Padindrukke: Ford Figo 1,5 TiVCT Blu

0 Comments

Dit is al jare lank ‘n tradisie by motor-vervaardigers om beperkte weergawes van sekere modelle bekend te stel, en vroeër vanjaar het Ford besluit om so ‘n beperkte model, die Ford Figo Blu, by sy Figo-reeks te voeg.

Die Figo Blu is ‘n beperkte model wat op die Trend-luikrug, die middelste spesifikasie-vlak, gebaseer is en net 360 eenhede is beskikbaar. 

Die Figo is beskikbaar met drie spesifikasie-vlakke, twee bakvorms en twee ratkaste. Die Ambiente is die intreemodel en beskik oor standaard-kenmerke soos elektriese buitespieëls, wat ongelukkig te klein is, elektriese vensters voor , sentrale sluiting met deure wat outomaties sluit sodra die voertuig wegtrek en ‘n ritrekenaar. Die Trend, waarop die Blu gebaseer is, voeg elektriese vensters agter by, asook ‘n toereteller met ‘n ratwyser, ‘n agterruit-verwarmer, wat ook standaard toerusting op die Ambiente behoort te wees, spieëls vir albei sonskerms, ‘n 12-volt-kragpunt, afstand-beheerde sentrale sluiting, verdeelde agter-sitplekke wat kan platslaan en 14-duim  allooiwiele.

Die Titanium se bykomende kenmerke sluit ‘n trukamera, ‘n SYNC 3-inligting-en-vermaak-stelsel met stembeheer, klimaat beheer en outomatiese kopligte in. Die Ambiente en Trend is as ‘n sedan en ‘n luikrug beskikbaar en ‘n outomatiese ratkas is vir die Trend-luikrug beskikbaar. Die Blu spog met ‘n aantal stilerings-kenmerke wat hom van die Trend onderskei. Die allooi-wiele van 15 duim is in swart afgewerk, asook die buitspieëls, die sierrooster en die dak. Daar is blou insetsels om die voorste milsigte, kantstrepe en ‘n Blu-kenteken op die agterklap. Aan die binnekant is daar blou stroke op die voorste armleunings en die Blu-naam is in die voorste sitplekke se rugleunings geborduur. Daar is net drie kleure beskikbaar, naamlik wit (soos op die toetsvoertuig), silwer en grys. 

Onder die enjinkap is dieselfde 1,5 liter-enjin met drie silinders wat bekendgestel is toe die Figo verlede jaar groot veranderinge ondergaan het. Hierdie enjin lewer 88 kW teen 6 300 opm en wringkrag van 150 Nm teen 4 250 opm. Sommige mededingers word met turbo-aanjaers toegerus maar Ford het dié versoeking vir die Figo weerstaan. Die Figo se enjin het oorgenoeg wringkrag en werk-verrigting en indien die eenliter Eco Boost-enjin van die Fiesta gebruik sou word, sou hy natuurlik heelwat duurder wees. Die drie-silinder-enjinklank is iets waaroor motorlief-hebbers natuurlik opgewonde kan raak en aangesien die Figo die langste diensplan in sy klas is, sal onderhouds-kostes ook redelik laag wees. Die gemiddelde brandstof verbruik wat ons behaal het, het gewissel tussen 13,7 en 14,1 kilometer per liter, dit beteken dat ‘n reikafstand van ongeveer 590 km moontlik is met die 42 liter brandstof-tenk.

Die binneruim is goed toegerus, hoewel ‘n mens sekere standaard kenmerke van die Titanium, veral die SYNC 3-stelsel en die trukamera mis. Interessant genoeg beskik die instrumente-paneel nie oor ‘n temperatuur-meter nie; dit kan later in die motor se lewe ‘n probleem wees. Die Figo is ook glad nie met beheer-knoppies op die stuurwiel beskikbaar nie, maar dis maklik om die kontroles vir die radio en die telefoon te gebruik. Dit is ook maklik om Bluetooth in te stel.  Ford verdien volpunte vir die manier waarop ‘n mens toegang tot die funksies van die ritrekenaar kan kry. In die ou dae het ‘n mens die punt van die beheerstokkie van die flikkerligte gedruk vir die toeter; met die Figo kan jy die verskillende funksies van die ritrekenaar, wat onder meer die onmiddellike en gemiddelde brandstofverbruik en die afstand wat nog afgelê kan word met die brandstof wat nog in die motor se tenk is asook die buite-temperatuur, kies.

Die USB-kragpunt is binne-in ‘n klein kompartement met ‘n deksel bokant die middelkonsole geplaas. Die gedagte is dat ‘n foon horisontaal staan gemaak kan word deur die deksel gedeeltelik toe te maak.

‘n Kritiekpunt van die Figo-reeks wat weer met die Figo Blu-toetsmodel na vore gekom het is die relatiewe klein kantspieëls. Dit is duidelik gemik om esteties met die res van die Figo se ontwerp aan te pas, maar die die spieël-gedeelte is te klein om voorwerpe langs die kant te sien.

Die Figo is een van die min motors wat groot genoeg vir die B-segment is maar teen die prys van mededingers in die A-segment. Daar is regtig net vier ander motors wat in dieselfde kategorie val, naamlik die Toyota Etios, die VW Polo Vivo, die Renault Sandero en miskien die Suzuki Swift. Aangesien die Blu op die Trend gebaseer is, moet ‘n mens na dié model se mededingers kyk.  Nugter weet hoe Suzuki dit reggekry het om die Swift GLX se prys op R 199 900 te hou, aangesien sy spesifikasie-vlak uitstekend is. Aan die ander kant moet ‘n mens onthou dat die Swift met ‘n 1,2 liter enjin toegerus is. Die Baleno GL se prys is R 209 900. Die VW Polo Vivo is Suid-Afrika se topverkoper op die oomblik, en die prys van die 1,4 Comfortline, dalk die beste kopie in die reeks, is R 206 800. Dan is ‘n diensplan,wat standaard vir die Figo is, opsioneel; dis tyd dat VW wakker skrik.  Die Toyota Etios Sprint-luikrug se prys is R 189 900; sy diensplan is geldig vir drie versienings of 30 000 km. Die Renault Sandero wat teen die Figo Trend meeding, is die Expression, teen R 189 900, wat ‘n baie goeie waarborg en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km insluit. Aan die ander kant is sy klein turbo-aangejaagde enjin nie vir almal ‘n voordeel nie. 

Die Figo Blu se prys is R 203 8000, net R 2000 meer as die Trend; dit sluit ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km in. As ‘n mens kyk na die bykomende kenmerke waarmee die Blu toegerus is, lyk dit na goeie waarde vir geld, veral as die Titanium dalk net te duur is. Daar is egter ‘n potensiële probleem vanuit ‘n praktiese oogpunt: wat gebeur as jy dalk in ‘n botsing beland en bakpanele moet vervang? Aan die ander kant is dit die geval met alle beperkte uitgawes van bestaande motors. As jy bereid is om daardie risiko te loop, is die Blu ‘n beter kopie as die Trend, tensy jy spesifiek ‘n sedan nodig het. Die unieke stilerings-kenmerke is treffend maar nie uitspattig nie en veral vir jonger kopers is die Blu meer aantreklik as die Trend. Miskien kan voornemende kopers die maatskappy oorreed om nog ‘n besending Figo Blu’s beskikbaar te stel.

Categories:
%d bloggers like this: