Opel se mensekarweiers op pad na Suid-Afrika

0 Comments

Nadat die Opel Combo Cargo, die huidige Internasionale Paneelwa van die Jaar, onlangs in Suid-Afrika bekendgestel is, het dié Duitse vervaardiger aangekondig dat die passasiers-weergawe, die Combo Life, in die derde kwartaal van die jaar hier beskikbaar sal wees.

Die Combo Life is as die beste kopie op die Europese mark bekroon en tydens die geleentheid wat in die Belgiese hoofstad Brussel gehou is, het Opel se uitvoerende hoof, Michael Lohscheller, gesê dat dié nuweling kopers en die media ewe veel beïndruk het.  Die Combo Life is vol kenmerke wat sy veelsydigheid, gemak en veiligheid beklemtoon en volgens hom stel hy nuwe standaarde in sy marksegment.

Die Combo Life sal toegerus wees met ‘n turbo-aangejaade dieselenjin van 1,6 liter wat 68 kW en 230 Nm lewer, en volgens die vervaardiger is sy gemiddelde brandstofverbruik 5 liter per 100 km.

Opel se voortdurende strewe om voertuie van hoogstaande gehalte met ‘n hoë spesifikasievlak teen ‘n mededingende prys aan die Suid-Afrikaanse publiek beskikbaar te stel, word met die Combo Life onderstreep. Hy sal ‘n gevorderde IntelliLink-inligting-en-vermaakstelsel as standaard toerusting hê, asook spoed beheer. Die stampers, deur-handvatsels en buitespieëls sal dieselfde kleur as die bakwerk wees.  Die Combo Life sal vir voornemende kopers ‘n alternatief vir ‘n gewone passasiersmotor of ‘n sportnutsvoertuig bied.

Die huidige Opel-reeks bestaan uit die Adam, die Corsa, die Crossland X, die Astra, die Grandland X en die Combo Cargo. Benewens die Combo Life beplan Opel om ook die Vivaro Cargo, die Movano Cargo en die Zafira Life, ‘n mensekarweier wat groter as die Combo Life is, na Suid-Afrika te bring. Hierdie modelle sal tussen die tweede helfte van vanjaar en die eerste helfte van aanstaande jaar hier bekend gestel word.

Die prys en spesifikasievlak van die Combo Life sal eers bekend gemaak word wanneer hy in Suid-Afrika bekendgestel word.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: