Die Opel Astra-reeks in Suid-Afrika is pas uitgebrei met die bekendstelling van die 1,6 T Sport met ‘n outomatiese ratkas.

Benewens die nuwe ratkas spog die nuweling ook met ‘n OPC-stilerings-pakket terwyl ‘n kantel- en-skuifsondak opsioneel beskikbaar is. Die oogmerk met die nuwe model is om ‘n nuwe model beskikbaar te stel wat so goed toegerus is dat dit onnodig is om die motor teen ekstra koste op te knap. Die nuweling sal voortaan die vlagskip van die Astra-reeks wees.

Die 1,6 T Sport, wat net met ‘n outomatiese ratkas met ses gange beskikbaar is, word toegerus met ‘n turbo-aangejaagde petrolenjin wat 147 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 280 Nm teen tussen 1 650 en 5 000 opm lewer. Die nuwe model beskik oor ‘n sportmodus as standaard toerusting; dit kan gekies word om toere so hoog as moontlik te hou om nie net ‘n meer bevredigende bestuurs ervaring te verseker nie, maar ook die motor se veiligheid te verhoog wanneer krag in sekere situasies nodig is.

Die OPC-ontwerplyn is binne en buite sigbaar; aan die buitekant is daar allooiwiele met 225/40 R 18-bande en kleurgekodeerde deurhandvatsels en aan die binnekant spog die nuweling met allooipedale en ‘n verhitbare sportstuurwiel.

Aangesien veiligheid van kritieke belang is, spog die 1,6 T Sport met stabiliteits beheer, ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remverspreiding, wegtrekhulp, ‘n blindekol-monitor en parkeerhulp. LED-kopligte en dagryligte en LED-agterligte is standaard toerusting. Daar is ook inligting or padtekens, baan-hou hulp, ‘n volgafstand-monitor en ‘n remstelsel wat die erns van botsings teen lae snelhede verminder.

Opel se IntelliLink-inligting-en-vermaak-steslel bevat Bluetooth-verbinding, USB- en AUX-kragpunte,  ‘n seweduim-raakskerm en satelliet-navigasie, asook ‘n trukamera. Daarby is elektroniese klimaat beheer standaard toerusting, asook leerbek-leedsel, en hoogte-verstelling vir die bestuurder en voorste passasier se sitplekke.

Die prys van die Opel Astra 1,6 T Sport Outomaties, wat ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, is R 508 000.

%d bloggers like this: