Breaking News

Nuwe Range Rover Sport op pad

Die tweede geslag Range Rover Sport is pas oorsee bekendgestel en is op pad na Suid-Afrika.

Die nuwe model is die opvolger van die oorspronklike model, wat reeds in 2005 bekendgestel is, en hoewel dit ‘n uitvloeisel van die oorspronklike model is, spog die nuwe een met ‘n paar toonaangewende kenmerke. Die digitale ligdiode-kopligte, wat dagryligte bevat, is die kleinste tot nog toe in ‘n land Rover-produk, maar die tegnologie is baie meer gevorderd as voorheen. Aan die kant is daar ‘n kenmerkende skouerlyn, asook die langste drukvlerk wat tot dusver vir ‘n Range Rover gebruik is. Aan die agterkant is daar ononderbroke ligdiode-grafika wat vir ‘n eietydse voorkoms snags sorg, ongeag van watter hoek die motor bekyk word. Daar is ook ‘n strook wat oor die breedte van die agterkant strek en die Range Rover-benaming bevat. Die deurhandvatsels is in die bakwerk versteek, en dra by tot die lae sleurkoëffisiënt van net 0.29. Daar sal ‘n nuwe Dynamic-stileringspakket beskikbaar wees, met ontwerpelemente soos satyngrys allooiwiele, koper afwerking vir die luguitlate op die enjinkap en aan die kante, asook die Range Rover-kenteken in Matte Graphite Atlas-afwerking. Die voor- en agterstampers, met afwerking in dieselfde kleur as die bakwerk aan die onderkant, sal ook doelgemaak vir die Dynamic wees.

Daar sal ‘n verskeidenheid petrol-, diesel- en hibriede-enjins beskikbaar wees, terwyl ‘n ten volle elektriese model in 2024 sal volg. Die nuwe P 510e Electric Hybrid sal voldoen aan die vereistes van diegene wat op soek is na ‘n kombinasie van uitsonderlike werkverrigting en uitstekende brandstofdoeltreffendheid. Dit kombineer die drieliter Ingenium-sessilinderenjin met ‘n elektriese kragbron wat 105 kW lewer en ‘n 38.2 kWh-battery. Dit beteken dat hierdie kragbron altesaam 375 kW lewer. Daarby kan hierdie model binne 5,4 sekondes van 0 tot 100 km versnel, en ‘n reikafstand van 113 km op elektriese krag alleen is moontlik. Dit maak dat eienaars tot 75% van hul reise op suiwer elektriese krag kan onderneem. Aangesien dit ‘n inprop-hibriedekragbron is, kan die battery gelaai word om ‘n reikafstand van 750 km  moontlik te maak. Daar is egter ook ‘n V8 met twee turboaanjaers beskikbaar; hierdie enjin lewer 390 kW en daar kan binne 4,5 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel word wanneer die wegtrekbeheer gebruik word. Die ander enjinkeuses is ‘n P 400 Ingenium-sessilinderenjin met ligte hibriedetegnologie en ‘n D 350-turbodieselenjin met ses silinders.  Al hierdie enjins word aan ‘n agtgang ZF-outomatiese ratkas gekoppel.

Aan die binnekant is daar verhitbare voorsitplekke met 22 verstellings en kopstutte wat die voorste insittendes ook aan die kante ondersteun. Die agterste passasiers vind baat by verbeterde been- en knieruimte. Verskillende klankstelsels sal beskikbaar wees, met ‘n keuse van tot 29 luidprekers, onder meer in die kopstutte van die voorste sitplekke. Die bekroonde Pivi Pro-inligting-en-vermaakstelsel is verder opgeknap, en beskik oor ‘n skerm van 13,1 duim in die middel van die paneelbord. Hierdie skerm kan aangepas word volgens die gebruikers se beheoftes, en net twee stappe is nodig om toegang tot enige belangrike funksie te kry.  Daar is ook ‘n 13,.7 duim interaktiewe vertoonpaneeel vir die bestuurder met grafika wat baie dieselfde as dié van die raakskerm is en volgens behoeftes aangepas kan word. Koordlose Apple Car Play en Android Auto is standaard toerusting, en ‘n koordlose selfoonlaaier  van 15 Watt is onder die raakskerm geleë. Die voertuig se programmatuur kan deur middel van die SOTA (Software Over The Air)-tegnologie deur die internet bygewerk word. Dit maak dat tot 63 elektroniese modules deur afstandbeheer bygewerk kan word en verseker dat die voertuig dwarsdeur sy leeftyd aan die voorpunt van vindingryke tegnologie staan. Die bestuurder kan ook toegang tot alle funksies binne die motor kry deur stembeheer te gebruik.

Die nuwe reeks beskik oor verskeie veiligheidskemerke as standaard toerusting, onder meer noodremhulp, ‘n driedimensionele rondomkamera, ‘n stelsel wat moegheid by die bestuurder bespeur, parkeersensors voor en agter en baanhouhulp. Hoewel uitsonderelike veldryvermoë as vanselfsprekend vir enige Land Rover-produk as vanselfsprekend aanvaar kan word, spog die nuwe model met selfs meer gevorderde tegnologie. Een daarvan is aanpasbare veldry-spoedbeheer wat die bestuurder in staat stel om ‘n vasgestelde snelheid en geriefsvlak uit een van vier verstellings te kies  om moeilike terrein makliker baas te raak. Dit maak dat die bestuurder net hoef te stuur, en die res aan die voertuig se tegnologie oor te laat. Die nuwe Range Rover Sport sal die eerste Land Rover-produk wees wat met hierdie stelsel toegerus word. Terrain Response 2 bespeur die oppervalkte en terrein en pas die onderstel daarby aan.  Die inligting hieroor word op die Pivi Pro-raakskerm vertoon, en enige verstellings kan hierdeur gemaak word.

Die padhouvermoë van die nuwe Range Rover Sport word verbeter deur die Stormer Handling Pack, wat onder meer bestaan uit vierwielstuur, Dynamic Response Pro en ‘n elektroniese aktiewe ewenaar. Daar is ook verskillende bestuursmodusse om van te kies; dit stel die bestuurder in staat om die bestuurervaring op die pad en in die veld volgens behoefte aan te pas. Die ratkas en die Intelligent All Wheel Drive-stelsel werk ook saam om vas te stel na watter wiele toe die meeste wringkrag in ‘n enige spesifike situasie gestuur moet word.

Die nuwe Range Rover Sport sal na verwagting teen die einde van die jaar in Suid-Afrika bekendgestel word. Die oorsese reeks is beskikbaar met S, SE, HSE en Autobiography-spesifikasievlakke terwyl ‘n First Edition vir die eerste produksiejaar ook beskikbaar sal wees. Verdere besonderhede oor die Suid-Afrikaanse reeks, asook pryse, sal later bekendgemaak word.

%d bloggers like this: