Breaking News

Nuwe SL het plek vir vier

Die jongste weergawe van een van die mees legendariese sportmotors ter wêreld is pas aan die internasionale media bekendgestel.

In 1954 het Mercedes-Benz die wêreld verstom met die bekendstelling van die 300 SL, wat onder meer beskikbaar was met kenmerkende vlerkdeure. Benewens hierdie model was ‘n afslaankap ook beskikbaar, en oor ‘n tydperk van byna sewentig jaar was die Mercedes-Benz SL een van die mees gesogte sportmotors. 

Die sewende geslag is pas bekendgestel en kombineer klassieke stilering met moderne tegnologie. Die nuwe model vervang nie net die vorige SL nie maar ook die Mercedes-AMG GT, en vir die eerste keer sal die SL as ‘n Mercedes-AMG bekendstaan. Die nuwe SL is ook vir die eerste keer ‘n 2+2 terwyl ‘n sagte dak wat met die druk van ‘n knoppie teen snelhede van tot 60 km/h op- en afgeslaan kan word, standaardtoerusting vir die nuwe reeks is.

Daar sal voolopig twee modelle beskikbaar wees, maar die maatskappy het aangekondig dat modelle met inprop-hibriedekragbronne en Formule 1-geïnspireerde hibriedetengnologie later sal volg. Vir eers sal twee V8-enjins , elk met twee turboaanjaers en ‘n kapasiteit van vier liter, beskikbaar wees. Die enjin van die intreemodel, die SL 55, lewer 350 kW teen tussen 5 500 en 6 500 opm en wringkrag van 700 Nm teen tussen 2 250 en 4 500 opm. Die SL 55 kan binne 3,9 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en ‘n topsnelheid van 295 km/h bereik. Die SL 63 word aangedryf deur ‘n kragtiger weergawe van dieselfde enjin, wat 430 kW teen 5 500 tot 6 500 opm en wringkrag van  800 Nm teen tussen 2 500 en 5 000 opm. Die SL 63 kan ‘n topsnelheid van 315 km/h bereik en binne 3,6 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Albei enjins word aan ‘n AMG Speedshift 9G-ratkas gekoppel terwyl Mercedes-Benz se 4 Matic +-vierwielaandrywingstelsel standaardtoerusting vir albei modelle is. Vir die eerste keer is vierwielstuur ook standaardtoerusting; dit verminder die motor se draaisirkel aansienlik.

Die ontwerp van die sierrooster bring hulde aan die oorspronklike SL-renmotror wat in 1952 bekendgestel is; dit beskik oor veertien vertikale stawe met die Mercedes-Benz-kenteken. Dit is trouens dieselfde tipe sierrooster wat die AMG-modelle van die res van die Mercedes-Benz-reeks onderskei. Die driedimensionele ontwerp en lae plasing skep die indruk van dinamika. Aan weerskante van die sierroster is daar kopligte met digitale ligdiode-tegnologie. Die laer luguitlaat binne die voorstamper beklemtoon die breedte van die vooraansig. Die twee kragbulte op die enjinkap is nog ‘n kenmerk wat hulde aan die SL se geskiedenis bring en die lang en plat enjinkap onderstreep die SL se status as sportmotor. Die luguitlate agter die voorste modderskerms help om lugvloei na die verkoelers te kanaliseer. Die SL 55 en 63 spog met allooiwiele van onderskeidelik 19 en 20 duim, maar verskeie ontwerpe van tussen 19 en 21 duim is beskikbaar. 

Aan die binnekant is ‘n stuurkajuit wat deur dié van ‘n vliegtuig geïnspireer is, maar terselfdetyd word die tradisie van die oorspronklike 300 SL Roadster oorgedra na die nuwe model. Die vertoonpaneel middel van die paneelbord is elektries verstelbaar en die digitale instrumentepaneel kan volgens die bestuurder se behoeftes aangepas word. Die tweede ry sitplekke maak die SL meer veelsydig as voorheen en beteken dat dit uiters geskik vir alledaagse gebruik is. Die tweede ry sitplekke kan mense van tot 1,5 meter lank huisves, of dit kan gebruik word om ‘n sak met gholfstokke te vervoer indien nodig. Daarby kan ‘n windafleier ingeprop word om te keer dat die wind in die nekke van die voorste insittendes waai. Die luguitlate vir die klimaatbeheerstelsel lyk na die turbines van ‘n straalvliegtuig en die instrumentepaneel, met ‘n vertoonpaneel van 12,3 duim, is by ‘n hoëtegnologieskerm geïntegreer. Dit skakel weerkaatsing wat deur sonlig veroorsaak word, uit.  Die bestuurder en voorste passasier word deur ‘n middelkonsole wat ‘n verstelbare raakskerm van 11,9 duim bevat, geskei. Hierdie skerm is tussen die twee middelste luguitlate geleë. Die voorste sitplekke is elektries verstelbaar en die kopstutte is by die rugleunings geïntegreer. Voornemende kopers kan egter ook AMG Performance-sitplekke, wat bykomende steun in Sport, Sport+ en Race-modusse bied, teen ekstra koste bestel. Airscarf, wat lug vanuit die luguitlate in die kopstutte tot in die kop en nek van die voorste insittendes laat vloei, is standaardtoerusting.  Die AMG Performance-stuurwiel beskik oor drie dubbele speke en bevat knoppies waarmee omtrent alle inligting beheer kan word sonder dat dit nodig is om ‘n mens se hande van die stuurwiel af te haal. Daar is ook ratspane agter die stuurwiel waarmee ratte sonder ‘n koppelaar gewissel kan word.

Die tweedegeslag MBUX-stelsel is afkomstig van die nuwe S-klas, maar daar is sommige kenmerke wat spesifiek vir die SL ontwikkel is. Altesaam vyf vertoonopsies is beskikbaar, naamlik Classic, Sport, Supersport, Track Pace en Discreet is beskikbaar. Supersport bevat die inligting waarin die geesdriftige motoris sal belangstel, onder meer enjindata en die data van die temperatuur van sekere komponente van die voertuig. AMG Track Pace is standaardtoerusting vir die SL 63 3n teen ekstra koste vir die SL55 beskikbaar.  Dit neem data tien keer per sekonde op wanmneer daar om ‘n renbaan gejaag word. Daarby word rondte- en sektortye op die instrumentepaneel, die opsionele vertoonpaneel tussen die voorruit en die instrumentepaneel en die raakskerm vertoon. 

Die nuwe Mercedes-AMG SL sal in 2022 in Suid-Afrika bekendgestel word, en pryse sal eers dan bekendgemaak word.

%d bloggers like this: