang outomatiese en ‘n 6-gang handratkas is. Daar is ook ‘n keuse tussen twee- of vierwielaandrywing met albei ratkaste . Albei ratkaste is ingrypend herontwerp; ratwisseling op die handratmodelle is gladder en daar is ‘n handratfunksie vir die outomatiese modelle.

Diegene wat vierwielaandrywing kies, kry die nuwe weergawe van Mitsubishi se bekende Super Select II-stelsel. Hierdie stelsel is eie aan Mitsubishi en bied vier bestuurskeuses wat deur middel van ‘n elektroniese kontrole binne die kajuit verstel kan word. Hierdie veelfunksie-kenmerk verseker volkome beheer in gladde of los oppervlaktes. Behalwe ‘n laestrekfunksie is daar ook ‘n agterste ewenaarslot vir meer uitdagende hindernisse.

Die buite-ontwerp word gekenmerk deur ‘n opsigtelike sierrooster en kopligte wat in die modderske

rms in vou, Daar is ook nuwe agterligte en die agterklap kan maklik met een hand oopgemaak word.

Die Tritons het 17 duim allooiwiele.

Die Triton se wringkrag word in ‘n 60:40-verhouding tussen die voorste en agterste aste versprei deur middel van ‘n sentrale ewenaarslot, wat nie net verseker dat die Triton soos ‘n ware sportnutsvoertuig op grondpaaie of gladde oppervlaktes hanteer nie, maar ook padhouvermoë aansienlik verbeter. Die agterste veerstelsel is omvattend hersien en dra by tot ‘n standvastige ritgehalte wat gewoonlik met ‘n passasiersvoertuig of sportnutvoertuig geassosieer word. Minimale bakrol sorg vir presiese hantering en kajuitgeraas word tot ‘n minimum beperk deur middel van klankdempingsmateriaal in belangrike plekke in die voertuig. Die Triton se draaisirkel is 5,9, die beste in sy klas. Dit maak dat hy so maklik is om te hanteer soos ‘n middelslag-sedanmotor.

Die Triton se ergonomies ontwerpte kajuit kombineer die gerief van ‘n passasiersmotor met die praktiese eienskappe van ‘n veeldoelige nutsvoertuig. Die ontwerp van die dubbelkajuit sorg vir binneruimte wat weereens die beste in sy klas is met oorgenoeg kop- en beenruimte terwyl die wyer binneste hoek van die kantvensters vir bykomende skouerruimte sorg. Die binneontwerp is baie beter as dié van die vorige reeks en die vlak van afwerking en gerief is dieselfde as dié van Mitsubishi se reeks sportnutsvoertuie, onder meer die Pajero. Dit is maklik om in en uit die voertuig te kom en die bestuursposisie stel ‘n mens in staat om goed uit die voertuig te kan sien.

Daar is ook ‘n nuwe paneelbord met ‘n oppervlakte wat maklik is om skoon te maak. Die hele reeks kry ‘n omvattende inligting- en-vermaakstelsel met Bluetooth-verbinding en ‘n USB-prop. Daarby is sleutellose toegang en ‘n aansitknoppie standaardtoerusting. Onder die ander standaardkenmerke is ‘n tru-kamera, klimaatbeheer en leerbekleedsel.

Die Triton se Reinforced Impact Safety Evolution (RISE)-bakwerk-konstruksie beskik oor hoëspanningstaal om die integtiteit van die kajuit te handhaaf. Die sitplekgordels trek styf in ‘n ongeluk en dit maak dat die lugsakke doelftreffend werk. Sluitweerremme, elektroniese remverspreiding en vastrapbeheer sorg dat die bestuurder die voertuig in noodsituasies kan beheer. Die Triton het vyf sterre in die Australiese weergawe van die NCAP-veiligheidstoets gekry. Die dubbbelkajuitmodelle kry ‘n nuwe ASTC (Aktiewe stabiliteits- en vastrapbeheer)-stelsel, terwyl sluitweerremme met elektroniese remverspreiding standaardtoerusting is.

Die huidige dubbelkajuit-reeks is gemik op die luukser marksegment. Teenoor sy kompeteerders bied die Triton die beste ry-gehalte. Die Triton het sy beter padgedrag nie net aan sy ligter enjin te dankie nie, maar ook aan hersiende rolstawe, stywer voorvere en aansienlik groter rubbermonterings wat die romp aan die leerraam-onderstel heg.

‘n Reeks dinamiese veiligheidstelsels soos ASTC-stelsel (aktiewe stabiliteit- en kloubeheer) wat die remme inspan en die enjinkrag aanpas om die voorgenome ryrigting in gladde toestande te behou, sluitwerende remme (ABS) en elektroniese remkragverdeling (EBD) sowel as opdraande-wegtrekhulp (HSA) is as standaard toerusting op hierdie dubbelkajuit-weergawes ingesluit.

Al die 4×4-dubbelkajuite het ’n grondvryhoogte van 215mm, en ten spyte van sy inherente sportiewe sy-aansig pronk die Triton met ’n invalshoek van 28 grade, wat die beste in sy klas is.

Die pryse van die nuwe reeks wissel van R 479 900 vir die 4×2-model met ‘n handratkas tot R559900 vir die 4×4-model met ‘n outomatiese ratkas. Die hele reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km is by die prys ingesluit.

Pryse soos in Februarie 2017:

Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×2 (handrat) – R479 900

Die nuwe Mitsubishi Triton is toegerus met onder andere ’n nuwe liggewig-dieselenjin en ‘n verbeterde veerstelsel vir ‘n rit met minder geraas en meer padhouvermoë.

Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×2 (outomaties) – R499 900
Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×4 (handrat) – R539 900
Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×4 (outomaties) – R559 900

 

Maak seker oor pryse op: https://www.mitsubishi-motors.co.za/vehicle/triton-2017/