Deur Daantjie Badenhorst

Hyundai het sy gewilde i20-reeks in Januarie 2017 uitgebrei met die bekendstelling van ‘n goedkoper model met ‘n outomatiese ratkas.

Hierdie model staan bekend as die i20 1.4 Motion outomaties en het dieselfde 1,4 liter Kappa-enjin as van die ander modelle in die i20-reeks. Hierdie 1,4-enjin lewer 74 kW teen 6 000 omwentelinge en het ‘n wringkrag van 133 Nm teen 3 500 omwentelinge. Hierdie model het ook dieselfde outomatiese ratkas as die luukser 1,4 Fluid.

Die Motion-modelle spog onder andere met ‘n handbeheerde lugversorger, afstandbeheerde sentrale sluiting, Bluetooth-verbinding, ‘n hoogteverstelbare bestuurdersitplek, USB- en AUX-vebinding vir die radio en CD-speler en beheerknoppies vir die klankstelsel op die stuurwiel.

 

Die i20 reeks

Die ander modelle in die i20-reeks is die 1,2 Motion en Fluid, albei met vyfgang-handratkaste, die 1,4 Fluid het ‘n keuse van ‘n sesgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met vier gange, en die 1,4 Sport het ‘n sesgang-handratkas.

Die huidige i20-reeks is in 2015 in Suid-Afrika bekendgestel en was tot dusver een van Hyundai se gewildste modelreekse in Suid-Afrika. Dié maatskappy is die vierde gewildste motorvervaardiger in die Suid-Afrika.

Die i20 se kenmerkende ontwerp is in Hyundai se ontwerpsentrum in Rüsselsheim in Duitsland geskep onder die invloed van die jongste vertolking van Hyundai se Fludic Sculpture 2,0-ontwerpfilosofie.  Die skoon lyne gee die i20 ‘n gesofistikeerde voorkoms. Die voorkant het ‘n opvallende voorkoms met veral die heksagonale sierrooster wat die aandag trek en die wydte van die motor beklemtoon.  Die i20 het ook ‘n swart C-pilaar wat om die agterkant vou, en die LED-agterligte het ‘n boemerang-voorkoms.  Die sleur-koëffisiënt is ‘n baie aerodinamiese 0,34.

Die agterklap maak wyd oop vir maksimum laaigerief en die bagasiebak hou 294 liter met die agtersitplekke regop. Met die sitplekke platgeslaan is daar 1010 liter pakplek beskikbaar. Die agtersitplekke in ‘n 60:40-verhouding verdeel.

Voorste insittendes kan kop- en beenruimte van onderskeidelik 1 027mm en 1 084mm geniet, terwyl die syfer vir die agterste insittendes onderskeidelik 968 en 813mm is. Dit beteken dat vyf mense gemaklik in die i20 kan sit.

Die i20 gebruik ‘n onafhanklike veerstelsel met Mc Pherson-stutte voor en ‘n semi-onafhanklike gekoppelde torsiestang-as agter.

Die hele i20-reeks het ABS-remme met elektroniese remverspreiding, met geventileerde skywe voor en soliede skywe agter.  Daarby het dit lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier en driepunt-sitplekgordels vir die meeste insittendes, met die uitsondering van die middelste een agter, wat met ‘n skootgordel toegerus is.

Die i20 1,4 Motion-outomaties kos R 249 900; dit sluit Hyundai se waarborg van sewe jaar of 200 000km in, asook ‘n diensplan van drie jaar of 60 000km en padbystand vir vyf jaar of 150 000km.

Pryse

i20 1.2 Motion (Handrat)        R224 900

i20 1.2 Fluid (Handrat)           R236 900

i20 1.4 Motion (Handrat)      R249 900

i20 1.4 Fluid (Handrat)           R256 900

i20 1.4 Fluid (Outomaties)        R274 900

i20 1.4 Sport (Handrat)         R292 900