Aankondiging: 14 Junie

 

Die Williams Hunt-groep sal voortaan die Opel-reeks in Suid-Afrika bemark en versprei.

Die aankondiging by ‘n nuuskonferensie in Sandton op 14 Junie, volg nadat General Motors, die vervaardigers van onder andere Opel en Chevrolet, in Maart vanjaar aangekondig het dat hulle uit Suid-Afrika gaan onttrek. General Motors het hulle Opel-belang (Opel word in sommige lande Vauxhall genoem) aan die PSA-groep, die eienaars van Peugeot en Citroen, verkoop.  In Suid-Afrika het General Motors Suid-Afrika (GMSA) ook die Isuzu handelsvoertuie bemark en versprei, maar hierdie funksies sal voortaan deur die Isuzu-maatskappy self gedoen word.

Geen Chevrolets gaan meer in Suid-Afrika bemark word nie , maar omdat Opel nou nie meer aan GM behoort nie, was daar onsekerheid oor die voortbestaan van hierdie handelsmerk in Suid-Afrika.

Op ‘n stadium was Opel baie gewild in Suid-Afrika en alhoewel Opel-modelle gereeld verskeie internasionale toekennings verwerf het vir hulle tegnologie, ekonomie, kwaliteit en werkverrigting, het hulle verkope in Suid-Afrika gestagneer. Selfs die feit dat die Opel Astra bekroon is as die Wesbank Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar vir 2017, het nie veel gehelp met die plaaslike verkoopsyfers nie.

Ondanks die bom wat gebars het dat Opel nie meer deel van die GM-groep is nie, is daar darem nog steeds 265 Opels in Suid-Afrika in Mei verkoop.  Dit is die helfte minder as die verkope van Mei 2016. Hierdie swakker verkoopsyfer beteken egter nie dat Opel se dae in Suid-Afrika getel is nie. Die Fiat Groep het in Mei net 130 Fiats verkoop. Dit is egter genoeg getalle vir Fiat SA om steeds met besigheid ter plaatse voort te gaan. Dieselfde beginsel geld vir Opel.

Volgens mnr Bill Mott, Opel Internasionaal se direkteur van Verkope, sal die Williams Hunt-handelaars, alle waarborge en naverkoopdiens steeds in stand hou. Die William Hunt-groep se geskiedenis begin al van 1903 toe hulle in Suid-Afrika begin motors verkoop het. Hulle was nog altyd die grootste GM-handelaarsgroep in Suid-Afrika. Vanaf 1930 het Williams Hunt ook Opels begin verkoop.

Die huidige reeks van Opels, die ADAM, Corsa, Astra en Mokka sal steeds verkoop word en binne ‘n paar maande sal die Opel Crossland X ook plaaslik deur Williams Hunt geloods word.

Mnr Bill Mott, Opel Internasionaal se direkteur van Verkope, by die Opel Crossland X, wat binnekort in SA geloods gaan word.

Sien http://www.williamshunt.co.za/ asook http://motorplus.co.za/gmsa-maak-planne-vir-suid-afrika-bekend/ vir meer inligting.