Die Taycan, want ander Porsches kan nie

Porsche het pas die jongste toevoeging tot sy modelreeks bekendgestel; en hierdie keer is dit ‘n model met ‘n verskil. Die Taycan is die eerste elektriese model uit die Porsche-stal  en die bekendstelling van hierdie nuweling is tegelyk op drie kontinente, naamlik Noord-Amerika, Asië en Europa, gehou.

Die Taycan is ‘n sportiewe sedan met vier deure wat Porsche se gebruiklike opwinding en tegnolgie met alledaagse gebruikers-vriendelikheid kombineer. Terselfdetyd stel die gevorderde vervaardigings-metodes en standaard-eienskappe van die Taycan nuwe standaarde op die gebied van volhoubaarheid en digitalisering. Volgens Miechael Steiner, die uitvoerende raadslid vir navorsing en ontwikkeling by Porsche AG, het die maatskappy ‘n nuwe model met elektro-mobiliteit belowe; ‘n opwindende sportmotor wat nie net op die gebied van tegnologie en bestuurs-dinamika uitblink nie, maar ook ‘n passie by mense oor die hele wêreld sal aanwakker, net soos sy legendariese voorgangers gedoen het. 

 

 

Die Taycan Turbo en Turbo S is die eerste Taycan-modelle wat bekendgestel is. Hierdie twee modelle is aan die voorpunt van Porsche E-werkverrigting en is van die kragtigste modelle in Porsche se huidige reeks. Daar sal later minder kragtige weergawes van dié vierwiel-aangedrewe modelle by die reeks gevoeg word en die eerste toevoeging sal die Taycan Cross Turismo teen die einde van aanstaande jaar. Teen 2022 sal die maatskappy se belegging in elektromobiliteit reeds ses miljard Euro beloop.

Die Turbo S se kragbron lewer 560 kW met maksimum turbokrag en dié van die Turbo lewer 500 kW. Die Turbo en Turbo S kan onderskeidelik binne 3,2 en 2,8 sekondes van 0 tot 100 km/h en albei kan topsnelhede van 260 km/h behaal. Die Turbo en Turbo S se reikafstande is onderskeidelik 450 en 412 km.

Die Taycan is die eerste motor ter wêreld met ‘n kapasiteit van 800 volt pleks van die 400 volt van ‘n gewone elektriese motor. Dit is ‘n groot voordeel aangesien die battery binne vyf minute gelaai kan word deur gelykstroom van die hoëkrag-laainetwerk  vir ‘n afstand van 100 km te laai. Die laaityd van 5% tot 80% is 22,5 minute onder ideale omstandighede en die maksimum kapasiteit is 270 kW. Die algehele kapasiteit van die Performance Battery Plus is 93,4 kWh. Taycan-eneiaars kan kan hul motors gemaklik met tot 11 kW se wisselstroom by die huis laai.

Met sy skoon, suiwer ontwerp lui die Taycan ‘n nuwe era vir Porsche in, maar hy bly terselfdetyd getrou aan Porsche se onmiskenbare ontwerprigting. Die voorkant lyk besonder breed en die silhoeët word gevorm deur die sportiewe daklyn wat skuins na agter af loop. Daar is ‘n Porsche-kenteken met ‘n glas-afwerking in die agterlig-samestellings.  Die sleurkoëffissiënt van 0,22 dra by tot uitsonderlik lae energieverbruik.

Die stuurkajuit lui ‘n nuwe era in met sy splinternuwe ontwerp. Die vrystaande instumente-paneel is op die hoogste punt van die paneelbord en plaas veral klem op die bestuurs-omgewing.  Daar is ‘n sentrale raakskerm van 10,9 duim en ‘n opsionele een vir die passasier; dit word gekombineer om ‘n geïntegreede glaspaneel met ‘n swart voorkoms te vorm. Daar is minder skakelaars en knoppies en die stelsel kan deur middel van ‘n raak-aksie beheer word, asook deur stemopdragte wat op die woorde “Hey Porsche” reageer. Die Taycan is ook die eerste Porsche waarin leer nie gebruik word nie; die vindingryke herwonne materiaal onderstreep die volhoubare konsep van die elektriese sportmotor. Daar is genoeg ruimte agter in die motor hoewel die motor besonder laag is, en daar is twee bagasiebakkie met kapasiteite van 81 liter voor en 366 liter agter. 

Albei modelle het twee besonder doeltreffende elektriese motors op die voor- en agteras; dit maak die Taycans vierwiel-aangedrewe. Die reikafstand en volgehoue krag van die aandrywing trek voordeel uit die hoë doeltreffendheid van die gesinchroniseerde motors.  Die tweegang-ratkas wat op die agteras gemonteer is, is nuut ontwikkel. Die eerste rat maak dat die Taycan van stilstand af vinnig kan versnel en die tweede rat, met ‘n langer ratverhouding, verseker hoë doeltreffendheid en ewe hoë kragreserwes; dit is ook op hoë snelhede van toepassing.

Die profiel van die verskillende bestuursmodusse is dieselfde as dié van Porsche se ander modelreekse, maar in die geval van die Taycan word dit aangevul deur spesiale verstellings wat die bestuurder in staat stel om die elektriese aandrywing ten volle te benut.  Die stelsel bevat vier modusse, naamlik ”Range, “Normal”, “Sport” en “Sport Plus”, terwyl die vierde modus, die “Individual” -modus, die bestuurder in staat stel om die stelsel volgens persoonlike behoefte in te stel.

Die Taycan behoort in die eerste helfte van 2020 in Suid-Afrika beskikbaar te wees.

%d bloggers like this: