Gedurende 2018 het Volkswagen reeds vier nuwe modelle in Suid-Afrika bekendgestel en nou is die nuwe vlagskip van die plaaslike reeks ook hier beskikbaar.

Sedert die bekendstelling van die oorspronklike Touareg in 2004 is omtrent ‘n miljoen eenhede wêreldwyd verkoop, en die derde geslag van Volkswagen se luukse sportnutsvoertuig is pas hier bekendgestel.

Die nuwe Touareg is langer en breër as sy voorganger; sy algehele lengte en breedte is onderskeidelik 4 878 mm (77 mm langer as voorheen) en 1 984 mm (44 mm breër as voorheen); nogtans is hy 106 kg ligter as voorheen weens die gebruik van aluminium en tegnologies gevorderde staal, in ‘n verhouding van 52% en 48% onderskeidelik. Die verhoogde lengte en breedte het ‘n groot toename in bagasieruimte tot gevolg gehad; van 697 tot 810 liter met die agtersitplek regop.

Die hoofontwerper van Volkswagen, Klaus Bischoff, en sy span het vorendag gekom met ‘n ontwerp wat die Touareg se posisionering as vlagskip herposisioneer; die nuwe model is ‘n eksklusiewe maar veelsydige voertuig wat bo die massa uitstyg as gevolg van toonaangewende tegnologie, veelsydigheid en besondere dinamika en werkverrigting. Dit alles word in die nuwe ontwerp weerspieël. Hoewel die eerste geslag Touareg hoofsaaklik ontwikkel was vir uitsonderlike veldryvermoë, het die klem mettertyd al hoe meer verskuif na luuksheid en eksklusiwitieit, maar veldryvermoë het nog altyd belangrik gebly.

Die vooraansig is ontwerp om iets besonders te wees; dit is innoverend en onmoontlik om n ate doen. Die ontwerpspan wou iets skep wat nog nooit tevore gesien is nie; en dit maak hom een van die mees kenmerkende sportnutsvoertuie op die internasionale mark.

Die agteraansig is stylvol dog prakties, en die uitstaande kenmerk is LED-agterligte met ‘n L-vorm. Die agterklap wat oor feitlik die hele breedte van die agterkant strek, is ‘n bewys dat praktiese oorwegings net so belangrik soos estetika was. Die allooiwiele is groter as voorheen; daar is ontwerpe van 18 duim tot 21 duim beskikbaar.

Twee spesifikasievlakke is beskikbaar. Die Luxury en Executive. Die Luxury kos R 999 800 en die Executive kos R 1 088 200. Hoewel daar twee spesifikasievlakke is, is net een enjinkeuse tans beskikbaar. Die V6-turbodieselenjin wat standaardtoerusting vir die Touareg is, lewer 190 kW teen tussen 3 250 en 4 250 opm en wringkrag van 600 Nm teen tussen 2 250 en 3 250 opm.  Die nuwe Touareg het ‘n sleepvermoë van 3,5 ton.

Die uitstaande kenmerk van die nuwe reeks is die splinternuwe “Innovision Cockpit”; ‘n heeltemal digitale instrumentepaneel met ‘n vertoonpaneel van 12 duim, asook ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n raakskerm van 15 duim.  Dié kenmerk is opsioneel vir die Luxury-model beskikbaar, maar standaardtoerusting vir die Executive. Volgens Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) is die “Innovision Cockpit” die bloudruk van die digitale binneruim van die toekoms. Dit is ook heeltemal aanpasbaar volgens die bestuurder en die passasiers se behoeftes en dit maak dat die motor by hulle aanpas, eerder as andersom. Dit alles word deur die veelfunksie-stuurwiel en digitale kontroles beheer.

Die Touareg word toegerus met die mees gevorderde veiligheids- geriefs- en bestuurshulpstelsels wat tot nog toe in ‘n Volkswagen beskikbaar was. Daar is ‘n nuwe stelsel wat bestuurders help om makliker in die nag te sien; dit vorm deel van die gevorderde veiligheidspakket wat die bestuurder waarsku as daar voetgangers of ander hindernisse in die donker voor die motor inbeweeg, asook vierwiel-stuur, wat maak dat die Touareg soos ‘n baie kleiner motor hanteer. Daarby is daar ook gevorderde LED Matrix-kopligte wat interaktief met behulp van die voertuig se kamera werk. Dit beteken dat die ligte se funksies deur middel van die kamera aangepas word.

Onder die standaardtoerusting vir die Luxury is 19 duim allooiwiele, LED-kopligte met dagryligte, verhitbare sitplekke met leerbekleedsel, sleutellose toegang met ‘n agterklap wat met kraghulp werk, kragbeheerde sitplekke met ‘n geheue, ‘n panoramiese sondak, satellietnavigasie, ‘n elektries wegvoubare trekstang, ‘n trukamera met parkeerhulp en parkeersensors en LED-agterligte. Die Executive voeg onder meer die volgende kenmerke by: ‘n R-Line-stileringspakket, die Innovison Cockpit (opsioneel vir die Luxury), ‘n leer-oorgetrekte R Line-stuurwiel, ‘n viersone-klimaatbeheerstelsel, asook kopligwassers.

Albei modelle het die grootste panoramiese dak wat nog ooit vir ‘n Volkswagen beskikbaar was, as standaardtoerusting. Dié dak is 1 270 mm lank en 825 mm breed, volgens die afmetings aan die binnekant.

Daarby is ‘n navigasiestelsel standaardtoerusting vir albei modelle, asook twee plekke vir SD-kaarte, twee USB-kragpunte en Bluetooth-verbinding.  Die persoonlike instellings vir die Innovision Cockpit kan deur middel van die motor se sleutel geberg en opgeroep word end it is veral nuttig as die motor deur verskeie persone bestuur word.

Die nuwe Touareg se binneruim is heeltemal herontwerp vir die digitale era en die meerderheid van die kontroles is geïntegreer in ‘n raakskerm van 15 duim aan die bokant van die paneelbord.  Daar is ook ‘n nuwe digitale instrumentepaneel (“Innovision Cockpit”) wat deur middel van die skerm of die veelfunksiestuurwiel by die behoeftes van die bestuurder aangepas kan word.  Die uitleespaneel van die navigasiestelsel kan byvoorbeeld in die middel van die panel vertoon word, en indien niks anders nodig is nie, kan net die spoedmeter en die uitleespaneel van die navigasiestelsel vertoon word. Die motor se afstandmeter is egter te alle tye onder aan die instrumentepaneel sigbaar.  Onder die inligting wat ook op die panel vertoon kan word, is die instellings van die spoedbeheer, die waarskuwingstelsel as die bestuurder konsentrasie verloor, die banddrukmonitor en die klankstelsel. Daar is ook ‘n klein uitleespaneel tussen die instrumentepaneel en die voorruit beskikbaar; dit kan inligting oor die navigasiestelsel, die voertuig se hudige snelheid, snelheidsbeperkings,aook die stelsel wat die motor in sy baan hou wanneer die bestuurder dalk per abuis van baan verwissel, gee. Hierdie paneel is deel van ‘n opsionele veiligheidspakket wat ook die Night Vision-stelsel en die stesel wat die voertuig in die regte baan op die oop pad hou, insluit.

Die Touareg spog met een van die beste kopligstelsels ter wêreld, wat met behulp van die bekende vervaardiger Hella ontwikkel is; dit bevat ‘n interaktiewe beheerstelsel wat dit veliger maak om in die nag te bestuur en die ontwerp van die kop-en agterligte gee die Touareg ‘n eiesoortige voorkoms.

Pryse:

3.0 V6 TDI 190kW (Luxury)                                         R  999 800

3.0 V6 TDI 190kW (Executive)                                    R1 088 200

Die reeks word vir drie jaar of 120 000km gewaarborg, en ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km, asook ‘n waarborg teen korrosie van twaalf jaar is by die pryse ingesluit.

%d bloggers like this: