Vroeër jare het BMW se gewilde kompakte gesinsverrigtingsmotors uit  een modelreekse bestaan, naamlik die 3-reeks, wat in ‘n sedan, ‘n koepee, ‘n afslaankap en vir ‘n kort rukkie, ook ‘n stasiewa en ‘n driedeur-luikrug beskikbaar was.

Laasgenoemde twee modelle is in Suid-Afrika aan die mark ontrek ten koste van onderskeidelik die X3 en die 1-reeks, maar die koepee en afslaankap het ‘n nuwe identiteit gekry en staan nou as die 4-reeks bekend.  Daarby is ‘n nuwe weergawe van die 4-reeks bekendgestel. Die Gran Coupé is ‘n vyfdeurkoepee met ‘n agterste luikrug en pliaarlose vensters. MotorPlus het die intreemodel in die Gran Coupé-reeks, die 420i in Kaapstad getoets.

Die 420i is so stylvol dat dit ‘n mens se asem heeltemal weggeslaan. Die turkoois verfkleur, bekend as Snapper Rocks Blue,  was iets baie besonders en het die motor ‘n sportiewe maar deftige voorkoms gegee. Die M Sport-pakket het verder tot die sportiwiteit bygedra. Die binnekant is in swart afgewerk en het koolveselagtige stroke op die paneelbord en in die deure gehad. Vanuit ‘n praktiese oogpunt is daar net een ernstige punt van kritiek wat genoem moet word, naamlik die feit dat ‘n agterste ruitveër in  sy afwesigheid skitter. Ter versagting moet ‘n mens byvoeg dat sy vernaamste teenstander, die Audi A5 Sportback, ook nie een het nie, en ook nie die ander BMW-luikrug in hierdie klas, die 3-reeks GT nie.

Aan die binnekant kan ‘n mens dadelik agterkom dat die Gran Coupé ‘n sportiewe motor is aangesien jy  baie laag in hom sit. Vir die meeste mense is dit aanvaarbaar, maar ouer mense sal dalk sukkel om in en uit te klim. Daar is oorgenoeg beenruimte voor en agter, maar agterste kopruimte is dalk ‘n probleem vir langer mense. Die bagasiebak is verrassend groot, en die bagasie van ‘n gesin van vier sal maklik inpas. Soos wat ‘n mens kan verwag, is die Gran Coupé baie goed toegerus, en die meeste kenmerke wat ‘n mens in ‘n motor verwag, is standaardtoerusting, alhoewel ‘n mens natuurlik verskeie bykomstighede kan byvoeg as jy die geld daarvoor en die behoefte daaraan het. Die instrumentepaneel is maklik om te lees, maar hoewel hierdie modelreeks beskikbaar is met ‘n  digitale instrumentepaneel, wat volgens die bestuurder se behoeftes aangepas kan word, was die toetsmotor nie daarmee toegerus nie.. Dit is geen probleem nie want daar is weinig fout met diie gewone instrumentepaneel. Daar is egter een punt van kritiek. Die M Sport-pakket sluit ‘n kleiner leerstuurwiel in. Gelukkig sit nie jy nie daarmee tussen jou bene as jy die stuurkolom laag verstel nie, maar dit is nodig om dit te doen, anders kan jy nie die afstandmeter en die inligting van die ritrekenaar maklik sien nie omdat dit so laag geplaas is.

Die 420i is dalk die intreemodel in die reeks, maar ‘n mens sal ‘n fout maak as jy hom onderskat. Die turboaangejaagde tweeliterenjin met vier silinders is in die toetsmotor gekoppel met die Sport Steptronic-outomatiese ratkas met agt gange. Dit is sonder twyfel die beste keuse vir ‘n BMW; in  die verkeer los jy hom dat hy self oorskakel maar op die oop pad kies jy die handratfunksie en jy wissel ratte sonder ‘n koppelaar maar met die handratfunksie. Die ratkieser of die spane agter die stuurwiel kan vir hierdie doel gebruik word.

Die gemiddelde brandstofverbruik van die toetsmotor was 8,0 liter per 100 km. Glad nie sleg vir ‘n motor in hierdie klas nie. Die 420i se enjin lewer 135 kw teen 5 000 opm en lewer ‘n wringkrag van 270 Nm tussen 1 350 en 4 600 opm. Dit is heeltemal voldoende om jou self te laat geld op die oop pad.

Die prys van die 420i Gran Coupé M Sport is R 669 400, maar die toetsmotor was ook toegerus met ‘n paar opsionele ekstras soos ‘n elektriese sondak en ‘n geriefspakket wat ‘n tru-kamera, ‘n sitplek wat in drie dele verdeel is en parkeersensors insluit en R 12 500 kos. Dit kon maar net so wel standaardtoerusting gewees het.

Hierdie model se vernaamste mededinger is die Audi A 5 2,0 T Sportback S-Line, en sy prys begin by R 655 200,  sonder opsionele ekstras. Mercedes-Benz het tot dusver nog nie ‘n mededinger in hierdie marksegment bekendgestel nie en die enigste ander motor wat met hierdie twee modelle vergelyk kan word, is die verwagte Kia Stinger GT, maar ‘n besluit oor sy moontlike bekendstelling in Suid-Afrika moet nog geneem word. Sommige mense sal ook heel logies redeneer dat sportnutsvoertuie soos die X3 xDrive 20i M Sport ook oorweeg behoort te word; hierdie model se prys is R 690 600 met die outomatiese ratkas.

Op die ou einde moet ‘n mens ‘n leefstylbesluit neem en hang jou keuse af van die doel waarvoor die motor gebruik word. Voornemende kopers moet ook onthou dat die nuwe X3 binnekort hier bekendgestel sal word.

Die 4-reeks Gran Coupé is een van die begeerlikste modelle in BMW se reeks, en ‘n mens het regtig nie ‘n groter model as die 420i nodig nie. Die ander alternatief is natuurlik die 420d, maar die keuse tussen ‘n petrol-of dieselenjin is ‘n kwessie van persoonlike smaak. Die Gran Coupé is mooi genoeg om aandag te trek, sportief genoeg vir die motorgeesdriftige en veelsydig genoeg om as gesinsmotor gebruik te kan word. Enige welgestelde gesinsmotoris wat van ‘n opvallende motor hou en ook nog ‘n motorliefhebber is, kan maklik op die 420i Gran Coupé verlief raak!