Deur Daantjie Badenhorst.

In 2007 het Great Wall Motors (GWM) die eerste Chinese motorvervaardiger geword wat tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree het. Terwyl ander Chinese vervaardigers, soos Fudi, Soyat, Meiya, Gonow, Foton gefaal het om die Suid-Afrikaanse bakkie-kopers te beïndruk het die GWM se Steed-bakkiereeks stadigaan sy merk gemaak.

Die oorspronklike Steed het ‘n effens eienaardige voorkant gehad, maar hy het die potensiaal gehad om met die gevestigde name in die bedryf saam te gesels. Intussen het die Steed-reeks uitgebrei, en daar is nou drie verskillende reeks wat onder dié naam bemark word, naamlik die Steed 5, die Steed 5E en die Steed 6.

Die GWM Steed 5 2,2 MPI SX Dubbelkajuit is die goedkoopste dubbelkajuitbakkie op die Suid-Afrikaanse mark. Daar is twee modelle met die 2,2 liter-enjin beskikbaar, naamlik die standaardmodel en die SX, die onderwerp van hierdie toets. Die enjin waarmee hierdie modelle toegerus is, is dieselfde as dié wat die GWM-bakkies nog altyd in Suid-Afrika gehad het.

Die enjinkapasiteit is 2237 cc, presies dieselfde as die Toyota-enjin en die veelpunt-brandstofinspuiting maak kraglewering van 73 kW teen 4 450 opm en wringkrag van 180 Nm teen 2 400 opm moontlik. Die ander enjinkeuse is ‘n turbodieselenjin van twee liter met kraglewering van 105 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 305 Nm teen 1 800 opm.

Die buitestilering van die Steed 5 verklap glad nie die feit dat dit eintlik ‘n werkesel is nie, en die allooiwiele van 15 duim maak ‘n groot verskil aan sy voorkoms selfs al lyk die staalwiele van die intreemodel nie sleg nie. Eintlik is wiele van 15 duim besonder klein vir ‘n bakkie van hierdie grootte, maar dit maak dat bande nie so duur sal wees nie. Die 215/75 R 15-bande kom van ‘n vervaardiger wat ons nog nooit tevore teëgekom het nie, naamlik Giti. Die elektries verstelbare buitespieëls, ‘n verrassing teen hierdie prys, is in chroom afgewerk en ‘n agterste stamper is in dieselfde kleur as die bakwerk afgewerk.  Onder die ander kenmerke wat die SX van die intreemodel onderskei, is elektiese vensters voor en agter (pleks van net voor), ‘n verhitbare agterruit, twee lugsakke en ABS-remme. Suid-Afrikaanse motorvervaardigers en -invoerders moet wetlik verplig word om laasgenoemde twee kenmerke standaardtoerusting vir al hul modelle te maak.

In die verlede was werkesel-bakkies, onder meer dubbelkajuite, nie juis baie goed toegerus nie. Sommige van hulle het, nie te lank gelede nie, nog banksitplekke voor, handremme onder die paneelbord en vinielbekleedsel gehad. Daarom was die Steed 5 se toerustingsvlak ‘n openbaring. Benewens die elektries verstelbare buitespieëls is daar ook elektriese vensters, sentrale sluiting met deure wat sluit sodra die voertuig wegtrek, lugversorging en ‘n radio met ‘n CD-speler alles standaardtoerusting. Die lugdraad is bokant die bestuurder se deur gemonteer, en dit is uiters onprakties vir ‘n werksvoertuig. Die een van die toetsvoertuig het afgebreek en daarom is dit nie moontlik om ‘n oordeel oor die gehalte van die radio uit te spreek nie. Afstandbeheer vir die sentrale sluitstelsel is egter te veel gevra en die deure kan ook net van die bestuurder se deur af oop- en toegesluit word. Bluetooth-verbinding is ook afwesig; dit is lank al nie meer ‘n weeldekenmerk nie, selfs vir ‘n werksvoertuig. Die rede is dat sulke bakkies soms vir stedelike aflewerings gebruik word; die werkgewer en sy drywers moet dalk gereeld kontak behou terwyl die voertuig op die pad is en daarom kan ‘n drywer nie met die selfoon teen die oor bestuur nie. Die Steed 5 is nie so ruim soos sommige ander dubbelkajuite nie maar daar is genoeg plek vir vyf mense.

Die ritgehalte van die Steed 5 is dalk nie heeltemal so goed soos dié van sy mededingers nie. Dit is weliswaar nie so stamperig soos sommige bakkies van omtrent dertig jaar gelede nie, maar jy besef tog dat dit nie veronderstel is om ‘n luukse voertuig te wees nie. Dit behoort egter nie eintlik vir die teikenmark saak te maak nie. Gelukkig is sy draaisirkel nie so groot nie; hy hanteer eintlik maklik in die stad en hy is ook nie moeilik om te parkeer nie. Hoewel ‘n trukamera welkom sou wees, is dit nie so ‘n groot probleem as wat ‘n mens sou dink nie. Die ratwisseling is maklik en daar is byna geen vibrasie deur die rathefboom nie. Aangesien die Steed 5 nie ‘n ritrekenaar het nie, was dit nie moontlik om vas te stel wat sy gemiddelde brandstofverbruik is nie, maar daar word gesê dat dit ongeveer 9,8 liter per 100 km is. Die brandstoftenk hou 70 liter en dit maak ‘n reikafstand van net meer as 700 km moontlik.

Die prys van die Steed 5 2,2 MPI SX is R 202 400, en daarom is dit een van die min voertuie op die plaaslike mark wat geen regstreekse mededingers het nie. Ja, die Mahindra Bolero-dubbelkajuit kos R 211 995 maar dan het hy ‘n turbodieselenjin en hy kan, om verskeie redes nie met die Steed 5 saamgesels nie. Die Bolero is, in vergelyking, onafgewerk en onverfynd, en jy sal hom regtig vir geen ander doeleindes as harde werk kan gebruik nie. As jy ‘n veelsydige Mahindra-bakkie wil hê, moet jy liewer na die heelwat duurder, maar uiters indrukwekkende, Pik-up kyk. Om die Steed 5 se prys in perspektief te stel; vir dieselfde prys kan ‘n mens ‘n motor soos ‘n VW Polo Vivo 1,6 Comfortline, ‘n Hyundai i 20 1,2 Motion, ‘n Nissan Micra Visia of ‘n Renault Clio Authentique koop.

Die ander vraag is natuurlik of ‘n gebruikte bakkie soos ‘n Toyota Hilux, Isuzu KB of selfs ‘n Nissan NP 300 Hardbody nie dalk ‘n beter kopie is nie. Die eenvoudige antwoord is nee; tensy jy die geskiedenis van die bakkie waarin jy belangstel, baie goed ken, is dit ‘n enorme risiko en jy sal nie volle voordeel uit ‘n waarborg of ‘n moontlike diensplan kan trek nie.

Daar is ook diegene wat sal wonder of ‘n bakkie soos die Steed 5 nie eerder sin maak as ‘n enkelkajuit nie. Dit hang af van die doel waarvoor jy hom gaan gebruik. As jy maksimum laairuimte nodig het en die bakkie op ‘n plaas, ‘n bouperseel of in enige ander beperkte omgewing gaan gebruik, kan jy na die Steed 5 Workhorse, die enkelkajuitmodel, kyk. In stedelike gebiede is dit egter ‘n ander saak. Die vervoer van mense agter op ‘n bakkie se laaibak behoort ‘n strafbare oortreding te wees aangesien hulle nie vasgegordel kan word nie en van die bak af sal val of ernstig beseer sal word as daar ‘n ongeluk sou plaasvind. Die dubbelkajuit maak dit moontlik om vyf mense in veiligheid te vervoer, aangesien daar sitplekgordels vir alle insittendes is. Dan moet voornemende kopers ook besluit of hulle ‘n petrol- of dieselenjin verkies. Die toetsmodel se petrolenjin lewer genoeg krag en werkverrigting, maar die turbodiesel is dalk net soveel beter. Nie net lewer hy baie meer wringkrag nie; sy brandstofverbruik is baie laer. Mits hy reg onderhou word, is hy ook tot honderde duisende kilometre in staat. Die Steed 5 word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000km terwyl ‘n diensplan van vyf jaar of 60 000km teen ekstra koste beskikbaar is. Die prys van hierdie bakkie is so laag dat jy maar daarvoor kan begroot indien jy in hom belangstel.

Die Steed 5 is ‘n bewys dat werkesel-bakkies baie meer gevorderd is as ‘n paar jaar gelede. Die toetsvoertuig is toegerus met die meeste belangrike veiligheidskenmerke en daarom is die afwesigheid van Bluetooth ‘n probleem. Diegene wat ‘n bakkie bo ‘n motor verkies en nie ‘n duurder een kan bekostig nie, kan hom gerus oorweeg, mits hulle bereid is om sekere opofferings te maak en sonder sommige kernmerke kan klaarkom. Indien nie, moet ‘n mens liewer die Steed 5E oorweeg teen ‘n prys wat nie veel hoër is nie, of langer wag om jou droom om ‘n dubbelkajuit te besit, te bewaarheid.

Toetsvoertuig is goedgunstelik deur CMH Haval Silver Lakes beskikbaar gestel.

 

%d bloggers like this: