Nadat die jongste Opel Combo-paneelwa in Julie 2019 in Suid-Afrika op die mark gekom het, is die passasiersweergawe, die Combo Life, ‘n maand later ook bekendgestel.

By Autobest 2019 in Brussels in België is die Combo Life deur ‘n paneel van 31 kundige joernaliste uit 31 lande aangewys as die beste kopie onder Europese motors. Die paneel het bevind dat die Combo Life uiters veelsydig, gemaklik en veilig is en nie sy gelyke in sy marksegment het wat waarde vir geld en gehalte betref nie.

Die Combo Life is ‘n veeldoelvoertuig met vyf sitplekke en daar is geen kompromieë met veiligheid aangegaan nie. Ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remverspreiding, vastrapbeheer, wegtrekhulp en stabiliteitsbeheer is alles standaardtoerusting.

Die IntelliLink-inligting-en-vermaakstelsel beskik oor ‘n raakskerm van sewe duim, en bevat Bluetooth-verbinding, kontroles op die stuurwiel en ses luidsprekers.

Die Combo Life word aangedryf deur ‘n turbodieselenjin van 1,6 liter wat 68 kW teen 4 000m opm en wringkrag van 230 Nm teen 1 700 lewer. Hierdie enjin word aan ‘n vyfgang-handratkas gekoppel.  Volgens die vervaardiger is sy gemiddelde brandstofverbruik 5 liter per 100 km.

Aan die buitekant word die Combo Life toegerus met skuifdeure aan albei kante, met ‘n vaste kantvenster aan die regterkant en een wat kan oopmaak aan die linkerkant.  Die stampers, die buitespieëls en die deurhandvatsels is in dieselfde kleur as die bakwerk afgewerk en daar is ‘n agterklap met ‘n agterruit; nie altyd ‘n voldonge feit vir ‘n voertuig in hierdie marksegment nie.

Met die Combo Life stel Opel ‘n voertuig beskikbaar wat die gaping tussen die gewone passasiersmotor en die sportnutsvoertuig vul, en wat gemik is op mense wat op soek is na ‘n praktiese en veelsydige voertuig. Die Combo Life is nie met opsionele kenmerke teen ekstra koste beskikbaar nie.

Die Opel Zafira Life.

Opel se reeks word vroeg in 2020 afgerond met die toevoeging van nog ‘n mensekarweier, die Zafira Life, wat groter as die Combo Life sal wees.

 

 

 

 

 

 

Die Combo Life se prys van R 369 900 sluit ‘n waarborg en padbystand van drie jaar of 120 000 km  en ‘n diensplan van drie jaar of 60 000 km in.

%d bloggers like this: