Wat is nou lekkerder om jou 4×4-bakkie op te dollie of selfs nog meer paraat te maak met bykomstighede soos bosbrekers en rolstawe? Nissan het nog altyd gesorg dat daar ‘n wye verskeidenheid bykomstighede vir hulle bakkie-reekse beskikbaar is. Tot met die loodsing van die nuwe geslag Navara in Maart vanjaar het die Nissan NP 300 Hardbody-bakkiereeks, wat nog steeds op die mark is, die meeste bykomstighede as enige ander bakkie-reeks in die Suid-Afrikaanse mark, gebied. Die nuwe Navara-reeks bied egter nou selfs meer bykomstighede om jou Navara nog meer indrukwekkend, sterker en funksioneel te maak. 

Hierdie bykomstighede wissel van dié wat ‘n mens sou kon verwag, soos waterdigte sitplekoortreksels en bees-tralies tot buitengewones soos LED-beligting vir die trekstang en verrigtings-kronkelvere wat vir veldry ontwikkel is.  Hierdie bykomstighede sluit kosmetiese- en funksionele opgraderings in, asook dié wat meer vir veldry ontwikkel is. Dit is ook in verskillende pakkette beskikbaar.

Die “Urban Explorer“-pakket bestaan byvoorbeeld hoofsaaklik uit kosmetiese items, onder meer uitgeboude wielboë, ‘n swart of allooikleurige bosbreker, veskillende ontwerpe strepe en skerms vir die kop- en agterligte. Verder is daar ‘n seiltjie vir die laaibak, ‘n enjinkapskerm, en skorte vir die kantvensters, alles in ’n dowwe swart afwerking, beskikbaar.

Die “Off Road Brute“-pakket op sy beurt maak die Navara selfs nog beter in die veld en een van die uitstaande bykomstighede wat deel hiervan uitmaak, is ‘n swaardiens-agterstamper van staal met punte vir die gebruik van ‘n domkrag. Daar is ook kanttrappe wat die bakwerk tot by die voorste stamper beskerm. Die voorste stamper kan vervang word met ‘n swaardiens-stamper wat die voertuig steeds in staat stel om Australië se NCAP-toets met vyf sterre te slaag, maar die benaderingshoek in veldrytoestande verbeter. Die eienaar kan ook ‘n wenas met ‘n staal- of sintetiese kabel laat aanbring en daar is ‘n beskermingsplaat vir die enjin beskikbaar.

Daarbenewens is daar verskeie ander bykomstighede wat Navara-eienaars kan aanbring, soos kappies, allooiwiele, rubberisering of ‘n los rubbermat vir die laairuim, Thule-dakrakke en bagasiekompartemente vir die dak asook beskerming teen grypdiefstal.

Behalwe die twee tipes veselglaskappies wat beskikbaar is, kan die eienaar ook ‘n kappie van vlekvrye staal kies en eienskappe soos kantdeure wat bo geskarnier is, ‘n driekwart- of volle kombuiseenheid en LED-beligting binne byvoeg.

‘n Navara met ‘n kappie van vlekvrye staal. Die voornemende eienaar kan dan ook ‘n driekwart- of volle kombuiseenheid en LED-beligting binne laat byvoeg om dit kamp-vriendelik te maak.

Eienaars kan elke enkele item laat aanbring sonder dat die voertuig se waarborg benadeel word, terwyl die vakmanskap ook gewaarborg word. Hierdie bykomstighede moet egter deur ‘n goedgekeurde Nissan-handelaar aangebring om die waarborge te behou.

Hoewel elke bykomstigheid afsonderlik beskikbaar is, stel Nissan ‘n bekendstellingspakket in samewerking met Iron Man 4×4 bekend. Onder die bykomstighede wat deel hiervan vorm, is swaardiens-stampers voor en agter, beskermingsplate vir die enjin en ‘n opgeknapte veerstelsel.

Daar is alreeds 67 verskillende bykomstighede beskikbaar. Die spesiale uitgesoekte bykomstighede mag slegs deur Nissan-handelaars aangebring word en word slegs deur Nissan se goedgekeurde verskaffers vervaardig.