Opel se Corsa Blitsbuks

0 Comments

Die legendariese GSI-modelnaam gaan binnekort weer sy verskyning maak, wanneer die Corsa GSI in Suid-Afrika in Mei 2019 op die mark kom.

Hoewel die nuweling as ‘n verrigtings-model beskou kan word, is die fokus deesdae op alledaagse bestuursgenot en daar word nie meer so sterk klem gelê op die GSI-kenteken se wedren geskiedenis nie.

Daar is egter wel ‘n paar uitstaande kenmerke wat die GSI as vlagskip van die Corsa-reeks onderskei. Die OPC-sportvering en remstrelsel, wat rooi remknypers bevat), is op die Nüurnburgring-renbaan ontwikkel om uitsonderlike hantering en remvermoë te ontwikkel,terwyl 18-duim allooiwiele die GSI ‘n aantreklike en sportiewe voorkoms gee.

Die GSI het ‘n meer sportiewe voorkoms as die res van die Corsa-reeks en is net met ‘n drie-deur  bakwerk beskikbaar. Die groot heuningkoek-sierrooster met die Opel-kenteken en die groot luguitlaat op die enjinkap is uitstaande kenmerke aan die voorkant en die buitespieëls het ‘n koolvesel-voorkoms. Daar is ‘n groot drukvlerk op die agterklap en ‘n sportiewe chroom-uitlaatpyp in die agterstamper.

 

Die sportiewe gevoel word aan die binnekant voortgesit, met leerbekleedsel, ‘n leer-oorgestrekte stuurwiel met ‘n plat onderkant en rat-hefboom-knop en verhitbare Recaro-sportsitplekke vir die voorste insittendes, asook aluminium-pedale. Die Corsa GSI spog verder met elektroniese klimaatbeheer, ‘n IntelliLink-inligting-en-vermaakstelsel met ‘n seweduim-raakskerm en Bluetooth- verbinding en ruitveërs met reënsensors. Die klankstelsel beskik oor ses luidsprekers. Die Corsa GSI word toegerus met ‘n turboaangejaagde 1,4 liter-enjin wat ‘n kraglewering van 110 kW teen 3 000 opm en wringkrag van 220 Nm teen tussen 3 000 en 4 500 opm lewer. Volgens die vervaardiger is sy gemiddelde brandstof verbruik 5,8 liter per 100 km.

Verskeie veiligheids-kenmerke is standaard toerusting vir die Corsa GSI. Benewens die lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier is daar ook kant- en gordynlugsakke. Elektroniese stabiliteit-beheer en wegtrek-hulp is ook standaard toerusting. Die Corsa GSI spog met ‘n pakket wat bestaan uit padteken-herkenning, baand-waal waarskuwing, ‘n botsings waarskuwing en ‘n volg-afstand monitor en daar is ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke.

Die prys van die Corsa GSI, wat in Mei beskikbaar sal wees, is R 365 900, wat ‘n waarborg en padbystand van drie jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 60 000 km insluit.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: