Padindrukke: Audi Q8 55 TFSI Quattro Tiptronic

0 Comments

Audi was een van die laaste vervaardigers wat tot die segment vir sportnuts-koepees toegetree het.

Nog net een Audi Q8-model  is in April 2019 in Suid-Afrika bekendgestel; die 55 TFSI Quattro Tiptronic. Die 45 TDI-model sal in 2020 by die reeks gevoeg word. Die 55 T FSI se turbo-aangejaagde V6-enjin van drie liter lewer 250 kW teen 5 000 opm en het ‘n wringkrag van 500 Nm teen tussen 1 370 en 4 500 opm. Die Q8 kan binne  5,9 sekondes van 0 tot 100 km versnel en sy top-snelheid is elektronies beperk tot 250 km/h. Die kragbron is selfs meer doeltreffend as gevolg van die gebruik van ligte hibriede-tegnologie. Wanneer daar gerem word, kan 12 kW na die battery gevoer word; dit maak ook dat daar lank gery kan word deur die enjin te deaktiveer, asook ‘n stop-en-aansit stelsel wat by 22 km/h begin werk. Dit verminder brandstof verbruik met tot 0,7 liter per 100 km.

Die binnekant bestaan uit twee MMI-raakskerms; die boonste een vir die inligting-en-vermaakstelsel en die onderste een vir die klimaatbeheerstelsel. Die inligting-en-vermaakstelsel kan ook deur middel van stemopdragte beheer word. Die instrumentepaneel is ten volle digitaal en herinner aan die stuurkajuit van ‘n vliegtuig, met die inligting van die navigasiestelsel in die middel daarvan. Android Auto en Apple Car Play is standaardtoerusting en die Bang & Olufsen-klankstelsel bevat altesaam 23 luidsprekers.

Die prys van die 55 TFSI Quattro Tiptronic is R 1 388 000.

Opmerkings:

Sekerlik die stilste 3 liter enjin wat MotorPlus nog onder hande gehad het.

250 kW 500 Nm bied meer as genoeg krag om lekker gemaklik uit drukverkeer situasies te ontsnap. Hierdie hoeveelheid krag wat heeltyd beskikbaar is, is ‘n wonderlike ervaring vir die bestuurder wat bestuur geniet!

Soos ander SUV’s in hierdie klas is die Audi uiters ruim vir beide die bestuurder en passasiers.

Parkeerhulp met al die kamerabeelde van bo en van agter of selfs voor, was parkering aanvanklik oorweldigend met al die gepaardgaande alarms en gonsers.Daarna, sodra jy gewoond is wat is waar op watter beeld, is parkering in die smalste spasie kinderspeletjies.

‘n Groot pluspunt is die aanpasbare spoedbeheer-funksie. Om op die langpad en daarna in stadsverkeer met hierdie funksie aktief te bestuur, is om bloot die stuur te beheer. Die 55 TFSI stop letterlik self en begin so te sê self weer te ry sodra die voertuig voor jou weer wegtrek en handhaaf dan die spoed van die motor voor jou.

Wanneer jy vanuit ‘n parkeerplek agteruit beweeg en daar is aankomende verkeer van enige kant, stop die Q8 in sy spore; nogal skrikwekkend die eerste keer, want hy weier ‘n tree verder.

Verskillende funksies op die stuurwiel, asook op die beheerpaneel op die middelkonsole voor, is baie gebruikersvriendelik.

Van klankstelsel, navigasie, sitplekverwarmer en ook die lugreëlingstelsel is uiters gerieflik en gebruikersvriendelik.

Elektriese sitplek- sowel as stuurwielverstelling weerspieël verdere gerief.

let op dat die 55 TFSI groot is en redelik hoog om gemaklik in te klim.

Die langer bestuurder sal dit dalk gemaklik ervaar; lekker om weer half ‘n hoër uitkyk oor mede-padgebruikers te hê in soverre waar jy jou in verkeersituasies bevind (beslis nie om op ander neer te kyk nie).

Die blink swart afwerking van die voorpaneel waar al die funksies beheer word nie mag vir suid-Afrikaners problematies wees. Dit weerkaats heelwat in die dag en dit wys al die vingermerke, ek moet byvoeg slegs sigbaar wanneer alles afgeskakel is.

Brandstof verbruik effe aan die swaar kant; 15+ liter/100km.

Maar jy koop nie so ‘n voertuig met al sy luukse pluspunte en lekker krag om brandstofbesparing van 20 km/liter te probeer bereik nie.

Ons het ook gevind dat daar nie ‘n waarskuwing tydens die rit is wat aandui dat ‘n deur nie heeltemal toe is nie. Ons het dit egter agtergekom toe ek spoedbeheer wou aktiveer – geen reaksie indien ‘n deur halftoe is nie L

Daar is seer sekerlik nog baie positiewe aspekte wat mens kan noem, maar in geheel, absolute genot, bestuur en alles wat daarmee gepaardgaan.

Mededingers

Twee van die Q8 se mededingers, die Mercedes-Benz GLE-koepee en die BMW X6, staan op die punt om vervang te word. Die bekendstellingsdatum van albei hierdie modelle is nog nie amptelik bevestig nie en volgens die onderskeie vervaardigers se webtuistes kan voornemende kopers hul inligting gee om op hoogte van sake te bly. Die een mededinger wat wel op die oomblik beskikbaar is, is die Porsche Cayenne Coupé Turbo. Die Cayenne se drieliterenjin lewer so te sê dieselfde krag as dié van die Audi, naamlik 250 kW teen 5 300 opm en wringkrag van 450 Nm teen 1 350 opm. Jaguar Land Rover stoot sommer twee modelreekse in die veld om teen die Q8 mee te ding, selfs al het hulle nie noodwendig koepee-stilering nie, is hulle gemik op die geedsriftige wat op soek is na veldryvermoë en werkverrigting, maar ook iets wil hê wat nie soos ‘n konvensionele sportnutsvoertuig lyk nie. Die Range Rover Sport SE P 360 is die model wat prysgewys teen die Q8 meeding; sy turbo-petrol V6-enjin van drie liter lewer  265 kW teen 5 500 opm en ‘n wringkrag van 450 Nm teen 2 000 opm. Sy Jaguar-stalmaat is die F-Pace 35t AWD S, wat met ‘n kragtiger weergawe van die Range Rover Sport se enjin toegerus is. In die F-Pace lewer dit 280 kW teen 6 500 opm  en 450 Nm teen 4 500 opm. Die pryse van die Range Rover Sport en die F-Pace se pryse is onderskeidelik R 1 283 165 en R 1 312 359.

Die MotorPlus toetsspan bestaan uit Gerrie Smit, Daantjie Badenhorst en Charles Smith.
Categories:
%d bloggers like this: