Oktober 2019 motorverkope toon oplewing

0 Comments
  • Die pasgeloodse Volkwagen T-Cross verkoop reeds goed.
  • Citroën bewys met hertoetrede daar is tog ‘n mark vir hierdie vervaardiger.

Die verkope van nuwe motors in Oktober het ‘n effense oplewing getoon in vergelyking met dieselfde maand verlede jaar, met 51 978 voertuie wat verkoop is in vergelyking met 51 856 ‘n jaar tevore.

Wat passasiersmotors betref, is ‘n duisend eenhede of meer van agt van die tien gewildste modelreekse  van die hand gesit, met die VW Polo Vivo en Polo-luikrug wat weer die markleiers is. Een groot verrassing is die gewildheid van die Toyota Corolla Quest, wat op die vorige geslag Corolla gebaseer is en wys dat daar steeds ‘n mark vir bekostigbare sedans is. Altesaam  1 313 eenhede is verkoop.

Die gewildheid van die Ford Eco Sport het só toegeneem dat dit die algehele vierde plek met 1 265 eenhede ingeneem het. Volkswagen se derde inskrywing onder die eerste vyf is die nuwe T-Cross; die 1 132 eenhede wat verkoop is, is ‘n bewys dat die goeie vertoning in September, sy bekendstellingsmaand, nie ‘n gelukskoot was nie.  Die tweede Toyota onder die eerste tien is die Yaris, waarvan 1 065 verkoop is. Die Renault Kwid is in die sewende plek met 1065, gevolg deur nóg ‘n Toyota, naamlik die Fortuner, met 1018. Die Ford Figo en Toyota Etios rond die eerste tien af met 963 en 957 eenhede onderskeidelik.

Die onbetwiste markleier in die A-segment is die Renault Kwid, gevolg deur die Toyota Etois en die Renault Sandero, waarvan 886 eenhede verkoop is.   Die Hyundai Grand i10 is volgende met 607 eenhede, maar ‘n mens wonder of die bekendstelling van die Atos, waarvan 244 verkoop is, nie dalk sy verkope nadelig beïnvloed het nie. Hoe ook al, die toekoms lyk blink vir Hyundai se nuwe kleintjie.  Kia se Picanto was weer eens ‘n gewilkde keuse, met 582 wat verkoop is. Dit was dié Koreaanse vervaardiger se gewildste model. Daar is onderskeidelik 425 en 154 eenhede van die Datsun Go en Go+ verkoop, te midde van gerugte dat Nissan dit oorweeg om die Datsun-handelsmerk aan die mark te onttrek.

Die B-segment is seker die mees mededingende op die plaaslike mark, soos die feit dat drie mededingers onder die eerste tien is, bewys. Volswagen se twee Polo-modelreekse en die Toyota Yaris was in Oktober die gewildste keuses in hierdie segment. Die Hyundai i20 het hom die laaste tyd gereeld onder die eerste tien tuisgemaak, maar sy verkope van 654 vir Oktober was nie genoeg nie, en selfs die Suzuki Swift het beter gevaar, met altesaam 678 eenhede.  Die Kia Rio is deesdae net as ‘n luikrug beskikbaar, en 391 is verkoop. Die verkope van vier sedans in hierdie segment sal vir sommige mense ‘n verrassing wees, maar bewys dat daar wel ‘n aanvraag daarvoor is, nie net onder Uber-operateurs nie maar ook onder gesinne met ‘n beperkte begroting wat ‘n groot bagasiebak nodig het.  Die Toyota Corolla Quest is algeheel in die derde plek, terwyl die 544 eenhede van die Nissan Almera sommige mense dalk sal verbaas. Volkswagen het 522 Polo sedans verkoop, terwyl Hyundai 293 eenhede van sy Accent verkoop het.

Die een marksegment wat geweldig gegroei het die afgelope tyd, is die een vir klein oorkruisvoertuie. Hier woed ‘n stryd tussen die gevestigde Ford Eco Sport en die splinternuwe Volkswagen T-Cross. Hierdie twee oorheers hierdie segment heeltemal, soos van mededingers soos die Hyundai Creta (403), Renault Duster (338), Mazda CX-3 (302), Toyota Rush (167) en Opel Crossland X (128) bewys. Daar is net 100 Renault Capturs verkoop, maar dalk is dit omdat ‘n nuwe geslag aanstaande jaar verwag word.

Onder die groter sportnutsvoertuie is dit die VW Tiguan, wat met 722 eenhede, die gewildste keuse is. Die Toyota RAV 4 is volgende, met 558 eenhede, gevolg deur die Hyundai Tucson (418), die Mazda CX-5 (340),  Kia Sportage (248) en Nissan se Qashqai en X-Trail (202 en 163 onderskeidelik).  Die Toyota Fortuner het sy oorheersing van die segment vir bakkiegebaseerde sportnutsvoertuie voortgesit. Die Ford Everest (194), Isuzu mu-X (44) en Mitsubishi Pajero Sport (40) hou geen bedreiging in nie.

Aangesien Mercedes-Benz slegs ‘n totale verkoopsyfer , sonder om dié van individuele modelle te gee, is dit moeilik om vas te stel hoe hul verskillende mededingers vaar. Een van die modelle wat die grootste belangstelling uitlok, is die A-klas.  Wat sy mededingers betref, is daar eintlik min om oor opgewonde te raak, hoewel Audi 408 eenhede van hul A3’s ( 230 Sportbacks, 173 sedans en vyf afslaankappe) verkoop het. BMW het ook reeds 213 nuwe 1-reeks-modelle verkoop.  Dit is slegs drie eenhede minder as die VW Golf 7. Volvo se V40 het ‘n goeie maand beleef; 71 gewone V40’s en 49 Cross Country-modelle is van die hand gesit. Dit was selfs meer as die 90 Madza 3’s wat verkoop is; en dan bestaan Mazda se reeks uit sedans en luikrûe.  In die segment vir kompakte luukse sedans, waarin die C-klas meeding, is  274 eenhede van die BMW 3-reeks en 140 eenhede Audi A4’s verkoop. Die feit dat net 62 eenhede van die BMW 5-reeks en een Audi A6 verkoop is, terwyl nie een Jaguar XF van die hand gesit kon word nie, is ‘n teken dat die segement vir groter weeldesedans so te sê daarmee heen is.

BMW oorheers die twee marksegmente vir luukse sportnutsvoertuie, met 193 en 128 eenhede wat onderskeidelik van die X3 en X5 verkoop is.  Die ander vervaardigers in hierdie twee segmente wat afsonderlike verkope aangee, vaar minder goed. Jaguar Land Rover is goed verteenwoordig, maar die Land Rover Discovery Sport (33), Land Rover Discovery (31), Range Rover Sport (77) , Range Rover Velar (27), Jaguar F-Pace (52) en Jaguar E-Pace (39) kom nie naby hul mededingers van BMW nie, terwyl nie een i-Pace (Jaguar se elektriese sportnutsvoertuig) verkoop is nie.

Die bakkie-tweestryd tussen Toyota en Ford woed voort, maar die Toyota Hilux is weer eens die algehele topverkoper op die plaaslike mark. Daar is altesaam 4 377 eenhede van die Hilux en 1 806 van die Ranger verkoop, met die Isuzu D-Max in die derde plek met 1 372.  Nissan se beste verkoper is die NP 200, die enigste bakkie in sy marksegment wat nog beskikbaar is, waarvan altesaam 1 051 verkoop is.  Ten spyte van kritiek teen sy veiligheid is 440 Nissan NP 300 Hardbody’s verkoop. Die Mahindra Pik-Up is volgende met 286 eenhede, gevolg deur die Toyota Land Cruiser-bakkie (231), Volkswagen Amarok (187), GWM Steed (179) en Nissan Navara (151). GWM het ongelukkig nie aangedui hoeveel eenhede van die onderskeie Steed-modelreekse, naamlik die Steed 5, Steed 5E en Steed 6, verkoop is nie.

Onder die ligte vragmotors was die Hyundai H100, met 237 eenhede, die markleier, gevolg deur die Kia K 2700 (114) en die Toyota Dyna (102), terwyl JMC net twaalf eenhede van die Carrying 1,6 ton verkoop het.  Onder die minibus-taxi’s het Toyota se besluit om in die fabriek waar die Hi-Ace Ses’fikile (die vorige Quantum) vervaardig word, te belê, vrugte afgewerp deurdat 1 738 van hulle verkoop is.  Die Isuzu N-reeks (152) en Hino 300 (129) was in Oktober die gewildste middelslag-vragmotors.

Citroën se terugkeer na Suid-Afrika het nogal groot belangstelling gaande gemaak; verkope van die C3 (31), C3 Aircross (21) en C5 Aircross (19) behoort dié Franse vervaardiger hoop te gee. Daar was egter ‘n aantal motors wat nie die pyp gerook het nie. Die Subaru Impreza skitter ongelukkig in sy afwesigheid deurdat nie een verkoop is nie. Daar is ook net een Toyota Prius, een Mini-afslaankap, een Peugeot 308 en een Suzuki Grand Vitara verkoop, terwyl Fiat net een van sy 500X-modelle en drie Abarth 595’s van die hand kon sit.  Die Subaru WRX (4) en Outback (6) het ook nie goed gevaar nie.  Sewe eenhede elk van die Opel Adam, die Landwind 5, die Peugeot 5008 en die Mahindra Thar is verkoop.

Waar die drie Audi A4 Avant-eenhede wat in die verkoopsyfers aangedui is, vandaan kom, weet ‘n mens nie, aangesien hierdie model nie op Audi se pryslyste voorkom nie.

 

Categories:
%d bloggers like this: