Nadat die derde geslag van die Toyota Auris tydens die Geneefse Motorskou bekendgestel is, is Toyota besig om gereed te maak om dié nuweling in September in Suid-Afrika bekend te stel.

Die Auris-loodsing is belangrik vir Suid-Afrika omdat die Auris meeding in die gewilde kompak-luikrug marksegment. Die Auris het sy oorsprong in die Toyota Coralla Conquest luikrug. Die Conquest se opvolger was die Corolla Run-X wat op sy beurt weer deur die Auris in 2006 vervang is.

Die nuwe Auris  word gekenmerk dat dit groter is as sy voorganger van 2012 en dat daar meer elektrisiteit-aangedrewe keuses in die reeks bied.

Die nuwe Auris sal eers net met gewone petrol  enjin beskikbaar wees, naamlik die 1,2 liter turbo-aangejaagde enjin wat sy debuut in dieToyota  C-HR gemaak het. Die ander enjin-keuse wat van die begin af beskikbaar sal wees, is ‘n 1,8 liter-hibriede-enjin wat ‘n kombinasie van petrol- en elektriese aandrywing bied.

Die ontwerp van die nuwe Auris is volgens Toyota daarop gemik om so “dinamies en uitstaande as moontlik te wees en terselftetyd praktiese oorwegings in aanmerking te neem”. Die nuwe model is langer en laer as sy voorganger. Die langer asafstand maak dat die nuwe model 40 mm langer as sy voorganger is en die langer en laer enjinkap verseker dat die bestuurder ‘n beter sig op die pad het.

Daar is ‘n groot sierrooster in die voorste stamper, asook ‘n kleiner een aan die bokant van die vooraansig met die Toyota-kenteken en splinternuwe LED-kopligte met dagryligte. Aan die agterkant is daar ‘n dakdrukvlerk vir al die modelle en die nuwe LED-agterligte beklemtoon die motor se breedte. Vir sommige modelle sal ‘n bakwerk in twee kleure beskikbaar wees; die dak en pilare sal in daardie geval swart wees, met die res van die bakwerk in ‘n ander kleur.

Die volledige spesifikasies, die samestelling van die reeks asook pryse sal bekendgemaak word sodra die Auris hier bekendgestel word.

%d bloggers like this: